ADVERTISEMENT:
Wyle oom Broer Jongbloed (79). Foto verskaf.
Date: 08 November 2024 By: Andries van Zyl
Nog een van die Soutpansberg se groot bome het die afgelope week geval met die hartseer nuus van die dood van die 79-jarige oom Broer Jongbloed van Louis Trichardt. Hy is op 30 Oktober oorlede ná ‘n wekelange stryd teen kanker.
Oom Broer se vrou van 47 jaar, tannie Alida, vind vertroosting daarin dat oom Broer sy laaste oomblikke saam met hulle, omring deur mense, kon spandeer. “Dit is hoe hy dit sou wou gehad het, met mense om hom. Hy was ‘n mense mens gewees,” het Alida Dinsdag gesê.
Oom Broer het vroeër vanjaar van erge rugpyn begin kla. Middel Julie is hy opgeneem in die Unitas Hospitaal in Centurion vir toetse. Die prognose was nie goed nie. Medici het oom Broer met uiters aggressiewe Graad 4 pankreaskanker gediagnoseer, wat reeds begin versprei het.
In ‘n mate het oom Broer dalk geweet die prognose in Pretoria gaan nie goed wees nie. “Voordat ons gery het, het hy deur die hele dorp gery en almal gaan groet. Met mense wie hy ‘struweling’ gehad het, het hy gaan regmaak. Hy het geweet,” het tannie Alida gesê.
Oom Broer se gesondheid het die laaste paar weke vinnig verswak. “Hy het ongelooflik pyn gehad. Die morfien-plakkers het nie gehelp nie,” het tannie Alida gesê.
Verlede week Woensdag het al tannie Alida se vriendinne, soos elke Woensdag, weer vir haar gaan kuier, want sy werk nie Woensdae nie. Ook daar was vriendin suster Maja de Lange. In ‘n stadium het Maja saam met Alida by oom Broer gaan inloer.
“Maja het hom aan sy een hand gevat en ek aan die ander hand. Sy het vir hom gesê: ‘Broer, hierdie ou liggaam van jou wil nie meer hier wees nie. Jy het te veel pyn. Jy moenie bekommerd wees oor Alida nie, ons gaan maar na mekaar kyk. Jy kan gaan. Wees rustig,’” het tannie Alida gesê. So ‘n rukkie later het Ella Goussard, wat gehelp het met oom Broer se versorging, daar aangekom met ‘n morfien-spuit. “Ek het vir Maja gevra om saam met Ella te stap vir die spuit want ek wil nie die spuit sien nie ... Hulle twee het ingeloop en ek het agter hulle aangeloop. In die kamer het hulle omgedraai en vir my gesê hy is weg,” het ‘n hartseer tannie Alida gesê.
Te midde van die hartseer onthou tannie Alida vir oom Broer met ‘n groot glimlag. Hy was ‘n regte terggees gewees. “Hy het altyd grappies gemaak of iemand ‘n poets gebak. As hy sy sin begin het met ‘Hoor hier’ kon jy weet daar kom nou ‘n storie ... hy het die lewe geniet,” onthou tannie Alida.
So het tannie Alida ook teruggedink aan oom Broer se lewensgeskiedenis. Sy het gelag en gesê dat hy altyd, as sy hom gevra het waar is hy gebore, gesê hy weet nie. Maar oom Broer is weliswaar op 23 Oktober 1945 as Theymen (alhoewel net sy familie en skoolvriende hom so geken het) Jongbloed in die Soekmekaar-omgewing gebore, waar hy naby Daviesville grootgeword het. Later jare voltooi hy sy skoolloopbaan aan Hoërskool Tom Naudé en ná sy weermagdiensplig het hy sy loopbaan as motorwerktuigkundige begin.
Die jong Broer sou sy vakleerlingskap begin by “Gene” Lemmer se werkswinkel, naby waar Fire Fly vandag is in Louis Trichardt. Dit was in die laat 1960’s. Daarna was hy ‘n rukkie werksaam by die bekende Alderson & Flitton, die destydse General Motors-agentskap in Kroghstraat. Toe hy daar weg is, was hy en Steve Krügel saam by Mikropas betrokke, waarna die twee saam die BMW-agentskap, Bavaria Motors, gehad het. “Broer was die eerste persoon in Louis Trichardt om ‘n BMW te ry,” onthou tannie Alida.
In 1982/83 het Broer egter weggebreek van Bavaria Motors en sy eie besigheid, TAJ Motors (Theymen Alida Jongbloed), begin. Hy sou die besigheid tot sy dood vanaf sy huis op Louis Trichardt bedryf. “Hy wou nog werk, maar hy kon nie,” het Alida gesê
Tydens sy werksaamhede by Alderson & Flitton het oom Broer sy toekomstige vrou, tannie Alida, ontmoet. Dit was in die vroeë 70’er jare, met die paartjie wat op 3 September 1977 vanuit die Hervormde Kerk op Louis Trichardt in die huwelik bevestig is. Drie seuns, Anton, Jaco (wat as baba oorlede is) en Theyman is uit die huwelik gebore.
Ná 47 jaar van getroude lewe en saamwees, los oom Broer se dood ‘n sigbare leemte in tannieAlida se hart en lewe, en so ook in sy kinders se lewe. “Ons het mekaar verstaan en was die grootste van maats gewees. Elkeen van ons het ons ding gedoen, sonder om die ander een te na te kom. Hy was ‘n liefdevolle man en hy het altyd moeite gedoen met alles,” het tannie Alida gesê.
Oom Broer se omgee het ook uitgekring na ander. “Hy was ‘n mens wat altyd ander wou help. Hy was altyd besig en hy kon altyd planne maak. ‘n Ledige mens was hy nie,” het tannie Alida gesê.
Wyle oom Broer se begrafnisdiens het Woensdag vanuit die Hervormde Kerk op Louis Trichardt plaasgevind. Die diens is behartig deur dr. Philip Venter. Hy word oorleef deur sy vrou, twee seuns en Anton se vrou Carmela.
Tannie Alida het haar dank uitgespreek teenoor almal wat haar bygestaan het en steeds bystaan in haar en die familie se tyd van hartseer. Dank het gegaan aan haar kinders, Riana Smit vir haar deurlopende omgee, haar vriendinne Adda Joubert, Hendrien Bezuidenhout, Ria Marallich en Rika Swanepoel, wat die oggend daar was, suster Maja de Lange wat die laaste oomblikke saam met tannie Alida en oom Broer kon wees om vertroosting te gee, Ella Goussard vir die liefdevolle hulp met oom Broer se versorging, drs. Emil Gaigher en Fred Badenhorst, Rencia Volschenk, dr. Philip Venter en ds. Ronel Eckard vir die bystand met die begrafnis en Leon Koen, wat altyd op kort kennisgewing kom help het. Tannie Alida het ook ‘n spesiale woord van dank gerig aan die Premjee-familie en die hele Indiër-gemeenskap van Louis Trichardt, met wie oom Broer ‘n baie spesiale band gehad het.
“As familie koester ons die mooi herinneringe. Hy was altyd net goed vir my, die kinders - weliswaar enige iemand. Maar ek is bly hy is van sy pyn verlos,” het tannie Alida gesê.
Viewed: 373
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
Leach Printers, founded by Charles and Bev Leach in 1984, grew from a small operation with one second-hand machine to a thriving business offering diverse printing services. Now led by Greg and Hazel, the company embraces technology and innovation, celebrating 40 years of success through community support and a dedicated team.
ADVERTISEMENT