ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Die 18-jarige Byeron Herbst kort nadat hy ná sy ongeluk op 26 Oktober in die hospitaal opgeneem is. Foto verskaf.

Agtienjarige Byeron reageer goed op behandeling

Date: 07 November 2024 By: Andries van Zyl

Die 18-jarige Byeron Herbst wat Saterdagaand, 26 Oktober, ernstig beseer is tydens ‘n motorongeluk op Louis Trichardt toon goeie tekens van herstel waar hy teen Woensdag hierdie week nog in die staatshospitaal in Mokopane aangesterk het.

Byeron is kort ná die ongeluk in Industriastraat in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gestabiliseer, waarna hy die volgende dag na die intensiewe-eenheid van die provinsiale hospitaal in Polokwane oorgeplaas is. Weens ‘n erge kopbeserings en swelling van die brein is hy in ‘n geïnduseerde koma geplaas. Weens ‘n tekort aan beddens in die intensiewe-eenheid in Polokwane is Byeron toe oorgeplaas na die staatshospitaal in Mokopane, steeds in ‘n geïnduseerde koma. Byeron se 13-jarige boetie Blayton is ook in die ongeluk beseer maar het gelukkig nie hospitalisasie nodig gehad nie.

Verlede Donderdag het medici stadig begin om Byeron se verdowing te verminder om hom uit sy geïnduseerde koma te haal.

“Saterdag het hy skielik bygekom. Hy was baie deurmekaar en verward en hulle moes hom verdoof om hom te kalmeer,” het Byeron se stiefpa, Bryan Nel, Maandag gesê.

Alhoewel Byeron teen daardie tyd nog gesukkel het om te praat, was die goeie nuus dat hy blykbaar geen permanent breinskade opgedoen het nie. Sy verstand was helderder en sy oë het beweeg. “Daar was swelling van die brein, maar hulle sê hy sal ten volle herstel. Dit sal egter tyd vat en hy sal fisioterapie nodig hê,” het Bryan gesê. Wat laasgenoemde betref, het Bryan gesê, is die linkerkant van Byeron se liggaam heel beweeglik. Hy kan die regterkant van sy liggaam ook beweeg, maar nie sy regterarm nie, slegs sy hand.

Byeron en Blayton is beseer nadat die voertuig waarin hulle gery het, gerol het. Die bestuurder van die opgeboude jeep, die 32-jarige Stephan Wilders, het die Herbst-broers blykbaar ‘n rygeleentheid huis toe gegee.

Die ongeluk het baie vrae tot gevolg gehad, onder meer hoekom die polisie nie na die toneel ontbied is nie en waarom die voertuig so vinnig ná die ongeluk van die toneel verwyder is. Wilders het ook nie die ongeluk binne 24 uur aangemeld nie, maar eers Maandagmiddag, 28 Oktober, ná druk vanaf Byeron se familie. Volgens Wilders kon hy nie vroeër die ongeluk aanmeld nie, aangesien hy die Sondag ná die ongeluk self nog aangesterk het. Wat die omstandighede betref wat aanleiding gegee het tot die ongeluk, het die polisie op Louis Trichardt die publiek versoek om na vore te kom met inligting wat hulle in hulle ondersoek van roekelose of nalatige bestuur kan help. Die ondersoekbeampte in die saak is speursersant Mavhungu Tshifhiwa by tel. (076) 424-7659.

“Ons gaan nie hierdie storie hier los nie,” het Bryan gesê.

“Dit gaan baie beter met Byeron. Hy reageer goed om behandeling. Hulle sê hy sukkel net om sy oë oop te hou en om te praat,” het Byeron se ma, Janine, Dinsdag gesê. Volgens haar is Byeron dieselfde dag vanuit die intensiewe sorgeenheid na ‘n gewone saal geskuif vir twee dae van observasie. “As alles goed verloop en hy aanhou sterker word, kan hulle hom dalk nou Vrydag of Saterdag terugplaas na Louis Trichardt,” het Janine gesê. “Ons hou duim vas en bly aan bid dat alles goed sal gaan,” het sy bygevoeg.

 

 
 
 

Viewed: 425

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

40 Years of Leach Printers: A journey of Innovation and Community Spirit

Leach Printers, founded by Charles and Bev Leach in 1984, grew from a small operation with one second-hand machine to a thriving business offering diverse printing services. Now led by Greg and Hazel, the company embraces technology and innovation, celebrating 40 years of success through community support and a dedicated team.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT