ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Wyle Francois Barnard en sy vrou Sanet. Foto verskaf.

Groot hartseer ná Francois kort kankerstryd verloor

Date: 01 November 2024 By: Andries van Zyl

Dit was met groot hartseer dat die Barnard-familie van Louis Trichardt Maandagmiddag inwoners moes laat weet dat Francois Barnard, vir wie daar onophoudelik gebid is die laaste paar weke, sy stryd teen kanker in die Unitas Hospitaal in Centurion verloor het.

Die 39-jarige Francois is oorlede skaars twee maande nadat hy met kolonkanker gediagnoseer is. Die kanker was reeds in ’n gevorderde stadium (Graad 4), wat behandeling bemoeilik het.

“As eggenoot was Francois alles wat ek wou hê. Hy was ‘n fantastiese pappa, Hy sou alles gee vir ons, enige iets doen, al was dit om teepartytjies te hou saam met sy dogtertjie of bal te speel saam met haar en ons honde. Hy kon vreeslik lekker dans en het dit geniet om boek te lees of vir ure Lego’s te bou of te werk aan miniatuurbootjies en -huisies. Hy het ander mense se gevoelens altyd eerste gestel. Hy wou so graag sy dogtertjie sien grootword en leer hoe om eendag die regte man te kies,”  het ‘n hartseer Sanet, sy vrou, gesê.

Ook vir sy ouers, Even en Mariet Barnard, was die dood van hulle seun ‘n groot terugslag. “Hy was vir ons as ouers ‘n trots. Ons het so baie by hom geleer. Hy was vir ons ‘n voorbeeld oor hoe om moeilike goed te hanteer. Die Here het ons so geseën met sy lewe,” het die ouerpaar gesê.

Vir broer Nardus is Francois se dood eweneens moeilik. “As broer sal hy onthou word vir saam kuier en lag. Hy het nie teruggestaan as daar bietjie skouer geskuur is nie. Maar veral sy deursettingsvermoë was vir my ‘n voorbeeld,” het Nardus gesê.

Francois is op 6 Junie 1985 in die destydse Pietersburg gebore en was ‘n Bosvelder in murg en been. Hy het sy laerskoolloopbaan by Laerskool Louis Trichardt voltooi, waar hy onderhoofseun was. In 2003 het hy matrikuleer aan Hoërskool Louis Trichardt, waar hy op die leerlingraad gedien het.

Francois het vanaf sy matriekjaar met sy gesondheid begin sukkel, veral met sy niere. Hy wou baie graag ná skool gaan studeer, maar sy gesondheid het dit nie toegelaat nie. Hy het toe ná skool by die familiebesigheid, Palm Motors, begin werk. Francois en Sanet het drie jaar gelede volle eienaars van Palm Vulstasie en kafee, wat nou Astron is, geword.

Francois sal onthou word vir sy sin vir humor en vir hoe hy mense op ‘n besonderse wyse aangeraak het. Hy het altyd ander mense se gevoelens gerespekteer en het uit sy pad gegaan om die mense vir wie hy lief was te beskerm.

Teen druktyd was daar nog geen finale begrafnisreëlings nie en die familie het aangedui dat dit in ‘n latere stadium deurgegee sal word. Wyle Francois word oorleef deur sy vrou Sanet, dogtertjie Katryn, ouers Even en Mariet, broer Nardus en sy gesin.

“Ons wil graag vir Unitas Hospitaal se dokters en personeel bedank vir wat hulle alles vir Francois gedoen het. Almal van hulle het ‘n ekstra myl geloop. Ons wil ook vir Greg Keartland, Frans Pieterse en die res van BF se personeel bedank wat vir Francois bygestaan het met sy besigheid,” het die familie gesê. ‘n Spesiale woord van dank het ook gegaan aan ds. Jan Pretorius van die NG Gemeente Stad op die Berg en gemeentelede. “Dankie ook aan al die familie en vriende oor die wêreld se gebede, boodskappe en ondersteuning,” het die familie afgesluit.

 

 
 
 

Viewed: 1002

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

Somer is vir tuinbou, so kom leer meer saam met Athri Wilson

Of jy ’n groot tuin het of selfs net ’n paar potplante vertroetel, almal weet van die menigte voordele wat tuinmaak jou bied. Nie net ontlaai jy van stres nie, maar gesoute tuiniers glo vas dat tuinmaak jou langer laat lewe. Die bekende aktrise, Audrey Hepburn, het gesê: ”Om tuin te maak is om in môre te glo”.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT