ADVERTISEMENT:
Die groen opgeboude jeep waarin Byeron (inlas) en sy 13-jarige broer Blayton gery het. Foto verskaf.
Date: 01 November 2024 By: Andries van Zyl
Familie en vriende soek antwoorde op wat presies aanleiding gegee het tot die byna noodlottige motorongeluk Saterdagaand, 26 Oktober, wat die 18-jarige Byeron Herbst van Louis Trichardt in ‘n koma gelaat het. Die grootste vrae is waarom die bestuurder van die voertuig die toneel verlaat het en die voertuig vanaf die toneel verwyder is voor enige ondersoek gedoen kon word en waarom die polisie ook nie van die ongeluk ingelig is nie?
Die ongeluk het kort ná 20:00 in Industriastraat, net verby Fire Fly, plaasgevind en daar is verskillende weergawes van wat gebeur het wat die ronde doen. Die een weergawe is dat die bestuurder van die groen opgeboude jeep, die 32-jarige Stephan Wilders, beheer oor die voertuig verloor het nadat ‘n band gebars het.
Daar is ook verskillende weergawes oor hoe Byeron, asook sy 13-jarige broer Blayton, hulle saam met Wilders in die jeep bevind het. Een weergawe is dat Wilders hulle ‘n rygeleentheid huis toe aangebied het, nadat hy hulle langs die pad sien stap het.
Hoe dit ook al sy, die jeep het gerol. Blayton het erge kneuswonde opgedoen en het blykbaar uit skok vanaf die toneel huis toe gehardloop. Byeron was minder gelukkig en moes per ambulans hospitaal toe gejaag word. Dit was in daardie stadium dat omstanders begin vrae vra het oor waarom Wilders ook die toneel verlaat het en die voertuig waarmee hy gery het op ‘n insleepvoertuig gelaai en verwyder is, sonder dat die polisie ooit op die toneel was. Daar was slegs ‘n verkeersvoertuig op die toneel.
Byeron, wat op 13 Oktober 18 jaar oud geword het, is in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal opgeneem met swelling van die brein. Nadat hy gestabiliseer is, is hy Sondag oorgeplaas na die provinsiale hospitaal in Polokwane se intensiewe-sorgeenheid, waar hy in ‘n geïnduseerde koma geplaas is om die moontlikheid van verdere breinskade te verhoed totdat die swelling verminder. Maandag is hy na die hospitaal in Mokopane oorgeplaas, waar hy teen druktyd steeds in ‘n geïnduseerde koma was. Hy het egter tekens van herstel begin toon. “Toe my pa met hom gepraat het, het hy sy arm beweeg. Hy is egter steeds in ‘n koma,” het Jodie Herbst, Byeron se oom, Woensdagoggend gesê.
Jodie-hulle het baie vrae oor die ongeluk. “Daar is meer aan hierdie storie as wat daar moet wees,” het hy gesê. Een van die vrae is waarom Wilders teen Maandagoggend nog nie die ongeluk aangemeld het nie. “Ek het hom gebel en gesê hy het tot Maandag 17:00 om die saak aan te meld, anders is daar moeilikheid,” het Jodie gesê.
Volgens Jodie verstaan hy dat alle mense foute maak, maar in Byeron se geval is dit ‘n duur prys om te betaal, veral aangesien hulle nie weet watter langtermyn negatiewe letsels hy van die ongeluk sal oorhou nie. “Iemand moet verantwoordelikheid vat daarvoor. Ons het nie die geld of ondersteuning as iets verder gedoen moet word nie,” het Jodie gesê, veral wat moontlike toekomstige eise betref.
Suid-Afrikaanse wetgewing, en spesifiek die Nasionale Padverkeerswet, Wet 93 van 1996, plaas spesifieke pligte op bestuurders wat betrokke is by padongelukke, veral wanneer beserings of dood voorkom. Kragtens die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 kan versuim om aan hierdie pligte te voldoen ernstige regstappe tot gevolg hê.
Hierdie wetlike verantwoordelikhede sluit in om enige beseerde persone so goed moontlik te help, jou persoonlike besonderhede, insluitend jou naam, adres en voertuigregistrasie, te verskaf en om die ongeluk binne 24 uur by die polisie aan te meld indien daar beserings of sterftes is. As jy die toneel van 'n ongeluk verlaat sonder om aan hierdie verpligtinge te voldoen, kan jy ‘n boete van tot R180,000 opgelê word en tot nege jaar tronkstraf gevonnis word indien ernstige beserings of sterftes veroorsaak is deur jou optrede. Verdere strafmaatreëls mag geld indien slegs eiendom beskadig is, met boetes of tronkstraf van tot drie jaar.
Navrae oor die ongeluk is na die polisie se woordvoerder vir Vhembe, AO Vuledzani Dathi verwys. Die koerant wou onder meer weet of die saak wel aangemeld is, of die polisie op die toneel was en watter aksie hulle na aanleiding van die gebeure gaan neem.
Dathi het Woensdag bevestig dat Wilders eers Maandag (buite die 24 uur periode) die saak aangemeld het. As rede waarom dit eers Maandag gedoen is, het Dathi gesê dat Wilders aanvoer dat hy ook direk ná die ongeluk moes gaan vir mediese behandeling en dat hy Sondag nog te ongesteld was om polisiestasie toe te gaan.
Dathi het ook bevestig dat die polisie nie na Saterdagaand se ongelukstoneel ontbied is nie, maar dat hulle nou ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur geopen het vir verdere ondersoek. Wat dit betref het hy lede van die publiek wat meer inligting kan verskaf versoek om met die ondersoekbeampte, speursersant Mavhungu Tshifhiwa, kontak te maak by tel. (076) 424-7659.
Viewed: 1554
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
Of jy ’n groot tuin het of selfs net ’n paar potplante vertroetel, almal weet van die menigte voordele wat tuinmaak jou bied. Nie net ontlaai jy van stres nie, maar gesoute tuiniers glo vas dat tuinmaak jou langer laat lewe. Die bekende aktrise, Audrey Hepburn, het gesê: ”Om tuin te maak is om in môre te glo”.
ADVERTISEMENT