ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Inwoners van alle ouderdomme en rasse het verlede Vrydagaand voor Fire Fly in Louis Trichardt vergader op die plek waar bekende sakeman Eddie Gouveia (links) twee dae vantevore op 16 Oktober ontvoer is. Kerse is ook vir hom aangesteek as teken van hoop vir sy veilige vrylating. Foto: Karla van Zyl.

Sakeman steeds soek

Date: 25 October 2024 By: Andries van Zyl

Teen Vrydagoggend hierdie week was daar steeds geen nuus oor die ontvoerde Louis Trichardt sakeman Eddie Gouveia nie. Die 51-jarige Gouveia is net ná 20:00 die aand van Woensdag, 16 Oktober, deur ‘n groep verdagtes voor sy Fire Fly-onderneming in Industriastraat oorrompel en in ‘n voertuig geboender, waarna hulle met hom weggejaag het.

Die ontvoering het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, soortgelyk aan April 2021 toe nog ‘n baie bekende plaaslike sakeman, Shyam Premjee, ontvoer is. Hy is gelukkig net meer as ‘n maand later veilig vrygelaat.

Soos met Premjee bid die plaaslike gemeenskap deurlopend vir die veilige vrylating van Gouveia. Vrydagaand is daar ‘n spesiale gebedsessie vir hom gehou voor die winkel waar hy ontvoer is. Die aksie is gereël deur die AGS Familie Gemeente op Louis Trichardt, met lede van die publiek wat in groot getalle opgedaag en gebid het vir Gouveia se veilige vrylating. Daar is ook gebid vir verligting van die greep wat misdaad op Louis Trichardt het.

Pogings om meer inligting te bekom oor Gouveia se ontvoering en of daar moontlik al ‘n losprys geëis is, was onsuksesvol. By navraag het die familie aangedui dat hulle deur die polisie versoek is om nie met die media of enige iemand oor die saak te praat nie. Provinsiale polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Malesela Ledwaba het op sy beurt aan die Zoutpansberger gesê dat die polisie nie kommentaar lewer op enige aktiewe saak van ontvoering nie. Dit is om beide die slagoffer en sy of haar familie te beskerm.

Gouveia se ontvoering het weereens die kalklig laat val op die drastiese toename in gevalle van ontvoering in Suid-Afrika, tot so ‘n mate dat die Minister van Polisie, Senzo Machunu, in Augustus sy kommer daaroor uitgespreek het tydens die bekendstelling van die misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal van die 2023/24 finansiële jaar en die eerste kwartaal van die 2024/25 finansiële jaar.

Volgens die land se 2022/23 misdaadstatistieke is daar gedurende dié tydperk 15,342 ontvoerings in die land aangemeld, oftewel sowat 42 ontvoerings per dag. Dit staan in skrille kontras met die 4,306 gevalle wat in die 2013/14 finansiële jaar aangemeld is.  Wat dit betref het die Instituut vir Sekuriteitstudies hulle kommer uitgespreek oor die bykans 260% toename in ontvoerings in Suid-Afrika die laaste dekade. Nie al die ontvoering was egter vir die eis van ‘n losprys nie. Van die 15,342 ontvoeringsake gedurende 2022/23 word bereken dat slegs sowat 5% vir ‘n losprys was.

Die getal ontvoerings in Limpopo het die afgelope drie jaar ook dramaties toegeneem. Volgens die polisie se 2022/23 misdaadstatistiek het die getal ontvoerings in Limpopo van 317 gevalle in 2021/22 na 452 toegeneem in 2022/23 - ‘n 42,6% verhoging. 

Skokkend is die feit dat 154 gevalle van ontvoering reeds in Limpopo aangemeld is vir die eerste kwartaal van die 2024/25 misdaadstatistieke vir die periode April tot Junie 2024. In vier gevalle is ‘n losprys geëis. Die 154 gevalle is 58,8% meer as die 97 gevalle in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Nader aan die huis is 28 gevalle van ontvoering vir die periode April tot Junie 2024 in Vhembe aangemeld, sewe gevalle (18,2%) meer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Verlede Woensdag se gebeure het plaaslike sakelui onrustig. Een van hulle is Elanie Havinga. Havinga het ‘n ernstige beroep gedoen op inwoners, maar veral plaaslike sakelui, om beheer te neem van hulle en almal rondom hulle se veiligheid deur inisiatiewe soos die Soutpansberg Dorpswag (Dorpswag) te ondersteun. Sy het ook genoem dat daar ernstig gekyk moet word om die lank-beplande kameraprojek in die dorp so spoedig moontlik te implementeer. “Dit moet nou gebeur, voordat so iets weer gebeur,” het Havinga gesê.

Dit, het Havinga gesê, behels grootskaalse finansiële steun. “As jy in ‘n veilige omgewing wil besigheid doen, moet jy na die partytjie toe kom. Jy moet help om ‘n veilige omgewing te skep,” het Havinga gesê.

Die kameraprojek val onder die beheer van die Dorpswag en in die verlede is daar reeds skenkings juis vir hierdie doel gemaak. “Met die geld wat ons ingekry het ‘n ruk gelede, kan ons net drie kameras opsit,” het Danie Pita, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, Dinsdag gesê. In daardie stadium was hulle ernstig besig om weer momentum aan die projek te probeer gee. “As ons hierdie kameras op gehad het, kon ons vinniger ‘n idee gekry het waarheen hulle met Eddie gery het,” het Pita gesê.

Die Dorpswag is al ’n geruime tyd besig om fondse in te samel en permitte en toestemming te kry vir die oprigting en plasing van sekuriteitskameras by al die dorp se hoof-in- en uitgange. Die projek behels onder meer die oprig van sewe kameramaste, insluitend nommerplaatherkenningstegnologie. Toestemming is ook pas van SANRAL en die munisipaliteit ontvang om die toerusting op te rig, en volgens die Dorpswag is die beraamde koste om die oorblywende toerusting aan te skaf ongeveer R300,000. Die toerusting sal daarna deurlopend instandhouding benodig.

“Ons het baie punte wat ons moet dek, maar ons het nie die fondse daarvoor nie. Maar ons moet nou begin! Ons het nou vir drie kameras geld. Mens praat van R70,000 per paal. Dit is nie goedkoop nie,” het Pita gesê.

Wat dit betref het Pita namens die Dorpswag ‘n beroep op elke inwoner, besigheidseienaar of belanghebbende gedoen om die projek te ondersteun. Persone wat die projek finansieel kan steun kan inbetalings doen in die Dorpswag se rekening met rekeningnaam Soutpansberg Dorpswag, FNB, takkode 250 655, met rekeningnommer 623 776 442 76. As verwysing moet donateurs hul naam, van en die woord kameras gebruik.

Intussen word daar steeds gebid vir Gouveia se veilige vrylating. “Ons hoop almal hulle vind hom lewend. Dit is ‘n slegte ding wat met ons en sy familie gebeur het,” het Pita gesê.

 

 
 
 

Viewed: 675

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

Somer is vir tuinbou, so kom leer meer saam met Athri Wilson

Of jy ’n groot tuin het of selfs net ’n paar potplante vertroetel, almal weet van die menigte voordele wat tuinmaak jou bied. Nie net ontlaai jy van stres nie, maar gesoute tuiniers glo vas dat tuinmaak jou langer laat lewe. Die bekende aktrise, Audrey Hepburn, het gesê: ”Om tuin te maak is om in môre te glo”.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT