ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Die 28-jarige De Necker van Schalkwyk wat die kitsrykwordskema onder die naam MakaTrade bedryf het. Sy liggaam is op 11 Oktober langs ‘n pad op Hermanus gevind met ‘n skietwond in die kop.

Wat moet beleggers nou doen?

Date: 17 November 2023 By: Anton van Zyl

Verskeie mense wat geld in die beleggingskema gestort het wat deur De Necker van Schalkwyk bedryf is, het die Zoutpansberger die afgelope week gekontak om te probeer uitvind wat hulle nou te doen staan. Sedert Van Schalkwyk se dood is inligting oor die beleggings uiters skaars en die persone wat by die koerant vir hulp kom aanklop het, sê dat hulle raadop is en nie weet of hulle enigsins weer iets van hul geld gaan sien nie.

Die Zoutpansberger het in Junie vanjaar berig oor die kitsrykwordskema wat deur Van Schalkwyk bedryf is. Beleggers is rente van tussen 10 en 12% per maand belowe op hul beleggings. Alle betalings aan beleggers het egter opgedroog kort voor Van Schalkwyk se dood op 10 Oktober vanjaar.

Drie verdagtes is aangekeer, kort ná Van Schalkwyk se lyk in Rotary Way in Hermanus gevind is op 11 Oktober vanjaar. Twee van die verdagtes is aangekla vir die besit van gesteelde goedere en die besit van ‘n gesteelde wapen. Een van hulle, die 40-jarige Sandile Lumatha (40), is van moord aangekla.

Tydens Lumatha se borgaansoek vroeër dié week in die landdroshof op Hermanus is getuig dat die waarde van die beleggings rondom R128-miljoen is. Hoe die bedrag bepaal is en of dit net ‘n geskatte “boekwaarde” is, het nie aan die lig gekom nie. Van Schalkwyk het blykbaar ook ‘n lewenspolis uitgeneem van R98-miljoen, sou iets met hom gebeur. Baie van die beleggers plaas hul hoop op die uitbetaling van die lewenspolis.

Ons het ‘n plaaslike prokureur, dr. Suwil Rudolph, gevra wat die persone te doen staan wat moontlike eise teen Van Schalkwyk se boedel het. Hy het verduidelik dat ‘n eksekuteursbrief eers uitgereik moet word deur die Meester van die Hof. Dit sal die eksekuteur van die boedel die magtiging gee om met die proses te begin en lede van die publiek wat eise teen die boedel het, uit te nooi om dit in te dien. Die naam van die persoon wat die eksekuteur is, word gewoonlik in die testament aangedui.

Volgens Dr Rudolph sal die bates en laste van die boedel bereken word. Indien die bates die laste oorskry, sal die eisers se skuld vereffen word. Indien die laste egter baie meer is as die bates, kan ‘n likwidateur aangestel word om die saak te hanteer. Die skuldeisers sal dan die besluit moet neem of hulle met die proses moet voortgaan om kostes aan te gaan en ‘n deel van hul geld te probeer terugkry.

Ná verskeie pogings het Van Schalkwyk se familie hierdie week die naam van die prokureur wat die boedel hanteer, beskikbaar gemaak. Dit word behartig deur mnr. Werner Rossouw, kandidaat-prokureur van die firma AJ Coetzer & De Beer Prokureurs van Mokopane.

Rossouw het by navraag gesê dat geen eksekuteur nog aangestel is vir die boedel nie, en gevolglik is die eksekuteursbrief nog nie uitgereik nie. “Dit moet egter beklemtoon word dat die nodige dokumentasie vir die registrasie van die boedel tans saamgestel word en binnekort ingedien sal word by die Meester se kantoor,” sê hy.

Rossouw het verder verduidelik dat nog geen voorlopige skatting gemaak is van die bates en laste van die boedel nie. “Dit is moeilik om 'n akkurate skatting te maak sonder die eksekuteursbrief. Ná ontvangs van die brief sal ons die finansiële instellings in kennis stel en daarna 'n gedetailleerde skatting van die bates en laste maak,” sê hy.

Hy kon ook nie ‘n tydraamwerk saamstel van wanneer die boedel beredder sal word nie. “Verskeie faktore, insluitend die lopende ondersoek na die afsterwe van mnr. Van Schalkwyk, maak die proses meer kompleks. Hierdie faktore, wat normaalweg nie 'n rol sou speel in die bereddering van 'n boedel nie, is nou van belang. As gevolg van die direkte invloed van die ondersoek op die bereddering van die boedel, is 'n tydraamwerk op hierdie stadium nie moontlik nie,” sê hy.

Rossouw het persone wat inligting verlang oor die boedel, uitgenooi om hulle te skakel. Die nommer is 015 491 7025.

 

 
 
 

Viewed: 1579

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

Somer is vir tuinbou, so kom leer meer saam met Athri Wilson

Of jy ’n groot tuin het of selfs net ’n paar potplante vertroetel, almal weet van die menigte voordele wat tuinmaak jou bied. Nie net ontlaai jy van stres nie, maar gesoute tuiniers glo vas dat tuinmaak jou langer laat lewe. Die bekende aktrise, Audrey Hepburn, het gesê: ”Om tuin te maak is om in môre te glo”.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT