ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die wenspan, Junedi XI, kort nadat hulle Saterdag hulle wentrofee in ontvangs geneem het. Foto verskaf.

Junedi stof RCI uit in finaal van T10-liga

Date: 23 November 2023 By: Andries van Zyl

Junedi XI is Saterdag (18de) as wenners van die Louis Trichardt Krieketklub se T10-liga gekroon, nadat hulle in die finaal ‘n allemintige 65-lopie oorwinning oor die span van RCI behaal het.

Junedi het ingegaan om eerste te kolf en 129 lopies vir die verlies van slegs vier paaltjies (129/4) in hulle toegelate tien beurte aangeteken. Dubbelsyferbydraes vanaf die kolf het gekom van Naeem Patel (13), Abid Manch (30) en ‘n indrukwekkende 58 lopies vanaf slegs 21 balle deur Irfan Bhana. Sy kolfbeurt het ingesluit ses sesse en drie viere. Beide Manch en Bhana is uitgehardloop. Vir RCI het bouler Saad Zubeir een paaltjie vir die verlies van 16 lopies in twee beurte (1/16/2) geneem, terwyl Vimal Shah 1/14/1 kon vat.

RCI se kolwers het vanaf die eerste bal in hulle kolfbeurt gesukkel met die kolf weens uiterse knap boulwerk vanaf Junedi se boulers in ‘n beurt waarin hulle slegs drie ekstras afgestaan het. Die enigste dubbelsyfers vanaf die kolf het gekom van Nimesh Watekar (15), Imram Hafeji (21) en Jabir Abuja (12) met al RCI se kolwers wat terug was in die pawiljoen in 7.5 beurte, met die telling op 64 almal uit. Vir Junedi was bouler Mustak Patel in verwoestende vorm met ‘n boulontleding van 5/12/1.5, terwyl Umer Rana 2/22/2 ingepalm het. Iqram Kamboli, Dilawer Patel en Irfan Junedi het elk een paaltjie geneem, met ‘n boulontleding van onderskeidelik 1/14/2, 1/2/1 en 1/12/1.

Vroeër dieselfde dag het die Soutpansberg Killers en Limpopo Melkery om die derde en vierde plek uitgespeel. Limpopo het eerste ingegaan om te kolf en het 77/6 in hulle kolfbeurt aangeteken. Leon Olwage (16), AJ Fourie (12) en Neel Favade (21) het dubbelsyfers tot die telling bygedra. Vir die Killers het bouler AC Geldenhuys 2/29/2 geneem, met spanmaats Zander Volgraaff wat 1/6/2, Ruan van Tonder 1/9/2, Dian van Tonder 1/14/2 en Julius Kemp wat 1/8/1 geneem het.

Limpopo se boulers was vroeg reeds in hulle boulbeurt in die moeilikheid met die Killers se openingskolwers AC Geldenhuys en Ruben van der Nest wat vasgeskop het. Geldenhuys het geëindig op 49 (nie uit nie) en Van der Nest op 24 (nie uit nie), met die wenlopies van 79 wat in 7.1 beurte geslaan is om aan die Killers ‘n 10-paaltjie oorwinning te besorg.

Ná afloop van die dag se spel is die wenspan, Junedi XI, met hul trofee beloon. Die bouler wat die meeste paaltjies tydens die toernooi gevat het, was Umer Rana, wat 11 paaltjies platgetrek het, terwyl die beste kolwer Leon Olwage was met 300 lopies.

 

 
 
 

Viewed: 2717

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT