ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Rotariërs van Louis Trichardt het Dinsdag, 23 Julie, hulle laaste amptelike daad as klub verrig, met die oorhandiging van R176,000 aan die Bergcare NPO. Weens ‘n kwynende ledetal is die klub nou gesluit. Die geld is met groot dankbaarheid ontvang deur ds. Jan Pretorius, voorsitter van die Bergcare NPO direksie. Afgeneem tydens die geleentheid is Louis Trichardt Rotariërs Charl Henning, André Prinsloo, uitgaande Rotariër president Leon Barnard, ds. Pretorius, Frank Terink en Marius Gilfillan.  

Rotariërs maak bittersoet laaste skenking aan Bergcare

Date: 26 July 2024 By: Andries van Zyl

Bergcare op Louis Trichardt het Dinsdag, 23 Julie, sekerlik hulle grootste enkele skenking ontvang ten bedrae van R176,000 van die Rotariërs van Louis Trichardt. Die oomblik was egter bittersoet, aangesien dit ook die laaste amptelike aksie van dié klub was wat ná dese nie meer bestaan nie.

Uitgaande president van die Louis Trichardt Rotariërs mnr. Leon Barnard het verduidelik dat ‘n afname in die ledetal die afgelope paar jaar, hetsy deur lede wat elders heen verhuis het of oorlede is, hulle genoop het om hulle spreekwoordelike deure na 65 jaar te sluit. “Toe ons besluit het om die klub te sluit, moes ons ook besluit wat om met die geld in ons bankrekening te maak, aangesien die rekening ook gesluit moes word. Ons het toe besluit om dit vir Bergcare te skenk, want ons wil sien dat die geld in die gemeenskap bly en vir die gemeenskap gebruik word,” het Barnard gesê.

Die Rotariërs se besluit was goeie nuus vir die bestuur van Bergcare. “Dit is vir ons ‘n ongelooflike groot inspuiting en ons is ongelooflik dankbaar daarvoor,” het ds. Jan Pretorius, voorsitter van die Bergcare NPO direksie, gesê.

Vir Bergcare beteken dit ook dat hulle baie “gate” in die nabye toekoms sal kan toestop. Pretorius het verduidelik dat hulle tans in ‘n maand se tyd sowat 1,000 mense kos gee. Elke dag kry sowat 50 straatmense ook by hulle kos. “Dit is kos wat ons andersins moet weggooi, kos wat jy nie kan vries nie,” het Pretorius gesê. Dit sluit ondermeer kos in soos toebroodjies, pap en slaai. Dan gee Bergcare ook twee keer per maand kospakkies uit aan sowat 1,000 mense wat op hulle kospakkielys is. Dit sluit hoofsaaklik bejaardes in wat afhanklik is van slegs SASSA geld.

Pretorius het weereens die hele gemeenskap bedank wat gereeld skenkings gee, hetsy in die vorm van kontant, kos of klere. Hy het egter ‘n spesiale woord van dank gerig aan die plaaslike Rotariërs.

“Hiermee wil Bergcare NPO sy hartlike dank uitspreek teenoor die skenking van R176 000 van die Louis Trichardt Rotariërs. Dankie dat die Rotariërs op hierdie manier erkenning aan Bergcare NPO gee vir die werk wat hulle in die gemeenskap deur die gemeenskap doen vir hulle wat minder het, swaarkry in die baie moeilike ekonomiese tye waar mense hulle werk verloor en families bymekaar intrek en mekaar probeer help. Bergcare kan ‘n ondersteunende rol speel met die versorging van hierdie mense op verskillende maniere,” het Pretorius gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1405

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

McDonald’s Suid-Afrika loods hul “Ken Ons Kos” veldtog

Advertorials: 12 July 2024

McDonald’s Suid-Afrika het ‘n veldtog geloods wat daarop gemik is om verbruikers meer te vertel oor die kwaliteit van hul voedselprodukte, asook die klem wat die maatskappy plaas op volhoubare produksie en etiese werkswyses by verskaffers.

ADVERTISEMENT