ADVERTISEMENT:

 

 
 

Venter en Makhani is daarvan beskuldig dat hulle ekstra palette hoenderprodukte gelaai het en vir eie gewin verkoop het. Die palette het nie op die maatskappy se amptelike papierwerk soos afleweringsnotas gereflekteer nie. Generiese foto.

Gesteelde hoenderporsies lei tot kriminele rekord vir twee

Date: 06 September 2024 By: Andries van Zyl

Die twee personeellede van Soutpansberg Koelkamers wat op 15 Desember 2022 op klagte van diefstal gearresteer is, die 36-jarige Shannon Martin Venter en 46-jarige David Ntovholeni Makhani, is verlede Woensdag, 28 Augustus, in die hof op Louis Trichardt skuldig bevind.

Venter en Makhani is daarvan beskuldig dat hulle ekstra palette hoenderprodukte (waarvoor die maatskappy bekend is) gelaai het en vir eie gewin verkoop het. Die palette het nie op die maatskappy se amptelike papierwerk soos afleweringsnotas gereflekteer nie. Ten tye van hulle arrestasie was Venter ’n verkoopsverteenwoordiger by die maatskappy en Makhani ’n vragmotorbestuurder, ook by dieselfde maatskappy.

Makhani is eerste aangekeer, nadat die polisie die vragmotor waarvan hy die mede-bestuurder was, net buite Louis Trichardt afgetrek het. Twee ekstra palette hoenderporsies is in die vragmotor gevind wat nie op die maatskappy se afleweringsnota gereflekteer het nie. Venter is daarna aangekeer. Die bestuurder van die vragmotor is aanvanklik ook gearresteer, maar vrygelaat nadat daar bevestig kon word dat hy nie bewus of deel was van die misdryf nie.

Dit sou ná Venter en Makhani se arrestasie uitkom dat dit nie die eerste keer was dat hulle palette gelaai en verkoop het vir eie gewin nie, sonder die maatskappy se medewete. In aanloop tot hulle arrestasie op 15 Desember was daar ten minste twee geleenthede, op 9 en 13 Desember 2022, waar hulle sowat R35,000 se palette hoenderprodukte gelaai en verkoop het. Op die dag van hulle arrestasie was die geskatte waarde van die twee palette hoenderporsies wat hulle wou verkoop sowat R45,000.

Die hof het op 19 Desember 2022 borgtog van R5,000 elk toegestaan aan Venter en Makhani. Hulle sou daarna weer verskeie verskynings in die hof maak, tot en met hulle skuldigbevinding verlede Woensdag, 28 Augustus. Venter en Makhani is elk ’n boete van R5,000 of vyf maande gevangenisstraf opgelê.

“Ek het gedink hierdie ding gaan ’n stille dood sterf, gegewe dat dit so lank uitgerek is,” het mnr. Riaan Smit, eienaar van Soutpansberg Koelkamers, ná afloop van die twee se skuldigbevinding gesê. Hy is verheug oor die skuldigbevinding.

Volgens Smit het hulle reeds ’n tydjie voor Venter en Makhani se arrestasie bewus geword van hulle onwettige bedrywighede. Dit het hulle kans gegee om ’n saak te bou teen die twee, wat ingesluit het beeldmateriaal van waar hulle ekstra palette laai sonder enige papierwerk, die gebruik van die afleweringsvoertuie se opsporingstelsel om te sien waar hulle die palette afgelaai het by plekke wat nie op hulle roetes was nie en WhatsApp-boodskappe tussen die beskuldigdes. “Ons het seker gemaak ons het ’n sterk saak. Dit het ingesluit die wete dat ons die geld gaan verloor van die palette wat op 9 en 13 Desember gelaai en verkoop is,” het Smit gesê.

Alhoewel die vonnis vir baie mense lig klink, gegewe die hoeveelheid geld wat hulle gesteel het, sal die gewig van ’n kriminele rekord swaar weeg op Venter en Makhani se toekomstige lewenskeuses.

“Dit was vir ons belangrik om hierdie saak deur te voer, want so iets gebeur nie in isolasie nie en die moontlikheid bestaan dat hulle dit by ander vorige werkgewers ook al kon gedoen het. Verder tot dit was dit vir my ’n beginselsaak, want by meer as een geleentheid wou hulle buite die hof skik, wat ons van die hand gewys het. Hulle wou vir ons net die gesteelde waarde teruggee in ruil daarvoor dat ons die saak van diefstal terugtrek. Ons het net gevoel ons maak vrede met die geld wat ons verloor het, en dit is baie geld, maar iewers moet iemand die mense vastrek en die mense op rekord kry dat dit die tipe persoon is wat jy gaan kry as jy hulle aanstel. Of die persoon sy kleure gaan verander oor tyd, dit weet mens nie,” het Smit gesê.

Smit het genoem dat daar baie mense was wat hulle verwyt het omdat hulle voortgegaan het met die saak. “Ons intensie was nie om hierdie ouens se families, kinders, of aangetroude families skade te berokken nie, wat ook al die uitkoms van die saak sou wees nie. Ongelukkig is dit maar ’n indirekte konsekwensie van die twee persone se eie aksies,” het Smit gesê.

Om toe te sien dat die twee persone nou met kriminele rekords sit, was vir Smit belangrik. “Ons het net gevoel dat ons vir die persone wat moontlik die twee in die toekoms wil aanstel, die geleentheid wil gee om, as hulle die moeite doen om ’n agtergrond check te doen, te sien watter tipe mense hulle aanstel,” het Smit gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1015

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT