ADVERTISEMENT:

 

 

Find a story:

 
 

In die sub-junior afdeling vir seuns was Triegies se Eli Signer weereens eerste gewees. Foto: Karla van Zyl.

Triegie-trappers domineer provinsiale puntleer ná finale XCO

Date: 12 September 2024 By: Karla van Zyl

Hoërskool Louis Trichardt het Saterdag, 7 September, gasheer gespeel vir die vierde en laaste ronde van die provinsiale skole XCO-bergfietsliga, die Tour de Lip. Buiten heelwat podiumplekke vir die Triegie-ryers, tree Hoërskool Louis Trichardt as algehele wenskool in die provinsie uit die stryd, terwyl Laerskool Louis Trichardt ‘n welverdiende tweede plek in die laerskole afdeling inpalm.

Hoërskool Louis Trichardt kraai koning in die liga ná afloop van die finale ronde met 779 punte, terwyl Merensky Landbou Akademie in die tweede plek eindig met 405 punte en Pietersburg Hoërskool in die derde plek met 333 punte. Laerskool Pietersburg-Oos wen die afdeling vir laerskole 648 punte, terwyl Laerskool Louis Trichardt die tweede plek inpalm met 493 punte en Laerskool Tzaneen die derde plek inneem met 358 punte.

Wat Saterdag se individuele prestasies betref in die hoërskole-liga was daar heelwat Triegie-trappers wat podiumplekke ingepalm het of onder die Top 10 in hul onderskeie afdelings geëindig het. Triegies se Thabo Mulaudzi is sesde algeheel in die afdeling vir Junior seuns en derde in die sub-afdeling vir o.17 seuns. Spanmaat Brendan Bruce wat sewende algeheel in dieselfde afdeling en Jacques du Preez algeheel negende. In die afdeling vir junior meisies het Triegies se Amelia Scheepers ’n vierde plek los getrap en derde plek in die o.17 sub-afdeling vir meisies. Leeanne van Heerden behaal ’n algehele sesde plek in die junior afdeling vir meisies, met Mia le Roux algeheel sewende en Shoni Mathekgane algeheel agste.

In die Youth-afdeling vir seuns eindig Peroux du Preez algeheel vierde, maar is eerste in die sub-afdeling vir o.15 seuns. Spanmaat Chrizette Odendaal is algeheel vierde in die Youth-afdeling vir meisies en derde in die sub-afdeling vir o.15 meisies. Renette Nel behaal ‘n algehele 10de plek.

Eli Signer trap weer stof in sy opponente se oë en wen die afdeling vir sub-junior seuns. Hy was ook die eerste sub-junior hoërskool seun oor die wenstreep. Aiden Bruce en Drian de Swart eindig onderskeidelik algeheel sesde en sewende in die sub-junior afdeling vir seun, maar is onderskeidelik die tweede en derde sub-junior laerskool seuns oor die eindstreep.

In die sub-junior afdeling vir meisies is dit weer Triegies se Elané Visser wat spog met ‘n eerste plek. Sy was ook die eerste sub-junior hoërskool meisie tuis. Spanmaat Cara Bruce was algeheel tweede in die ouderdomsgroep en ook tweede sub-junior hoërskool meisie. Klara Swart was vyfde in die o.13 ouderdomsgroep (sub-junior afdeling vir laerskool meisies).

Wat die res van Laerskool Louis Trichardt se jong trappers betref wat podiumplekke behaal of onder die Top 10 eindig, was Mauritz Meiring die tweede seun tuis in die Sprog-afdeling vir seuns, met spanmaat Christopher Swart wat ’n negende plek behaal. In die Sprog-afdeling vir meisies ry Mia Venter vir haar opponente weg met ‘n gemaklike algehele eerste plek.

In die afdeling vir die sub-Nipper seuns het AJ Moulder ’n algehele derde plek ingepalm, met Gunther Joubert wat ’n sesde plek behaal het. Wat die sub-Nipper meisies betref, pronk Evené Botha weer op die podium met ‘n algehele tweede plek, met spanmaat Nirieke Meiring in ‘n algehele vierde plek.

In die afdeling vir Nipper seuns behaal Luan Smit ’n algehele vierde plek, met spanmaat Louis Swart wat ’n vyfde plek inpalm en Milander Meiring ’n agtste posisie.

Ná afloop van Saterdag se finale ronde van die provinsiale XCO-skoleliga het Hoërskool Louis Trichardt nege ryers wat in die Limpopo-span vir provinsiale deelname opgeneem is, naamlik Elané Visser, Cara Bruce, Peroux du Preez, Chrizette Odendaal, Amelia Scheepers, Jacques du Preez, Eli Signer, André van Ree en Thabo Mulaudzi. Die span wat aan die nasionale kampioenskappe gaan deelneem sluit hierdie ryers in, asook Brendan Bruce, Maxelo Baloyi, Matthew Lee, Daniel Lee, Leeanne van Heerden, Renette Nel, Mikeila Scheepers, Danae Schuch en Liané Smit. Die groep ryers sal vanaf 20 tot 22 September aan die nasionale byeenkoms by Hoërskool Wagpos in Brits deelneem.

 

 
 
 

Viewed: 477

 

 
 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT