ADVERTISEMENT:

 

 

Find a story:

 
 

Louis Trichardt se tweede span haker en kaptein Armand Standard (middel) op die aanval in hulle provinsiale eindstryd teen Potties 2 die afgelope naweek. Louis Trichardt se tweedes sit hulle onoorwonne segetog voort in die liga deur 32-18 te wen. Links is Louis Trichardt se Julian James, wat as speler van die wedstryd aangewys is. Agter regs is Louis Trichardt se Heinrich van Wyk. Ook Louis Trichardt se eerstes tree onoorwonne uit die stryd met ‘n telling van 53-31 en is nou op pad Gold Cup toe. Foto: Karla van Zyl.

Dorp se eerstes en tweedes kraai weer koning!

Date: 13 September 2024 By: Andries van Zyl

Die geskiedenisboeke is die afgelope naweek weer herskryf toe die Louis Trichardt Rugbyklub se eerste en tweede spanne vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar as algehele wenners van die provinsiale rugbyliga bekroon is. Dit nadat beide spanne hulle opposisie in die eindstryd van die liga op Louis Trichardt se tuisveld geklop het. Ook die dorp se derde span het na die eindstryd deurgedring, maar was ongelukkig om te verloor.

Louis Trichardt se derdes het Saterdag, 7 September, in die openingswedstryd van die eindstryd teen Noordelikes 3 te staan gekom, maar moes ongelukkig 23-7 die knieg buig. Daarna het Louis Trichardt se tweedes voortgebou op hulle onoorwonne rekord die afgelope seisoen deur Potties se tweedes 32-18 kaf te draf. Louis Trichardt se Julian James is hier as speler van die wedstryd aangewys. Ook die dorp se eerstes het hulle onoorwonne segetog voortgesit in die 2024-liga deur Potties se eerstes oortuigend 53-31 te klop. Ná afloop van hierdie wedstryd is Louis Trichardt se Justin Hugo as Speler van die Wedstryd aangewys.

Wat die Louis Trichardt Rugbyklub se skitterende vertoning in die pas-afgelope provinsiale liga betref, het klubvoorsitter Brian du Plooy gesê dit was vir hom ‘n voorreg om van hierdie suksesverhaal deel te wees.

“As voorsitter is ek baie, baie trots op ons klub. Ek kan nie dink wanneer laas het al drie die klub se spanne deurgedring na die eindstryd nie. Ongelukkig het dit ons nie toegekom dat die derde span ook kon wen nie, maar dit was ‘n baie goeie wedstryd gewees,” het Du Plooy gesê.

Buiten vir die spelers se harde werk het Du Plooy ook hoë lof gehad vir die afrigters, wie se insette direk tot die spanne se sukses bygedra het. “Dit is hulle passie en hulle doen dit verniet,” het Du Plooy gesê.

Louis Trichardt het die afgelope paar jaar ook groot sukses beleef met rugby-ontwikkeling. “Uit ons omliggende areas het ons spelers gehad waarvan party nog nooit rugby gespeel het nie. Ander het nog nooit op hierdie vlak gespeel nie. Ons kon hulle ontwikkel dat van hulle nou al kwalifiseer vir die dorp se eerste en tweede spanne en baie goeie en uitstekende spelers is,” het Du Plooy gesê.

Wat ondersteuning betref het Du Plooy die gemeenskap van harte bedank. “As klub is ons baie trots op ons gemeenskap en ondersteuners. Ons bedank hulle graag vir hulle toegewyde passie om naweek na naweek daar langs die veld te sit as ons tuis speel,” het Du Plooy gesê.

Laastens, maar beslis nie die minste nie, het Du Plooy ‘n groot dankie gerig aan al hulle borge. “Dankie vir al julle ondersteuning ten opsigte van die klub. Sonder julle sou ons dit nie gemaak het nie. Ons sou beslis nie so ver kon kom sonder die fondse wat julle genereer nie,” het Du Plooy gesê. Wat dit betref het Du Plooy gesê die klub se toekoms lyk baie positief met sulke ondersteuning van die borge.

Vir die tweede agtereenvolgende jaar het Louis Trichardt se eerste span as algehele ligawenners weer gekwalifiseer vir deelname aan die interprovinsiale Gold Cup toernooi. Die dorp se eerstes moes eerskomende naweek in ‘n noord/suid wedstryd uitspeel teen die Loskop Rugbyklub (Groblersdal) se eerste om te bepaal wie dring deur Gold Cup toe, maar Loskop het onttrek. Louis Trichardt se eerstes sal nou in hulle eerste Gold Cup wedstryd op 21 September teen Bloemfontein Polisie te staan kom. Vir die lesers wat kan onthou het Louis Trichardt se eerstes ook verlede jaar in hulle eerste wedstryd teen Bloemfontein Polisie te staan gekom, maar verloor. Die toernooi word op uitklopbasis beslis, so as jy een wedstryd verloor, is jy uit.

Wat hulle deelname aan vanjaar se Gold Cup betref, het Du Plooy gesê hy sien regtig uit daarna. “Ek is positief dit gaan ‘n beter uitslag wees. Ons wil graag deurgaan sover as wat ons kan. Maar ek dink ons het die span daarvoor,” het Du Plooy gesê. Die goeie nuus is dat Louis Trichardt se wedstryd teen Bloemfontein Polisie op tuisbodem beslis sal word. "Ons nooi dus al ons gereelde ondersteuners uit om ons te kom help om die wa deur die drif te trek," het Du Plooy uitgenooi. Die wedstryd skop om 16:00 af.

Gemeet aan die plaaslike klub se sukses die afgelope jaar is daar baie wat Du Plooy se optimisme deel. “Ons is in ‘n baie bevoorregte posisie om so ‘n sterk klub in hierdie stadium te hê, die sterkste wat dit in baie jare was,” het Du Plooy gesê.

 

 
 
 

Viewed: 553

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT