ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Wyle Ben Groenewald (73). Foto verskaf.

Ben se skielike dood kom as groot skok

Date: 26 July 2024 By: Andries van Zyl

Inwoners van Louis Trichardt en omstreke het Saterdagaand, 20 Julie, met groot skok verneem van die skielike dood van die 73-jarige Ben Groenewald. Ben was ‘n baie bekende gesig op die dorp, asook die Louis Trichardt Rolbalklub, waar hy kort ná die dag se spel Saterdag in die klubhuis inmekaar gesak en gesterf het, vermoedelik vanweë ‘n hartaanval.

Vir die Groenewald-familie was Ben se skielike dood veral traumaties so kort ná Ben se vrou, Carol Ann Groenewald, se dood. Die 72-jarige Carol-Ann is op 9 Mei vanjaar oorlede.

“Dit was baie onverwag gewees. Sy mede-klublede het gesê daar was geen aanduiding dat hy ongesteld gevoel het nie,” het sy dogter, Mavis, gesê. Vir se mede-klublede wat saam met Ben die dag gespeel het, was sy skielik heengaan eweneens traumaties gewees.

Gebore op 17 April 1952 was Ben ‘n oud-leerling van Hoërskool Hoogenhout (1968). Ná skool het hy ‘n loopbaan in die Suid-Afrikaanse Lugmag gevolg en homself as vliegtuig-wapenmonteerder (armourer) bekwaam. Hy het homself in 1991 by Lugmagbasis Makhado aangesluit, met sy familie wat hom in 1992 hierheen gevolg het. By LMB Makhado het hy diens gedoen tot en met sy aftrede in 2011.

Ben het ‘n absolute passie gehad vir rolbal, ‘n sportsoort wat sy ma hom geleer het. Weinige, indien enige, rolbaldag of -toernooi het verbygegaan waaraan Ben nie deelgeneem het nie. Op en af van die baan af het hy baie vriende gehad. “Hy was lief vir kuier gewees en om tussen mense te wees. Hy was ‘n regte terggees,” onthou Mavis haar pa.

In rolbal geledere het Ben op verskeie komitees gedien. Hy was die voorsitter van die lugmagbasis se rolbalklub, voordat hy op pensioen gegaan het en by die Louis Trichardt Rolbalklub aangesluit het. Hier het hy verskeie jare op die komitee gedien en was ook president van die klub.

Ben was ook vir ‘n klompie jare die Limpopo se Impala-rolbalverteenwoordiger, waar hy die streekkompetisies hanteer het, asook Limpopo se kompetisie sekretaris was. Hy het nie net op die komitees gedien nie, maar ook aktief meegeding. Vir Limpopo het hy vier keer die interdistrikte B-span verteenwoordig en een keer die provinsie se veteranespan. Tydens sy afsterwe was hy die Louis Trichardt Rolbalklub se sekretaris en het ook vir baie jare die klub se kroeg hanteer. “Rus in vrede ou Simson,” het sy klubmaats gesê.

Mavis en skoondogter Sharen het gesê hulle gaan hulle pa baie mis. “Ons het nie gedink dit gaan so vinnig wees nie. Nie so gou ná my ma nie,” het Mavis gesê.

Hulde sal eerskomende Vrydag, 26 Julie, vanaf 17:30 aan wyle Ben gebring word by die Louis Trichardt Rolbalklub. Hy word oorleef deur sy dogter Mavis, skoondogter Sharen, kleinkinders Lee-Handré, Tiaan en Ben en broers en susters.

“Ons wil graag die rolbalklub en almal bedank wat die aand daar was. Dankie vir julle hulp en bystand,” het Mavis-hulle gesê. Hulle het ook hulle dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Louis Trichardt vir hulle oproepe en woorde van vertroosting.

 

 
 
 

Viewed: 1578

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

Alliance Fuel's TV giveaway creates unforgettable moments for lucky customers

After weeks of excitement and anticipation, Alliance Fuel announced the winners of their TV Giveaway competition. “A huge thank you to everyone who participated - you made this giveaway bigger and better than we ever imagined,” said the marketing team.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT