ADVERTISEMENT:

 

 
 

Lede van die span besig om die misvloer wat gevind is, verder te ontbloot. Foto verskaf.

Opwinding oor opgrawings in noorde van die Krugerwildtuin

Date: 27 July 2024 By: Pétria de Vaal

Die naam “Crooks Corner” vertel reeds ‘n storie. En stories was daar gewis - verál in die vroeë twintigste eeu. Hier, in die verre noord-oostelike deel van die Krugerwildtuin, het ‘n klompie bedrywighede plaasgevind. Lesers sal onthou dat die Zoutpansberger gedurende Maart 2016 oor Bvekenya Barnard berig het – die berugte olifantjagter van daardie omgewing.

Dit is in hierdie selfde omgewing waar ‘n groep entoesiastiese argeoloë vanaf 1 tot 12 Julie vanjaar opgrawings by die terrein van Considine en Lumley gedoen het. Opgrawings in die Nasionale Krugerwildtuin is reeds etlike jare gelede onder leiding van prof. Anton van Vollenhoven, buitengewone professor aan die Noord-Wes Universiteit, begin. Hy neem jaarliks ‘n groep argeoloë, studente en ander belangstellendes saam. Prof. Van Vollenhoven se onderneming, Archaetnos Culture and Cultural Resource Consultants, het vanjaar weer so gemaak.

In ‘n verslag wat Van Vollenhoven in 2021 geskryf het, naamlik “Report on a survey for an exploratory project on the History and Archaeology of the Pafuri and Crooks Corner Area”, noem hy dat daar tot dusver relatief min historiese en argeologiese navorsing in die wildtuin gedoen is – vergeleke met ander areas in die land. Die fokus was voorheen meestal op natuurbewaring, maar deesdae val die klem op ‘n meer holistiese benadering wat beide natuurlike en historiese hulpbronne insluit – as ‘n geïntegreerde erfenis.

Van Vollenhoven is bekend vir sekerlik die grootste navorsingprojek (1997 – 2020) in die suide van die wildtuin. Dit is die verskillende terreine van Steinaecker’s Horse, militêre eenheid wat gedurende die Anglo-Boereoorlog hier bedrywig was.

Hierna is ondersoek ingestel na terreine in die Crooks Corner area en het bogenoemde verslag die lig gesien. Behalwe vir Thulamela, ‘n terrein in die Pafuri-area en wat reeds ontwikkel is as toeriste-aantreklikheid, was geen ander opname van voor-historiese sowel as historiese gedoen nie. Van Vollenhoven meld dat die wildtuin hom by uitstek leen tot navorsing en argeologiese opgrawings, aangesien terreine grotendeels ongeskonde is.

Tydens die ondersoek in 2021, is 37 plekke van belang by Crook’s Corner geïdentifiseer, waarvan 32 besoek is. Gedurende 1910 is ‘n winkel gebou deur Alex Thompson en William Pye. Dit was geleë bo-op ‘n koppie en was dié bymekaarkomplek van die manne in die omgewing. Die opgrawings by hierdie terrein is in 2022 deur Van Vollenhoven en sy span aangepak en voltooi.

Vanjaar was die tweede jaar wat die terrein van Considine en Lumley aandag geniet het. ‘n Werwingsindikaat om arbeiders vir die myne te werf en onder meer vir Bekvenya Barnard ingesluit het, het ontstaan. Hulle opposisie het bestaan uit vyf manne naamlik ‘n Wallieser, Theo Williams, Considine – ‘n Griek, ‘n Sweed, Colson, Johan Dart – ook van Wallis en Wieder, ‘n Hongaar.

Considine sterf aan malaria en is by Pye se kamp begrawe. Die legende dat Considine goud in sy hut begrawe het, het baie gemotiveer om daarvoor te gaan soek, maar was onsuksesvol. Ene Lumley, ‘n prospekteerder, het Considine se kamp oorgeneem en later is dit deur ‘n man, Mdoseni, gebruik.

Dit is by hierdie terrein, genoem Considine en Lumley, waar die afgelope twee jaar se opgrawings gedoen is. Hier is ‘n reghoekige klipmuur met trappe en twee ingange aan die noordelike kant gevind.  Hut- en kraal-oorblyfsels was ook sigbaar. Hierdie terrein is opgedeel in verskillende dele waar spanne die opgrawings onder die leiding van Van Vollenhoven gedoen het.

‘n Ashoop is ook opgegrawe en ‘n verskeidenheid voorwerpe is gevind, onder meer skroewe, spykers, stukkies blik, stukkies porselein, dele van ysterpotte en kraletjies. Die hut was die interessantste op die terrein. Daar is aanvanklik lank gesoek na die vloer. Met groot omsigtigheid word bolae grond, gras en bossies verwyder. Die ontdekking van ‘n stukkie gebrande kleimuur het groot opgewondenheid veroorsaak en uiteindelik is dele van die misvloer letterlik met ‘n kwas ontbloot.

Alle artefakte wat ontdek is, is verpak en volledig gedokumenteer. Die projek is suksesvol voltooi. Wanneer Van Vollenhoven alles geanaliseer het, gaan die artefakte na die Polokwane Museum.

Volgens Van Vollenhoven het hierdie terrein toerisme-potensiaal, aangesien dit direk langs ‘n grondpad is.

Die span het in Punda Maria kamp gebly en elke dag heen en weer na die terrein gery vir hul werk – onder die bewaking van ‘n gids wat die hele tyd uitkyk vir moontlike gevaar. ‘n Kremetartboom het die hele tyd oor die span gewaak, ‘n span wat hulle kon inleef in die mistieke wêreld van Crooks Corner – ‘n eeu of wat gelede.

 
 
 

Viewed: 1490

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

McDonald’s Suid-Afrika loods hul “Ken Ons Kos” veldtog

Advertorials: 12 July 2024

McDonald’s Suid-Afrika het ‘n veldtog geloods wat daarop gemik is om verbruikers meer te vertel oor die kwaliteit van hul voedselprodukte, asook die klem wat die maatskappy plaas op volhoubare produksie en etiese werkswyses by verskaffers.

ADVERTISEMENT