ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se tweedespan stut FC Phillipson stoomroller sy pad oop na die doellyn - tot ‘n groot mate ‘n refleksie van die hele tweedespan wedstryd, met Louis Trichardt wat Kruinies 53-0 vermorsel het om as wenners van die Limpopo senior amateur tweedeliga uit die stryd te tree. Ook Louis Trichardt se eerstes het geseëvier as wenners van die provinsiale amateur eersteliga, alhoewel hulle baie harder moes veg om te wen.

Geskiedkundige wen vir dorp se eerstes en tweedes

Date: 21 July 2023 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Rugbyklub het Saterdag, 15 Julie, geskiedenis gemaak toe beide hulle eerste- en tweedespan vir die eerste keer as algehele wenners van die provinsie se senior amateur rugbyliga uit die stryd getree het.

Louis Trichardt is al vir dekades ‘n krag om met rekening te hou wat klubrugby in die provinsie betref en het al verskeie kere die afgelope 30 jaar wenspanne in die vorige provinsiale liga ingesluit. So wen die dorp se eerstespan vir drie agtereenvolgende jare (vanaf 1993 tot 1995) die Tom Naudé-liga. In 1998 beklink hulle die Hentie Serfontein-liga en in 2011 die Boet Fick-liga. Die dorp se tweedes wen op hulle beurt ook die Boet Fick-liga in 2011 en die senior liga in 2019, terwyl die dorp se derdespan in 1998 die Hentie Serfontein-liga ingepalm het. Vanjaar het hulle tweede in die derde liga geëindig.

Louis Trichardt het weer tuisveld voordeel vir beide wedstryde geniet. Die tweedespan se wedstryd teen Kruinies het vir baie toeskouerwaarde gesorg, veral as mens ‘n Louis Trichardt ondersteuner was. Met ‘n halftyd-telling van 29-0 en ‘n eindtelling van 53-0 in Louis Trichardt se guns is plaaslike ondersteuners getrakteer op ‘n fees van drieë.

Die drie-drukkers gedurende die eerste helfte was Toni Marageni wat twee keer agter die opponente se doellyn gaan kuier het, terwyl Hanga Murembiwa, Dylan Hugo en FC Phillipson elk een drie gedruk het. Julius Kemp het op sy beurt bygedra met die skopskoen.

Louis Trichardt se segetog doellyn toe het in die tweede helfte voortgeduur,  asook Kruinies se treurmare. Weer was dit Marageni wat twee keer agter die doellyn gaan kuier het met drieë ook deur Walter Pretorius en Gibias Mavenyengwa. Hanga Murembiwa het met sy skopwerk bygedra tot die finale telling.

Die eerstespanwedstryd tussen Louis Trichardt en Potties was minder van ‘n skouspel, met Potties wat die plaaslike ondersteuners ‘n benoude paar oomblikke besorg het. Vir die eerste sowat 20 minute van die wedstryd het Potties op die doellyn in Louis Trichardt se helfte geboer. Die Louis Trichardt manne het egter die druk goed geabsorbeer en teen halftyd was die telling 12-10 in Louis Trichardt se guns. Die puntemakers was Werner Denner en Rasenge Kubayi, wat elk een drie druk, terwyl Louis Fourie een doelskop deur die pale gestuur het.

Die tweede helfte van die wedstryd was soos die eerste helfte ‘n nabye stryd gewees, met nie een van die spanne wat op die telbord kon weghardloop nie. Met die blaas van die eindfluitjie was die telling van 25-19 in die guns van Louis Trichardt – ‘n verskil van slegs 6 punte. Gedurende hierdie helfte was die tuisspan se puntemakers weer Werner Denner met ‘n verdoelde drie, terwyl JP Vermeulen suksesvol was met twee strafskoppe.

Wat individuele prestasies betref is Dylan Hugo van Louis Trichardt aangewys as Speler van die Wedstryd in die tweedespanne se kragmeting, terwyl AC Geldenhuys die Speler van die wedstryd was in die eerstespanne se stryd. AC het ook as kaptein van die eerstes die trofee as provinsiale wenners ontvang.

 

 
 
 

Viewed: 1811

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT