ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Limpopo en NTT Vikings te sterk vir opposisie

Date: 13 July 2023 By: Andries van Zyl

Limpopo Melkery het Saterdag, 8 Julie, afgereken met Louis Trichardt Academy, waarna die NTT Vikings op Sondag, 9 Julie, korte mette gemaak het met die Strikers in die Louis Trichardt Krieketklub se volgende ronde wedstryde in hulle T20-liga.

Louis Trichardt Academy het ingegaan om eerste te kolf, met openingskolwer Ikram Patel wat ‘n goeie fondasie van 68 lopies gelê het voordat sy paaltjie gekantel het. Daarna het ook goeie dubbelsyferbydraes deur Nimesh Watekar (37 lopies) en Jabir (van onbekend) met 40 lopies (nie uit nie) gehelp om Academy se telling na 186/4 te neem in hulle toegelate 20 beurte. Vir Limpopo Melkery het Leon Olwage, Pagad (van onbekend) en Joubert Fourie elk een paaltjie geneem, met boulontledings van onderskeidelik 1/33/4, 1/39/4 en 1/40/3.

Limpopo het daarna ingegaan om te kolf, met openingskolwers Leon Olwage en AJ Fourie wat feitlik alleen die wedstryd beklink het. Leon het 145 lopies (nie uit nie) gemoker en AJ 15 lopies. Hul goeie fondasie het die span na oorwinning geneem in die 18de boulbeurt, met ‘n telling van 187/4, wat aan Limpopo ‘n ses-paaltjie oorwinning besorg het. Vir Academy het Irfan Patel 2/32/4, Ikram Patel 1/31/4 en Rehan Patel 1/17/1 geneem.

In die tweede wedstryd van die naweek het die Strikers eerste ingegaan om te kolf in hul wedstryd teen die NTT Vikings. Dubbelsyferbydraes met die kolf is gelewer deur Gerhard Dreyer (20), Hanco Kok (44), Mohammed Langdi (13de), Willem-John Phillipson (11), Ettienne van Heerden (36) en JP van Niekerk (16), wat die Strikers se telling geneem het na 166/7 in hulle 20 beurte. Vir die Vikings was Bielie van den Berg in verwoestende vorm, met ‘n boulontleding van 4/16/4. AC Geldenhuys het 2/34/4 en Waldo van Deemter 1/29/4 ingeoes.

Die NTT Vikings se kolwers het hulle nie laat afsit deur die telling nie, met al vyf die eerste kolwers wat dubbelsyfers aangeteken het. Gysbert Guillaume het uitgestaan met 57 lopies, terwyl Leon Furstenburg, Warno Smit, Zander Volgraaff en AC Geldenhuys onderskeidelik 28, 19, 28 en 21 lopies aangeteken het om die Vikings se telling na 167/4 te neem in 16.2 beurte, wat aan hulle ‘n ses-paaltjie oorwinning besorg het. Vir die Strikers het boulers Paulo Piorek 2/24/4, Ettienne van Heerden 1/40/4 en Hanco Kok 1/26/2 geneem.

Eerskomende Saterdag, 15 Julie, om 14:00 kom Limpopo Melkery teen die Strikers te staan, waarna die Warriors en Louis Trichardt Academy vanaf 12:00 op Sondag, 16 Julie, sake sal uitspook. Beide wedstryde vind op die Louis Trichardt Ovaal plaas en toeskouers is welkom.

 

 
 
 

Viewed: 1027

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT