ADVERTISEMENT:

 

 
 

Marno van Zyl het Sondag die Junior-mansafdeling gewen van die Total Kremetart XCO in ‘n tyd van 01:13:25.

Plaaslike bergfietstalent palm top XCO podiumplekke in

Date: 11 June 2016 By: Andries van Zyl

Ná die opwinding van die Kremetart padfietswedrenne op Saterdag, was dit Sondag (5de) die bergfietsryers se beurt om hul vernuf in die saal te wys tydens die Total Kremetart XCO.

Die baie koue en effens nat weer was nie genoeg om deelnemers af te skrik nie en het die groot hoeveelheid jong kinders wat in die Nippers- en Sprogs-afdeling ingeskryf het die organiseerders se harte warm laat klop. “Bergfetsry se toekoms lyk blink met soveel jongelinge wat die sportsoort aanpak,” het talle opgemerk.

Met Louis Trichardt wat as gasheer opgetree het, het die wedrenne weereens ‘n groot groep plaaslike deelnemers gelok. Alle oë was egter weereens op die ouer ouderdomsgroepe, veral ten opsigte van die hoërskoleliga wat eersdaags op nasionale vlak afskop.

Een van hierdie jongelinge wat beloof om vanjaar werklik naam te maak op pad na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe by Hoërskool Bekker later vanjaar, is Richard Lambert. Richard het Sondag weereens ‘n puik wedren gehad in die Youth-mans afdeling (15 tot 16 jaar) en ‘n gemaklike eerste plek losgetrap in dié afdeling. Hy het sy drie rondtes in 51 minute en 25 sekondes voltooi – meer as twee minute vinniger as sy naaste teenstander, Dawie Grobler in 53 minute en 43 sekondes. Derde in hierdie kategorie was Carel Smit, wat in 55 minute en 54 sekondes geëindig het. Richard het die vorige dag algeheel vierde geëindig in die Kremetart 70 km-wedren – op ‘n geleende padfiets.

Christelle Coetzer, wat onlangs vanaf Tzaneen na Louis Trichardt “geïmmigreer” het, is nog ‘n belowende jong plaaslike fietsryer wat vinnig besig is om opgang te maak in die Youth-meisies afdeling. Sy het Sondag behoorlik die kompetisie uitgestof en eerste geëindig in haar kategorie. Sy het haar drie rondtes in 01:00:25 voltooi, meer as drie minute vinniger as Lara Dondo in die tweede plek in 01:03:22. Anna-Eliza Gutierrez was derde in ‘n tyd van 01:04:03. Dit moet genoem word dat Christelle die vorige dag die algehele vrouewenner was van die Kremetart 70 km-wedren, en asof die wedren nie genoeg was nie, het sy ná die 70 km van haar fiets afgeklim, haar tekkies aangetrek en drie kilometer gaan draf ter voorbereiding vir haar deelname aan die Suid-Afrikaanse Tweekamp in Bloemfontein later vanjaar.

Die Junior-mans afdeling (17 tot 18 jaar) het vanjaar op provinsiale vlak ‘n goeie kompetisie opgelewer tussen 'n paar manne. Daar is ‘n groot kompetisie tussen twee plaaslike manne, Douglas Archer en Marno van Zyl, om vanjaar onder die provinsie se top drie manne te wees. Sondag was dit weer Marno wat met die louere in die wedren weggestap het. Hy het sy vier rondtes in ‘n tyd van 01:13:25 voltooi. Matthew Wilkinson was tweede in 01:14:10, met Douglas in die derde plek in 01:20:21. Daar moet bygevoeg word dat Douglas se bene bietjie moeg was, aangesien hy die vorige dag as deel van die dorp se eie Tac-Pulse-span die 175 km-wedren gery het.

Kombo Bere, wat teen dié tyd geen bekendstelling nodig het nie, het geen kompetisie gehad in sy Elite-mans afdeling nie en het sy vier rondtes gemaklik in ‘n tyd van 01:08:44 afgelê. Die tweede- en derde-plek wenners, Adrian Joubert en Tiaan Fullard, het drie rondtes in tye van onderskeidelik 01:13:20 en 01:16:52 voltooi. Duidelik was Kombo se bene nie te moeg nie, alhoewel hy die vorige dag ook as deel van die Tac-Pulse-span die 175 km-wedren gery het. Hy is tans in baie goeie vorm, maar wat anders kan mens verwag van hierdie jong fietsryer wat vanaf 28 Junie tot 3 Julie sy geboorteland, Zimbabwe, gaan verteenwoordig by die Wêreld Bergfietskampioenskap in die Tsjeggiese Republiek?

Alhoewel hulle nie in dieselfde ouderdomsgroep meeding nie, maar wel saam weggespring het, was daar so ietwat van ‘n persoonlike kompetisie tussen sub-veteraan Gordon Gilbert en Kombo. Gordon, voorheen ‘n professionele sokkerspeler, se naam is welbekend in die fietsrywêreld. Saterdag het hy die 70 km-wedren gemaklik gewen in ‘n tyd van 01:49:10. Tydens Sondag se wedren het hy deurlopend op Kombo se agterwiel gebly. Hy het uiteindelik voor Kombo geëindig en die sub-veteraan afdeling gewen. Was dit egter nie dat Kombo tydens die laaste rondte van die wedren geval het, en daardeur vir Gordon kans gegee het om verby te gaan nie, sou Kombo hom egter steeds redelik gemaklik geklop het. Gordon het die sub-veteraan afdeling vir mans in 01:08:20 gewen.

Buiten vir hulle eerste plekke in hulle ouderdomsgroepe, het Kombo en Christelle Sondag ook die vinnigste rondte-tye opgestel vir mans en vroue onderskeidelik. Vir volledige uitslae van die Total Kremetart XCO, besoek www.timeme.co.za, gaan na uitslae (Results) en klik op die Total Kremetart XCO skakel.

 
 
 

Viewed: 1338

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Christelle Coetzer het Sondag behoorlik die kompetisie uitgestof en eindig eerste in haar kategorie. Sy voltooi haar drie rondtes in 01:00:25

Gordon Gilbert, voorheen ‘n professionele sokkerspeler, se naam is welbekend in die fietsrywêreld. Tydens Sondag se XCO wen hy die sub-veteraan afdeling in 'n tyd van 01:08:20.

Kombo Bere het geen kompetisie gehad in sy Elite-mans afdeling nie en voltooi sy vier rondtes gemaklik in ‘n tyd van 01:08:44.

Richard Lambert het Sondag weereens ‘n puik wedren gehad in die Youth-mans afdeling (15 tot 16 jaar) en trap ‘n gemaklike eerste plek los in dié afdeling tydens die Total Kremetart XCO.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT