ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

’n Plasing op meegaande Facebook-blad wat “beleggers” buitensporige opbrengste belowe in die kolom regs. Foto vanaf Facebook.

Talle beleggers platsak gelaat

Date: 20 September 2024 By: Andries van Zyl

Gerugte doen die ronde dat heelwat inwoners, van sakemanne tot klein salaristrekkers, die afgelope paar maande weer groot geld verloor het in talle aanlyn-slenters. Hierdie slenters word almal as piramiedeskemas bedryf, en dit gaan die verstand te bowe hoe mense aanhou om vir hierdie slenters te val.

Daar is tans ’n magdom slenters waar jy ’n vis, voël of selfs ’n vark kan koop, en dan verdien hierdie denkbeeldige gedierte vir jou buitensporige opbrengste op jou aanvanklike beleggingsbedrag. Dan is daar ook skemas wat die myn van kriptogeld bemark. Een van die nuutste slenters behels die koop van ’n asteroïde.

Registrasie vir al hierdie slenters vind aanlyn plaas, hetsy via Facebook, ’n webblad, of dikwels ook op ’n WhatsApp-groep. Kommunikasie is nooit een tot een met ’n persoon nie en feitlik altyd via WhatsApp. Soms is daar ’n "agent" wat namens jou optree, maar dikwels moet die belegger self transaksies inisieer vanaf sy of haar aanlyn profiel op die webblad, soos met die myn van kriptogeld. Die kontaknommers van die persone agter die "skerms" is feitlik altyd buitelands en is nooit beskikbaar nie.

Soos in enige goeie piramiedeskema is dit meestal net diegene wat eerste "belê" wat geld maak, en selfs hulle kry dikwels nie hul aanvanklike belegging terug nie. Wanneer die skema dan in duie stort, is dit gewoonlik diegene wat laaste "belê" het wat alles verloor.

Maar hoe werk hierdie skemas? Die Internet wemel van hierdie "word-vinnig-ryk" geldmaak-piramiedeskemas, en dit is verbysterend hoe hierdie mense toegelaat word om ander so blatant te besteel sonder enige nagevolge. Binne enkele minute kon die koerant verskeie van hierdie webblaaie identifiseer. By een skema kon jy ’n eend koop vir R200, met die belofte van ’n opbrengs van R15 per dag vir 200 dae vir ’n totaal van R3,000. Dit is ’n ongelooflike 1,400% "wins" op die aanvanklike beleggingsbedrag, en dit is juis hierdie belofte van buitensporige en onrealistiese winste wat voornemende beleggers telkens in die slagyster laat trap.

Maar is dit net gierigheid wat mense vir hierdie slenters laat val, of is daar ander redes? Daar is beslis ’n argument vir gierigheid, aangesien die meeste "beleggers" net ’n maklike manier soek om geld te maak.

Daar is egter ook ’n ander bepalende faktor: desperaatheid. Die Zoutpansberger kon twee beleggers opspoor wat die afgelope ses maande in hierdie tipes skemas belê het en in albei gevalle alles verloor het. Hulle wou uit die aard van die saak nie geïdentifiseer word nie.

Die eerste belegger het vroeër vanjaar in ’n vis belê, nadat sy seun hom oortuig het om by die skema aan te sluit. "Hy het goed geld gemaak, of dit is wat hy gesê het," het die man gesê. In daardie stadium het dit finansieel nie goed gegaan met hom nie, en die belofte van vinnige rykdom het hom hoop gegee.

Hy het ’n vis vir R8,000 gekoop. Hy was opgewonde toe hy binne twee weke reeds R2,000 "wins" kon onttrek. Hy het dadelik die R2,000 gebruik om vir sy vrou ook ’n vis te koop. Saam het hulle gesien hoe hul belegging "groei", en toe dit die R20,000-kerf bereik het binne ’n paar weke, het hulle besluit om hul geld te onttrek. "Hulle het vir ons gesê daar is ’n 24-uur wagperiode. Die 24 uur het gekom en gegaan, maar ons geld is nooit uitbetaal nie, en so ook nie aan enige van die ander mense wat saam met ons gewag het nie," het die man gesê.

Die swendelaars het verskeie maniere om te verseker dat "beleggers" aanhou belê. Een daarvan is om hulle winste weer te belê in meer visse, eende, varke, asteroïdes, of wat ook al. As die "uitkeerdatum" begin naderkom, word beleggers ook gekontak met spesiale aanbiedinge om hul "bate" vir ’n korter tyd te herbelê teen nog groter opbrengste.

"Almal wat besig was met die ding, het hulle geld teruggekry. Dit is hoekom ek dit probeer het. Maar met my geluk het ek alles verloor," het die man gesê. Hy het dit maar aanvaar. "Wat help dit? Waar kla jy?" het hy gesê.

Die tweede belegger het in die myn van kriptogeld belê, nadat sy kollegas by die werk hom oorreed het om dit te doen. "Ek was aanvanklik skepties, maar toe almal sê hulle kry hul geld terug, toe belê ek," het die man gesê.

Volgens hom het hy geregistreer en alles het wettig gelyk. "Daar was ongelooflik baie papierwerk wat alles baie wettig laat lyk," het hy gesê. Ook hy was in ’n finansiële verknorsing.

Die man het aanvanklik net R1,000 belê. Ná ’n maand het hy sy R1,000 teruggekry. Oortuig dat die skema werk, het hy toe besluit om meer te belê. Hy het vir dié doel ’n R30,000 banklening aangegaan en R27,000 daarvan in die myn van kriptogeld belê.

Maar toe die uitkeerdatum aanbreek sonder enige uitbetaling, het hy besef dat dit ook ’n slenter was. Hy het al sy geld verloor en sit nou boonop met ’n maandelikse terugbetaling aan die bank. "Daar is nie een ou wat kan sê hy het nie geweet dit is 'n kans wat hy vat nie. Almal weet dit. ’n Ou hoop maar net altyd dat die skema ’n bietjie langer hou, sodat jy iets kan kry. Ek verdien nie ’n groot salaris nie, en ’n ou vat ’n kans in die hoop dat jy ’n bietjie sal voor kom. Maar ek was liggelowig..." het die man gesê.

Dit blyk weer eens dat mense wat vir hierdie slenters val, die goue reël ignoreer: As iets te goed klink om waar te wees, is dit te goed om waar te wees. Die ander goue reël is om eerder met ’n geregistreerde finansiële adviseur te praat en by ’n geregistreerde beleggingskema te belê.

"Dit is vir my verstommend dat mense eenvoudig nie leer uit hul eie of ander mense se foute nie. Dit wys net die mag van gierigheid," het Lourens Greyling, ’n senior finansiële adviseur by Dynamis BlouSter, gemagtig deur Sanlam, in Louis Trichardt gesê.

Volgens Lourens is die stelling van die tweede belegger, dat hy geweet het hy vat ’n kans, ontstellend. "Dit sê vir my dat mense wel die gevaartekens kan sien, maar dit doelbewus ignoreer om 'wins' na te jaag. Wat hulle nie noodwendig besef nie, is dat hierdie sogenaamde ‘wins’ eintlik ’n ander persoon se kapitaal is. Hulle sit inderwaarheid met gesteelde geld — ander hoopvolle 'beleggers' se geld," het Greyling gesê. Dit sluit pensionarisse se enigste bron van inkomste in. "Net ’n vraag, Meneer Belegger: Hoe sal jy reageer as iemand anders jou ouers se aftreegeld gesteel het, omdat die persoon vroeg genoeg uit die skema uitgeklim het voordat dit ineengestort het?" wou Greyling weet.

Greyling het weer eens gewaarsku dat, al sou ’n persoon "vroeg genoeg" uit ’n piramiedeskema klim, daardie persoon nie skotvry sal wegkom nie. "Wanneer die piramiede ineenstort, word beslag gelê op ALLE opbrengste wat uit hierdie skema onttrek is, aangesien dit proceeds of crime is. Dit is beslis ’n groter risiko as om jou geld op die aandelebeurs te belê, want jy sal jou 'winste' moet teruggee. Daarby kan jy ook ’n deeglike oudit van SARS verwag. Jy sal moet verduidelik waarom jou bankstate nie met jou IRP5 en IT3(a/b/c) sertifikate ooreenstem nie," het Greyling gewaarsku.

Hy het ook beklemtoon dat, wanneer ‘n belegging ’n opbrengs van meer as 7% bo inflasie per jaar belowe word, dit met taamlike groot risiko gepaardgaan. "Ons in die gereguleerde beleggingsomgewing is verplig om alle risiko's aan kliënte uit te wys. Dit skep dalk die persepsie dat gereguleerde beleggings ook groot risiko's inhou, maar dit is gewis nie waar nie. Die verskil tussen risiko en wisselvallige opbrengs moet goed verstaan word," het Greyling gesê.

As ’n geregistreerde finansiële adviseur het Greyling gesê dat dit vir hom verbysterend is dat mense ’n leek met hul swaarverdiende geld vertrou. "Ek is seker hulle sal nie ’n kollega of iemand op Facebook vertrou om hul kind se mangels te verwyder nie. Nee, hulle sal tog ’n dokter raadpleeg en betaal. Hierdie beleggers wil nie ’n minimale adviesfooi betaal om kundige raad in te win nie, maar is bereid om hul totale belegging te waag," het Greyling gesê.

 
 
 

Viewed: 447

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT