ADVERTISEMENT:

 

 

Find a story:

 
 

Generiese foto.

Bedrywige naweek in plaaslike T20-liga

Date: 19 September 2024 By: Andries van Zyl

Dit was weer ‘n bedrywige naweek op die Louis Trichardt Ovaal, met drie wedstryde wat beslis is in die Louis Trichardt Krieketklub se tweede T20-liga van die jaar. Saterdag het RCI teen Limpopo Melkery te staan gekom en Sondag het Limpopo en die Strikers mekaar gepak, waarna die Killers en Roaring Lions mekaar die stryd aangesê het.

Wat Saterdag se wedstryd betref, gaan RCI in om eerste te kolf en teken 172 lopies vir die verlies van sewe paaltjies (172/7) in hulle toegelate 20 beurte aan. Hierdie telling was danksy dubbelsyferbydraes met die kolf deur Usman Arshad (43) en Irfan Bhana (40). Kolwers Ikram Patel (23), Dilawar Patel (23), Naeem Patel (14) en  Nimesh Watekar (11) het ook dubbelsyfers aangeteken. Vir Limpopo neem Iqram Patel drie paaltjies vir die verlies van 26 lopies in sy toegelate vier boulbeurte (3/26/4), terwyl spanmaats JP van Niekerk, Rikus Smit, Amir Daif Bux en Ifran Patel elk een paaltjie laat kantel.

Limpopo het in hulle kolfbeurt goed kop gehou en teken die nodige wenlopies in 19.1 beurte aan, met ‘n telling van 174/6, wat aan hulle ‘n vier-paaltjie oorwinning besorg. Die wen was grootliks te dankie aan Gerhardus Fourie wat 67 lopies moker, en Leon Furstenburg en Abid Patel wat op die stertkant eindig met lopies van onderskeidelik 41 en 19, nie uit nie. Die enigste ander kolwer wat tot dubbel-syfer kon kolf was aanvangskolwer AJ Fourie, met 18 lopies. Vir RCI staan bouler Daliwar Patel uit met ‘n boulontleding van 4/23/4. Spanmaats Saad Zubair en Vimal Shah laat elk een paaltjie kantel.

In Sondag se eerste wedstryd van die dag het Limpopo teen die Strikers te staan gekom. Limpopo het voortgebou op hulle sukses van die vorige dag en plaas ‘n uitdagende teiken van 204/4 op die telbord in hulle kolfbeurt. Net meer as die helfte van die lopies word deur kolwer Leon Furstenburg gemoker en hy eindig op 102 (nie uit nie) in ‘n beurt wat ingesluit het 14 viere en vier sesse. Hy is goed ondersteun deur Juan Phillips, wat 61 lopies aanteken. Vir die Strikers neem bouler Phindulo Tshivhase 2/30/4, terwyl Alex Fourie en Hanco Kok elk een paaltjie inoes.

Die Strikers se kolwers het dapper geveg, maar skiet tekort deur 182/7 op die telbord te plaas in hulle toegelate 20 beurte, wat aan Limpopo ‘n 20-lopie oorwinning besorg. Vir die Strikers het aanvangskolwer Dirk van den Berg ‘n goeie fondasie probeer lê, met 73 lopies van 50 balle af. Dubbelsyferbydraes kom ook van Jacques Burger (14), Jerome Koekemoer (34) en Phindulo Tshivhase (10).

In die naweek se laaste wedstryd Sondagmiddag stap die Roaring Lions (Hoërskool Louis Trichardt) en Killers teen mekaar op die veld. Die Roaring Lions gaan in om eerste te kolf en veg hul pad oop tot 130 lopies, almal uit, in 18.3 beurte. Vir die Roaring Lions was daar dubbelsyferbydraes deur kolwers Brendan Bruce (16), Craig Viljoen (17), Wynand Benade (19) en Ali Patel (16). Vir die Killers neem boulers Rudie en Stefan Swanepoel onderskeidelik 2/23/3 en 2/15/3. Spanmaats Julius Kemp, Lukas Visser, Dian van Tonder, AC Geldenhuys en Zander Vollgraaff trek ook elkeen ‘n paaltjies plat.

Die Killers het net 12 beurte nodig gehad om die teiken te jaag en wen die wedstryd met vier paaltjies met ‘n telling van 131/6. Vir die Killers is AC Geldenhuys die top kolwer met 57 lopies vanaf slegs 25 balle, wat ingesluit het vier viere en vyf sesse. Ander dubbelsyferbydraes is gelewer deur kolwers Rudie Swanepoel (12) en Julius Kemp (20). Vir die Roaring Lions neem bouler Brendan Bruce 2/29/4, terwyl enkelpaaltjies geneem word deur Juandro Kruger, Eckhard Dreyer, Wynand Benade en Ali Patel.

Eerskomende naweek word daar weer drie wedstryde beslis. Saterdag, 21 September, om 14:00 kom RCI en die Strikers teen mekaar te staan. Sondag om 10:00 is dit die beurt van RCI en die Roaring Lions om sake uit te spook en die middag om 14:00 sê Limpopo en die Strikers mekaar die stryd aan. Al die wedstryde word op die Louis Trichardt Ovaal gespeel en toeskouers is welkom.    

 

 
 
 

Viewed: 109

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT