ADVERTISEMENT:

 

 
 

Reënval in die Soutpansberg is ver onder gemiddeld met kenners wat waarsku dat die winter moontlik buitegewoon droog gaan wees.

Havinga waarsku teen koue en droë winter

Date: 11 April 2024 By: Andries van Zyl

Dat ons weer bietjie deurmekaar is, is seker. In die Kaap het sterk winde en gepaardgaande brande die afgelope week chaos gesaai en in Gauteng het plek-plek oorstromings voorgekom. Op die plaaslike front het inwoners tot Woensdag amper ‘n week laas die son gesien, met koue en nat weer daagliks.

Wat dit betref, het baie die vraag gevra: Is dié weer normaal vir hierdie tyd van die jaar?

“Vir my is dit normaal, want die weer kan enige kant toe gaan omdat dit herfs is,” het Fanie Havinga van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie gesê. Hy het spottenderwys gesê hy gaan hom nie uitlaat oor die Kaap se weer nie. “Dit is hulle eie moeilikheid. Hulle is nie verniet die Kaap van storms nie,” het Havinga gesê.

Op ‘n ernstiger noot het Havinga gesê dat hy baie dankbaar is vir die reën wat die afgelope week oor dele van die Soutpansberg geval het, aangesien sommige plekke reeds bitter droog is, met die winter op hande. “Vir ons was dit perfekte reën gewees. Dit het ons bas gered,” het Havinga gesê. Hy noem dat hy die afgelope week 34 mm gemeet het, maar weet van boere in meer sentraal Levubu wat tot 80 mm aangeteken het. Op Louis Trichardt is ook sowat 30 mm aangeteken, maar dan ook het sommige boere verder suid en noord van die berg geen reën ontvang nie. Mopanie het blykbaar bietjie reën gehad, maar nie genoeg nie. “Daardie ouens, die Bosveld, het dit bitter nodig!” het Havinga gesê.

Volgens Havinga het die afgelope week se reën nie regtig bygedra tot beter vooruitsigte vir oes en weiding vir die winter nie. “As ek sê die reën het ons basse gered, praat ek spesifiek van ons watertafels. Ons kyk nie eers na gewasse nie, want onthou, ons het klaar ons skade gehad met einde verlede jaar se hitte. Hierdie reëntjie help net dat die plante so ‘n bietjie sterker in die winter kan ingaan. So, dit het gehelp met die ondergrondse water. Dit is nog nie genoeg nie en ons kan doen met nog,” het Havinga gesê.

Havinga het gesê dat die streek beslis ondergemiddelde reënval gehad het die afgelope reënseisoen. Soos wat hy voorspel het, het November verlede jaar se droë omstandighede hulleself in Februarie vanjaar herhaal. Hy glo daaraan dat indien min of geen reën in November val nie, die scenario homself in die daaropvolgende Februarie herhaal. Dit het wel so gebeur, met swak reën oor die streek in Februarie, wat tradisioneel ‘n goeie reënmaand is.

“Ons het nie genoeg reën gehad om ons deur die winter te trek nie. Dit is wat ek dink. Agter die berg dink ek die ouens gaan in ‘n krisis inloop as ek moet kyk hoeveel lusern die ouens reeds aankoop om hulle wild te voer. Daar is nie gras in die veld nie,” het Havinga gesê.

Vir alle praktiese doeleindes is die Soutpansberg se reënseisoen nou verby. “Ja, die seisoen gaan nou draai. Ons is nou op pad winter toe. As ons baie gelukkig is, kan ons miskien met ‘n koue front in die winter reën kry, maar my voorspelling is ons gaan ‘n koue en droë winter hê ... ek hoop ek is verkeerd,” het Havinga gesê.

Wat die nuwe reënseisoen in die tweede helfte van die jaar betref, het Havinga gesê hy verwag steeds ondergemiddelde neerslae. Sy raad nou aan boere is dat hulle fyn beplanning sal moet doen om net eers deur die winter te kom.

 

 
 
 

Viewed: 1038

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT