ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die pragtige argitektuur van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt.

Doppers se voetspore lê reeds sedert middel 1800’s in Soutpansberg

Date: 04 November 2023 By: Andries van Zyl

Die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt was inderdaad die korrekte antwoord op die fotoleidraad in die Zoutpansberger se 16de skattejag-kompetisie. Die gemeente en kerkgebou is een van die streek se oudste en spog met ‘n geskiedenis van bykans 100 jaar.

Die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt het amptelik gestalte geneem op 9 April 1926, toe die plaaslike wyk aan die kerkraad van Pietersburg laat weet het dat hulle wil afstig. “Die voorwaardes is: dat die nuwe gestigte gemeente ‘n gedeelte van die skuld sal oorneem volgens die getal van die lidmate en ook self sal sorg vir die verskillende fondse. Dit is op die vergadering van 10 Julie 1926 toegestaan,” lees ‘n uittreksel uit die Jubileumfees 1889 – 1939 van die Gereformeerde Kerk Pietersburg.

Die hoeksteen van die huidige kerkgebou is op 24 April 1937 deur ds. P.J. de Klerk gelê en die gebou het sitplek gebied vir ongeveer 260 mense. Die kerkgebou is gebou volgens ‘n plan van die argitek P.S. Dykstra. Die lidmate het self die bouwerk gedoen. Later sou die kerk vergroot word. Foto: Gereformeerde Kerk Louis Trichardt 75ste Bestaansjaar 1927 -2002.

Die uittreksel vervolg: “ En nadat dit deur die Klassis op Nylstroom op die 10de Augustus van dieselfde jaar goedgekeur is, is die wyk Louis Trichardt op die 3de Sondag in Januarie 1927 afgestig as die Gereformeerde gemeente van Louis Trichardt.”

Alhoewel die hoeksteen van die Gereformeerde gemeente Louis Trichardt 24 April 1937 lees, die dag wat die nuwe kerkgebou in gebruik geneem is, strek die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in die streek veel verder terug. In die voorwoord van die Halfeeufees, Gereformeerde Kerk Louis Trichardt 1927 -1977 is die volgende opgeteken: “Veral wat die beginjare betref, is dit die geskiedenis van die kerk op die voorposte in die pionierstyd, ook van ons volksgeskiedenis in Noord-Transvaal, veral as ons daaraan dink dat reeds in 1859 ‘n gemeente, die Gereformeerde Kerk Soutpansberg, ontstaan het, wat ongelukkig in 1867 weer moes verdwyn as gevolg van oorloë met die swart volke.”

Kort ná die stigting van die gemeente Louis Trichardt het die gemeente ‘n groot terugslag beleef, met ds. H.P.J. Pasch (predikant van Pietersburg wat ook op Louis Trichardt bedien het) wat op 8 Julie 1927 na Lindley vertrek het, waar hy ‘n beroep aanvaar het.

In daardie stadium was die kerk nie geleë waar dit vandag is nie. “Ons kerk was maar ‘n klein geboutjie op die hoek van Rissik- en Burgerstraat, waar die Volle Evangelie Kerk nou staan. Gedurende 1937 is die eerste gedeelte van die huidige kerkgebou opgerig,” skryf wyle oom Martin Venter, oud-skriba en ouderling van die gemeente, in ‘n uittreksel uit die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt 75ste Bestaansjaar 1927 tot 2002.

Die gemeente se eerste kerkraad het bestaan uit ouderlinge F. Kruger, J.G. Cloete, J.S.M. Venter, D. du Plessis, J.A. Venter en W. du Preez. Die eerste diakens was F. Smit, P.H. Cloete, D. Venter, J. Bothma en L. du Plessis. Van 1930 tot 1941 sou ds. P.J de Klerk (wat ook die kerkgebou se hoeksteen gelê het) die gemeente bedien, met die gemeente wat sy eerste eie predikant, ds. I.J. van der Walt, in 1941 ontvang het.

Wyle oom Martin vertel verder: “Die eerste Afrikaanse Bybel het in 1933 sy verskyning gemaak. Die Bybelgenootskap het ook bydraelyste beskikbaar gestel vir Bybelverspreiding. As jy ‘n sekere bedrag gekollekteer het, was jy beloon met ‘n nuwe Afrikaanse Bybel. Ek en my broer Albert was trotse ontvangers van so ‘n Bybel. ‘n Bybel het destyds ‘n halfkroon gekos.”

Die kerkgebou spog nog met die oorspronklik ontwerp soos dit aanvanklik gebou is. Die kerkgebou self sou later vergroot word.

Die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt het ook ‘n ryk geskiedenis wat sendingwerk in die streek betref. Hulle is reeds sedert 1928 betrokke by sendingwerk in Siloam en later ook op De Hoop en in die Louis Trichardt streek. Een van die name wat deur die jare sinoniem geword het sendingwerk en ook die gemeente, is die van die welbekende prof. Koos van Rooy. Die gemeente het op 20 November 2022 tydens hulle oggenddiens hulde gebring aan hierdie legendariese sendeling, Bybelvertaler en teoloog, wat toe op 90-jarige ouderdom steeds gedien het as voorbeeld van geloof vir so baie wat deur sy 65 jaar van sendingwerk tot geloof gekom het. ‘n Oorkonde is tydens die geleentheid aan prof. Koos en sy eggenote van 65 jaar, tannie Regina, oorhandig.

Bouwerk aan die gemeenste se saal sou in 1995 begin. Foto verskaf.

Prof. Van Rooy het in 1956 afgestudeer aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys as predikant van die Gereformeerde Kerk. Hy het die beroep as sendingleraar na Siloam in 1957 aanvaar en daarna, in 1963, na Roodepoort, met sendingopdrag Riverlea in Soweto. In 1967 het hy teruggekeer na Venda en Iyani Bybelskool begin. Van 1975 af het hy begin met die vertaling van die Bybel in Venda by Hammanskraal Teologiese Skool. In 1976 het prof. Van Rooy en tannie Regina lidmate van die Gereformeerde kerk Louis Trichardt geword. Hy het in 1998 die vertaling van die Venda Bybel voltooi. Later sou Prof. Van Rooy ook help met ‘n nuwe Zulu-vertaling. Ook het hy gehelp met ‘n Njungwe-vertaling in Mosambiek en later het hulle nog ‘n jaar lank gaan werk in Ethiopië om daar met Bybelvertaling te help.

Die gemeente se Fransie Vermaak Saal is op 5 Junie 1999 amptelik geopen. Dit is vernoem na broer Fransie en suster Elmine Vermaak vir hulle “onbaatsugtige opoffering” gedurende die oprigting van die saalkompleks.

Die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt het deur die jare baie bekende en geliefde predikante gehad, met ds. Innes Nagel wat tans die gemeente se leraar is. Hy sal volgende jaar, einde Junie, sy tiende jaar as leraar hier herdenk. “My ervaring van die kerk en sy mense hier is net positief, dit is hoekom ek nie ander beroepe aanvaar nie … Ek is gelukkig hier. Ek het hier groot geword. Dit is my mense,” het Nagel gesê. Hy sê hulle beplan groot feesviering tydens die gemeente se 100ste bestaansjaar, wat in 2027 gevier sal word.

 

 
 
 

Viewed: 881

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT