ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die ou Barclays Bank-gebou, wat later ook FNB (First National Bank) sou huisves, is in 2010 na bykans 100 jaar deur die bankgroep ontruim. Die winkelgroep Foschini word deesdae in die historiese gebou gehuisves.

Historiese gebou vir bykans 100 jaar deel van plaaslike bankwese

Date: 12 August 2023 By: Andries van Zyl

Sekerlik een van die kenmerkendste geboue in Louis Trichardt is die ou Barclays Bank wat later jare die plaaslike FNB-tak sou huisves op die hoek van Songozwi- en Kroghstraat. Dié gebou is ‘n integrale deel van die bankwese op Louis Trichardt se geskiedenis wat meer as 100 jaar terug dateer en ook die korrekte antwoord was op die Zoutpansberger se tiende “skattejag” kompetisie.

Die beste oorsig rakende die bankwese in Louis Trichardt sedert die vroeg 1900’s word vervat in Johann Tempelhoff se boek Dorpsmense van die Soutpansberg, 'n Eeufeesgeskiedenis van Louis Trichardt (1899-1999).

Die geskiedenis van die plaaslike bankwese maak vir interessante leesstof.

“Ook met betrekking tot die voorsiening van finansiële dienste het daar vanaf die vroegste jare in die dorp se geskiedenis bepaalde behoeftes bestaan. In September 1906 het majoor W.N. Bolton die departement justisie gevra om vas te stel of daar 'n bankinstelling was, wat bereid sou wees om 'n tak op die dorp te open. Die National Bank of South-Africa Beperk het in daardie stadium nie sy weg daarvoor oopgesien nie. 'n Jaar later het die sekretaris van die tesourie bekend gemaak dat die bank wel 'n tak op Louis Trichardt sou open. Die bestuurder was mnr. F.W.C. Bell. Op 30 Augustus 1912 het ook die Natal Bank 'n tak op Louis Trichardt geopen. Hierdie bankinstelling is die volgende jaar deur die National Bank oorgeneem. Daar was landwyd 22 takke van die bank,” skryf Tempelhoff in sy boek.

Die gebou waar die National Bank of South-Africa sou open het vir dekades as perseel gedien vir bankgroepe, alhoewel die naam sou verander. Die eerste National Bank of South-Africa is in 1891 in Pretoria geregistreer en op 5 April van daardie selfde jaar is die eerste tak geopen. Die bank sou in 1971 hulle naam in Suid-Afrika na Barclays National Bank Limited verander. In 1987 het die bankgroep se naam weer verander weens politieke veranderinge na FNB (First National Bank of South Africa) soos wat dit vandag steeds bekend staan.

Die National Bank gebou op die hoek van Krogh- en die destydse Trichardtstraat in 1915. Die gebou sou later ‘n tweede verdieping bykry. Kopiereg: Polokwane Municipality/Museum; H, Exton photos.

 

Op plaaslike front het Louis Trichardt op 10 November 1915 ‘n dorpsraad gekry. Die eerste voorsitter was dr. G.G. Hay en die eerste sekretaris was mnr. P.A. Otto. Sowat ‘n jaar later het dit vir hulle nodig geword om ‘n bankrekening oop te maak. “In Maart 1916 het die voorsitter van die dorpsraad 'n mosie ingedien waarin voorgestel is dat 'n rekening by die National Bank in Louis Trichardt geopen word. Dit sou as die ‘bourekening’ bekend staan. Hierdie geld moes vir die oprigting van behoorlike munisipale kantore betaal. Hy wou sien dat 'n bedrag van £10 maandeliks op die rekening gedeponeer word,” sê Tempelhoff in sy boek.

Verder aan skryf hy dat Louis Trichardt se banksektor, wat in baie opsigte verteenwoordigend van die finansiële lewe was, goeie vooruitgang in die 1950's gemaak het. In 1950 het Standard Bank die erf tussen die munisipale kantoor en die poskantoor in Kroghstraat teen £7 500 gekoop. In Maart 1953 is die nuwe gebou in gebruik geneem. Volkskas het in 1961 op die dorp begin sake doen. In 1967 het Trust Bank gevolg. Op 24 April 1996 het een van die toonaangewende bankgroepe in Suid-Afrika, Nedbank, op Louis Trichardt begin sake doen. Die onderneming was deel van Nedkor Bpk. wat ook aan die stuur van die Permanent Bank en die People’s Bank gestaan het. Die eerste bestuurder van die bank in Louis Trichardt was mnr. I. Strydom.

Nog ‘n historiese foto uit die argiewe van die historiese bankgebou in Louis Trichardt se middedorp. Die foto is waarskynlik in 1964, moontlik tydens die dorp se Republiekfeesvieringe, geneem. 'n Tweede verdieping is toe reeds aangebring. In die agtergrond is nog ‘n historiese gebou, die ou Hotel Louis. Ongelukkig is die gebou reeds etlike dekades gelede gesloop. Foto verskaf.

 

FNB het as bankgroep ná bykans 100 jaar in 2010 uit die historiese gebou getrek na ‘n nuwe perseel in die nuutgeboude Anver Hajee Noor sentrum (hoek van Munnik- en Songozwistraat). Die sentrum was die eiendom van bekende plaaslike sakeman mnr. Solly Noor. In 2017 is die sentrum deur die Gemgrow Properties groep by Noor gekoop, met FNB wat tot vandag toe nog een van die ankerhuurders daar is. Intussen het die nasionale winkelgroep Foschini by die ou bankgebou in Kroghstraat ingetrek.

 

 
 
 

Viewed: 1048

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT