ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se kragstasie, naby die spoorwegstasie, in 1960. Die kragstasie het vanaf 1932 tot 1967 krag aan die dorp se besighede en huishoudings voorsien. Foto: Digital Rail Images South Africa

Bykans 'n eeu gelede is krag al plaaslik opgewek

Date: 11 March 2023 By: Anton van Zyl

“Ons kan nie meer staatmaak op Eskom om krag te lewer nie; ons moet dit nou maar self doen.”

Hierdie stelling sal heelwat van Louis Trichardt se inwoners met ‘n ietwat wrang laggie los. “Besef jy dat die Soutpansberg se inwoners bykans ‘n eeu gelede reeds hul eie krag opgewek het?” sal die antwoord kom.

Ja, dit is heeltemal waar. Reeds in die 1920s was ‘n kragopwekkingsaanleg in bedryf by Elim. Die stelsel was boonop ‘n “omgewingsvriendelike” hidro-elektriese een, wat onder meer krag aan die hospitaal verskaf het.

‘n Klompie jare later, in 1931, is begin met die bou van ‘n kragopwekkingsaanleg op Louis Trichardt en eers 36 jaar later, in September 1967, is die aankondiging gemaak dat krag voortaan van die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) verkry sou word.

‘n Vindingryke Switser daag in die Soutpansberg op

Die Thomas-families van Switserland het rondom 1884 in Suid-Afrika aangekom. Eugenie-Louis Thomas en Alexis Thomas, tesame met hul gades, het eerwaarde Paul Berthoud vergesel, wat op 26 Maart 1884 by Valdezia gearriveer het.

Eerw. Berthoud was in daardie stadium heel vertroud met die omgewing se mense. Hy en eerwaarde Ernest Creux het reeds in Julie 1875 in die Soutpansberg aangekom en ‘n sendingstasie tot stand gebring vir hoofsaaklik die Tsonga-sprekende gemeenskappe. Sy vrou en kinders is tussen 1879 en 1880 aan malaria oorlede. Hy het later weer getrou en was vergesel deur onder meer die Thomas-egpare toe hy teruggekeer het na Valdezia.

Alexis Thomas was ‘n uiters interessante man. In Johann Tempelhoff se boek, Dorpsmense van die Soutpansberg, 'n Eeufeesgeskiedenis van Louis Trichardt (1899-1999), beskryf hy hom soos volg:

“Voordat hy in 1884 in Suid-Afrika kom woon het, het hy in verskeie ambagte as vakman gekwalifiseer. Hy was onder meer deskundig in skryn- en smidswerk, asook in agronomie. In die vroeë jare het hy 'n belangrike rol gespeel in die bou van die Valdezia sendingstasie. Aan die einde van die negentiende eeu het hy Elim-hospitaal ontwerp en gebou. Hy het toe die sending verlaat en vir sy eie rekening begin werk. Reeds in die 1890s het Alexis 'n watermeul in die omgewing van Elim, in samewerking met 'n ander sendeling, ene mnr. (Henry) Mingard, bedryf.”

Juis met die bou van die meule het Thomas se merkwaardige vernuf as ingenieur na vore gekom. Hy het begin deur ‘n dam te bou in die Magulule stroom. Die dam moes water stoor en voorsien in die maande wat die stroom nie gevloei het nie. Hy het baie noukeurig ‘n kanaal uitgemeet om die water vanuit die dam in ‘n 100 mm pyp te lei, sodat druk opgebou kon word om ‘n waterwiel aan te dryf.

Thomas het ‘n spesiale Pelton-turbine ingevoer vanaf Amerika om die aandrywing vir die meule te doen. Met dié kragtige stuk masjinerie kon hulle groot hoeveelhede mielies en koring maal. Van kilometers ver het boere, wit en swart, hul produkte gebring om fyngemaal te word.

Die eerste elektriese ligte begin skyn

In die 1920’s het Thomas die meul gemoderniseer en aangepas, sodat dit ook elektrisiteit kon opwek. Dat hy sy tyd jare vooruit was, was baie duidelik. Eers in 1923 is Evkom (wat ons vandag ken as Eskom), gestig. Alhoewel stede soos Kimberley reeds in 1882 met elektriese straatligte kon spog, het dit ‘n tyd geneem vir die tegnologie om verder noord geïmplementeer te word. Johannesburg het in 1906 ‘n klein kragstasie gekry, maar ná ‘n ontploffing moes die aanleg in Presidentstraat eers sluit.

Die Switserse Sendinggenootskap het besef dat elektrisiteit baie voordele inhou en het ‘n kontrak met Thomas gesluit om ‘n lyn aan te lê na die hospitaal. In die aande moes die ligte skyn en bedags moes krag verskaf word vir die X-straalfasiliteite.

Alexis het die meule in 1928 aan sy jongste seun, Francis oorgedra. Dié het later sy broer, Victor, ingetrek om die hidro-elektriese stelsel verder uit te brei. Volgens Tempelhoff het Victor die turbine gemoderniseer en die kapasiteit van die kragstasie met dieselenjins en nuwe kragopwekkers uitgebou. “Benewens die krag wat voorsien is aan Elim-hospitaal en Lemana kollege, is krag ook aan die boerderye van Henry Thomas by Westfield, Stanley Phillip by Shirley en Alexis Daniel Thomas by Cleavesky voorsien,” skryf Tempelhoff.

Die aanleg digby Elim het vir etlike dekades krag aan die hospitaal, asook aan verskeie verbruikers in die oostelike deel van die Soutpansberg-gebied, verskaf. Die masjiene is eers in 1979 afgeskakel, toe Eskom die kragverskaffing in die area oorgeneem het.

Dorp kry ook krag

‘n Voorstel om krag na Louis Trichardt te bring is reeds in 1926 deur die plaaslike dorpsraad bespreek. In 1927 het die raad navraag by die “Gebroeders Siemens” gedoen oor watter toerusting nodig sou wees. (Dit verwys waarskynlik na Siemens & Halske AG, wat leiers op die gebied van tegnologie was teen die draai van die agtiende eeu.)

Met ‘n begroting van £22 000 is begin met die projek, en mnr. A.E. Val Davies is aangestel as konsultant ingenieur. Konstruksiewerk is in 1932 afgehandel, en uit daardie jaar se raadsnotules blyk dit dat die munisipaliteit gereken het dat hulle soveel as £3 047 uit die elektrisiteitstelsel kon verdien.

“In 1937 is die stelsel teen 'n bedrag van £3 500 verbeter. Teen daardie tyd het die kragstasie reeds optimumkrag gelewer. Daar is beklemtoon dat geen nuwe gebruikers meer by die stelsel ingeskakel kon word nie. Een van die uitstaande eienskappe van die kragstasie in die vroeë jare was dat dit nooit genoeg krag kon voorsien nie. Die dorp se ontwikkelingsgang was te vinnig. Gevolglik moes die kragstasie voortdurend meer krag opwek as die amptelike kapasiteit daarvan. Dit was 'n sensitiewe stelsel. Gedurende reënstorms het weerlig die bome getref en die het dan dikwels op die kragdrade neerstort,” skryf Tempelhoff.

Tesame met die elektrisiteit het nywerhede na Louis Trichardt gekom. Een van die nuwe generasie entrepreneurs was mnr. Chaim Brenner, wat van Rusland afkomstig was. Hulle het die meule in Krugerstraat gebou, wat spoedig een van die belangrikste nywerheidsaktiwiteite (en grootste kragverbruikers) in die dorp was.

Die beperkte kapasiteit van die kragstasie op die dorp het egter probleme begin veroorsaak. Die vraag na elektrisiteit, veral vanaf industriële gebruikers, was meer as wat gelewer kon word en ontwikkeling moes weggewys word.

In ‘n verslag wat in 1948 aan die destydse Evkom voorgelê is, meld die stadsraad dat die plaaslike kragstasie in 1946 ‘n totaal van 787 698 eenhede elektrisiteit opgewek het. Die maksimum vraag na krag was 250 kilowatt. Die kragstasie kon egter met veiligheid hoogstens 200 kilowatt voorsien. “Die kommissie het tot die gevolgtrekking gekom dat die kragstasie reeds sedert 1944 oorproduseer het,” skryf Tempelhoff.

Evkom tot die redding

Die volgende twee dekades was ‘n balanseertoertjie vir die stadsraad. Die industriële ontwikkeling op die dorp het voortgegaan en meer verbruikers is by die stelsel gevoeg. ‘n Tornado wat in 1948 dele van die dorp verwoes het, het die stadsraad aangespoor om opnuut na die kragverskaffingsnetwerk te kyk. Die elektriese ingenieur het voorgestel dat groot dele van die dorp herbedraad word, teen ‘n beraamde koste van £700.

Dit het egter al duideliker begin raak dat die munisipale kragstasie nie in staat was om aan die dorp se groeiende behoeftes te voldoen nie. Die stadsraad het ook gevoel dat hulle nie genoegsame fondse het om hierdie uitbreiding in infrastruktuur te finansier nie. In 1965 het die dorp reeds vyf miljoen eenhede gebruik.

In September 1967 het die burgemeester, rdl. Apie Verreyne, aangekondig dat die dorp voortaan krag van die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) sou aankoop. ‘n Verbinding sou tussen Potgietersrus (nou Mokopane) en Louis Trichardt aangelê word, wat die stadsraad nagenoeg R30 000 sou kos. Die raad sou ‘n basiese maandelikse heffing van R13 500 betaal vir die lyn.

Die potensiaal om ‘n inkomste uit die herverkoop van krag te verdien, is vroeg reeds raakgesien en die munisipaliteit het begin om die infrastruktuur op te rig om krag aan Messina (Musina), Tshipise, Levubu en ander areas te voorsien.

Die aanvanklike verwagting was dat die projek, wat in die omgewing van R250 000 sou kos, eers in Maart 1968 voltooi sou wees. Die werk het egter baie vinniger gevorder en in November 1967 is Evkom se skakelaar aangesit en die dorp se krag het “van buite” gekom.

Teen 1971 het die verbruik op 20,5 miljoen eenhede te staan gekom. Alhoewel die Thomas kragsentrale op Elim steeds krag gelewer het, het die nuwe kragsentrale op Louis Trichardt ook krag aan Elim verkoop om die tekort aan te vul.

Meer en meer krag benodig

Met die winde van politieke verandering wat deur die land gewaai het in die laat 1980’s en veral in die 1990’s, het druk toegeneem op die stadsraad om ook elektrisiteit aan die omliggende swart woongebiede te verskaf.

Tshikota, die woongebied teenaan die dorp, was een voorbeeld van infrastruktuur wat vir dekades nie ontwikkel is nie. Teen 1990 het Tshikota nog geen elektriese aansluitings gehad nie en het slegs enkele gemeenskaplike waterkrane gehad, wat selfs gelei het tot ‘n verbruikersboikot in die dorp, en die plaaslike Sakekamer het druk op die regering toegepas om ook dié areas te ontwikkel.

“Die Noord-Transvaalse streekdiensteraad was angstig vir die projek om op dreef te kom en het aangedui dat hy bereid was om by die herontwikkeling van die woondorp betrokke te raak. Aan die einde van 1990 was die stadige vooruitgang wat by Tshikota gemaak is een van die belangrikste redes waarom die boikotaksie hervat is,” skryf Tempelhoff.

In die daaropvolgende jare, veral die periode ná 1994, het die elektrisiteitsnetwerk teen ‘n snelle pas uitgebrei, dikwels tot groot ontsteltenis van die ingenieurs wat moes kopkrap oor waar die krag vandaan sou kom. Die politieke leiers het dit as bewys van sukses gesien as krag aangelê is na ‘n landelike woongebied. Die verwagting was ook daar dat landelike areas nie uitgesluit sou word van ontwikkeling nie.

In die 2021/22 boekjaar het Makhado Munisipaliteit R306,3 miljoen aan Eskom betaal vir grootmaat elektrisiteitsaankope, wat weer herverkoop is aan verbruikers vir R388,76 miljoen, wat ‘n bruto-wins van R82,46 miljoen meegebring het. Die vorige jaar het elektrisiteitsverkope net meer as R425,8 miljoen beloop, met ‘n bruto wins van R160,2 miljoen.

Die verwagting is egter dat beurtkrag tot groot verliese vir munisipaliteite gaan lei. ‘n Verdere probleem is diefstal en beskadiging van toerusting, veral gedurende tye wat die kragtoevoer onderbreek word. Die druk op Eskom en munisipaliteite om steeds krag te voorsien, word dus al meer.

Die regering het egter die afgelope jaar verskeie deure oopgemaak vir privaat elektrisiteitsverskaffers om weer tot die bedryf toe te tree. Sekere munisipaliteite, soos in die Wes-Kaap, het onmiddellik die geleentheid benut en verskaffers uitgenooi om surpluskrag direk aan die munisipaliteite te verkoop. Verskeie maatskappye het ook byvoorbeeld groot sonkraginstallasies gedoen by sentrums. Die krag word dan direk aan verbruikers verkoop.

Louis Trichardt mag dalk in die volgende jaar of wat verskeie kleiner kragverskaffers sien verrys wat, soortgelyk aan Alexis Thomas, direk aan besighede of woonhuise krag voorsien.

Hoe sê die Engelse: “The more things change, the more they stay the same...”

 

 
 
 

Viewed: 1295

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT