ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Die jaar 2024 sal vir lank nog onthou word as ‘n geskiedkundige jaar vir die Louis Trichardt Rugbyklub, met die klub se eerste rugbyspan wat dit tot in die Top 8-ronde van SA Rugby se nasionale Gold Cup gemaak het. Hierdie geskiedkundige span het bestaan uit (voor, van links na regs) Stefan Swanepoel (voorspelerafrigter), Ruan Scheepers, Jimmy Luvhimba (agterlynafrigter), Danie Mienie (kaptein), Pieter Viljoen (agterlyn- en hoofafrigter), AC Geldenhuys (onderkaptein), Lukas Visser (voorspelerafrigter) en Brian du Plooy (klubvoorsitter). In die middel staan Armand Stander, David Mandiwana, Justin Hugo, Rikus Nel, Jaco Esterhuizen, Julain James, Jayd’n Da Gama, Murendeni Mavhungu, Werner Denner en Solly Mukhuthu. Agter staan Matodzi Rapholo, Ditau Mandobe, Rasenge Kubayi, Rotondwa Rapholo, Janco Lourens, Brian Vermeulen, Louis Fourie, Sammy Mokumo, Kavelo Fhedzisani en Rulke Pieterse. Foto verskaf.

Helde-ontvangs vir eerstes ten spyte van nederlaag in Top 8

Date: 11 October 2024 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eerste rugbyspan se wenlopie in SA Rugby se nasionale Gold Cup-reeks het Saterdag, 5 Oktober, ten einde geloop ná ’n 70-6 nederlaag teen die manne van College Rovers in Durban. Vir die span bly dit egter ’n trotse oomblik om bloot in die Top 8-ronde van die reeks te kon deelneem, en die span het Sondag ’n helde-ontvangs buite die dorp van ondersteuners gekry met hul terugkeer.

Louis Trichardt se kaptein, Danie Mienie, het in ’n onderhoud direk ná Saterdag se wedstryd gesê hulle het geweet die College Rovers-wedstryd sou ’n moeilike een wees, maar ten spyte van die nederlaag is hy ongelooflik trots op sy spanlede. Vir hom is die feit dat Louis Trichardt, vir die eerste keer in die klub se geskiedenis, dit tot in die Top 8 van die reeks gemaak het, ’n merkwaardige prestasie. “Ek kan nie trotser op die ouens wees nie. Dit was ’n goeie leerskool om te sien wat nodig is om op topvlak te speel,” het Mienie gesê. Hy het bygevoeg dat die klub se spelers almal voltyds werk en gesinne by die huis het. “Steeds het hulle elke Dinsdag en Donderdag, soms ook Woensdae, opgedaag om te oefen,” het Mienie gesê.

Vir Mienie was die wedstryd in Durban, en veral teen College Rovers, ietwat van ’n “tuiskoms” gewees. Dit is waar sy loopbaan in 2010 in die Curriebeker vir die Sharks begin het. As deel van sy kontrak met die Sharks het hy klubrugby vir College Rovers gespeel. Tydens sy rugbyloopbaan was hy ook by die Griekwas, Cheetahs en Leeus. Op internasionale vlak het hy vir Toulouse in Frankryk uitgedraf in die Top 14-liga en ook rugby vir die Rovigo Delta-rugbyklub in Italië in die Top 12-liga gespeel. Maar dit was by College Rovers waar alles begin het. “Ek was partykeer heel nostalgies, want ek het vyf jaar vir hulle gespeel. Al die plekke waar ons rondbeweeg het, daar was ek. Ek het Vrydag vir die manne ’n besoek aan die Shark Tenk (Kings Park Stadion) gereël, waar ons bietjie op die veld en in die kleedkamer was. Daar het ek ’n paar bekende gesigte gesien, wat wonderlik was,” het Mienie gesê.

Vir Mienie was dit ’n plesier om vanjaar vir Louis Trichardt as kaptein uit te draf. “Ek speel nou vir die redes hoekom ek met rugby begin het. Dit is weer vir my lekker. Jy gaan terug na daardie seuntjiedae, toe jy die heeldag met ’n rugbybal rondgeloop het,” het Mienie gesê. Wat sy planne vir die nuwe seisoen betref, het Mienie gesê hy het homself reeds verbind om weer te speel.

Hoofafrigter van die klub, Pieter Viljoen, was eweneens trots op die span se prestasies in die Gold Cup en het die spelers bedank vir hul toewyding en deursettingsvermoë. Hy het egter ook groot lof gehad vir die span se ondersteuners. “Baie dankie aan die gemeenskap vir hulle lojale ondersteuning, finansieel asook langs die veld. Dit het die wêreld vir die hele groep beteken. Ek dink nie ons het al ooit sulke ondersteuning gehad nie,” het Viljoen gesê. In dieselfde asem het hy ook sy mede-afrigters (Jimmy Luvhimba, Stefan “Swannie” Swanepoel en Lukas Visser) en die klub se bestuur bedank. “Dankie ook aan die bestuur vir al die ondersteuning wat julle van bo af vir ons gegee het. Al hierdie goed het saam bygedra om ’n suksesvolle seisoen te bedryf en gehelp om te bereik wat ons bereik het,” het Viljoen gesê. Laastens, maar beslis nie die minste nie, het Viljoen groot dankbaarheid uitgespreek teenoor hul borge.

Ook vir Brian du Plooy, voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, was die eerste span se prestasies in die Gold Cup ’n trotse oomblik in sy lewe. “Ek is trots. Ek moet eintlik ’n groter hemp gaan koop, so trots is ek. Ons is baie trots op ons spelers, en ek sal graag ander manne wat daar buite is, uitnooi om vir die klub te kom speel, maak nie saak vir watter span nie. Ons het almal wat rugby liefhet, nodig,” het Du Plooy Dinsdag gesê.

Volgens Du Plooy moet ’n mens nooit jou vermoëns onderskat nie. “Hierdie is net ’n bewys dat ons as ’n klein dorpie met sulke groot manne kan meeding. Die wedstrydtelling was nie regtig ’n ware refleksie van die wedstryd nie. Daardie manne [College Rovers] het ná die tyd na ons toe gekom en gesê hulle het nog nooit so ’n harde wedstryd gehad nie. Ons het ’n klomp boerseuns hier wat hulle raak gehardloop het. Die manne het nie teruggestaan vir niks nie,” het Du Plooy gesê.

Vir Louis Trichardt was Saterdag se kragmeting ’n harde een. “Die hardste wat ons nog gehad het. Ongelukkig was die telling teen ons. Ons het hier en daar foute gemaak wat teen ons getel het en twee spelers verloor weens geelkaarte. Dit was wanneer die manne punte aangeteken het, en baie vinnig ook. Maar op die einde van die dag is dit maar rugby,” het Du Plooy gesê.

Ook Du Plooy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het tot die Louis Trichardt Rugbyklub se skitterende 2024-seisoen. “Ek is trots op die afrigters, supertrots op die spelers en trots op die gemeenskap. So ook ons borge. Hopelik kan ons aanhou om op hulle staat te maak, want volgende jaar gaan ’n groter jaar wees,” het Du Plooy gesê.

Wat hul planne vir die volgende seisoen betref, het Du Plooy gesê hulle wil graag meer manne uit die landelike gebiede by die klub betrek. “Daar is manne uit die landelike areas wat hierdie jaar die eerste keer rugby kom speel het en selfs vanaf die derde span na die tweede span opgetrek is. Ons wil graag hierdie manne help en rugby in ons area ontwikkel om Super Rugby te speel,” het Du Plooy gesê.

Maar hierdie dinge kos alles geld, en volgens Du Plooy het hul besoek aan Durban die klub se finansies bietjie geknou. “Ons onkoste na Durban toe was erg. Ons moes self die spelers na en vanaf die lughawens kry, en ons moes self na hul etes omsien. Die Gold Cup het net die akkommodasie vir twee nagte gedek. Ons moes self betaal vir ’n derde nag, sodat die manne net kon rus. Dit was onkoste waarvoor ons nie regtig begroot het nie, maar ons sal ’n plan maak en daar deurkom,” het Du Plooy gesê.

Vir nou, het Du Plooy gesê, gaan die klub bietjie rus tot die derde week in Januarie volgende jaar, wanneer die nuwe seisoen begin. “Daar was ander klubs wat ons genooi het om hierdie jaar nog teen hulle te kom speel, maar ons het net nie die finansies daarvoor nie,” het Du Plooy gesê. Wat dit betref, het Du Plooy gesê dat hulle steeds donasies aan die klub sal verwelkom. “Finansieel is dit maar taai, maar ek sal graag volgende jaar teen van die spanne in die Carlton-liga wil speel in Pretoria. Ons het ’n punt om te bewys in die Blou Bul-liga,” het Du Plooy gesê.

 

 
 
 

Viewed: 576

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

Alliance Fuel's TV giveaway creates unforgettable moments for lucky customers

After weeks of excitement and anticipation, Alliance Fuel announced the winners of their TV Giveaway competition. “A huge thank you to everyone who participated - you made this giveaway bigger and better than we ever imagined,” said the marketing team.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT