ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Oud-inwoner André Prinsloo, afgeneem by van die besoekpunte waar hy gestop het tydens sy epiese fietsrit deur Suid-Amerika. Vir die eerste paar weke het sy broer, Frans, saam met hom getrap. Foto’s verskaf.

Oud-sakeman pak Suid-Amerika met trapfiets

Date: 11 October 2024 By: Pétria de Vaal

‘n Welbekende oud-inwoner en sakeman van Louis Trichardt, André Prinsloo, het onlangs ’n uitdagende fietsrit deur Suid-Amerika aangepak en suksesvol voltooi.

Melinda, André se vrou, vertel dat hulle as gesin drie jaar gelede iets soortgelyks aangepak het, vanaf Stellenbosch tot by Swakopmund. “Dit was sekerlik die lekkerste vakansie ooit!” sê sy. André noem dat kinders deesdae deur die klein venstertjie van selfone leef. “Wanneer jy só ’n tog aanpak, sien jy alles in volkleur. Jy sien elke skilpad en dooie slang langs die pad. Elkeen het iets hieruit geleer – deur aan te hou teen opdraandes en lang afstande op sinkplaatgrondpaaie te ry, leer ’n mens iets van die lewe. Hierdie struikelblokke sal altyd daar wees, maar die afdraandes is dan die ‘lekker’ deel van die lewe!”

Hierdie vakansie het André geïnspireer om iets groters aan te pak. Sy idee was om van die mees suidelike punt van Suid-Amerika tot in Alaska te ry – ’n totaal van ongeveer 26,000 km. Op 21 Februarie vanjaar het hy en sy broer, Frans, vertrek. Hulle het beplan om deur ses Suid-Amerikaanse lande te ry, naamlik Argentinië, Chili, Bolivia, Peru, Ecuador en Colombia. “Ons was reeds drie maande onderweg toe Frans geval en in die hospitaal in Bolivia beland het. Frans sou net vir drie maande saamry tot in La Paz, Bolivia. Die ongeluk het in ’n tonnel op pad na die ‘Death Road’ gebeur. Ek het toe alleen verder gegaan, want Frans was reeds op sy laaste dag toe die ongeluk gebeur het. Sy beserings was van so ’n aard dat hy in elk geval nie verder sou kon ry nie,” vertel André. Hy moes uiteindelik die besluit neem om in Colombia op te hou, aangesien die winterweer in die Noordelike Halfrond ’n rit tot in Alaska onmoontlik sou maak.

Reg van die begin af het hulle letterlik en figuurlik die wind van voor gekry. André se tas en fiets is "verplaas", en hy moes ’n week lank in Ushuaia – die beginpunt – vir sy fiets wag. “Toe ons uiteindelik begin trap, het sterk wind en reën my taamlik negatief laat voel, en boonop het ek siek geword. ’n Mens kry egter jou kop rondom elke ding wat hinder en hou net aan met trap.”

Die taal was ook ’n probleem – mense praat nie Engels nie, net Spaans. “Ek het vinnig geleer om die belangrikste in Spaans te sê, soos ‘kos’, ‘rigtingaanwysers’, ‘akkommodasie’, ens.” vertel André.

“ ’n Mens pak en reis so lig as moontlik. Gewig is een van jou grootste vyande. Ek het vinnig agtergekom dat sekere dinge oral verkrygbaar is, so het ek ontslae geraak van onnodige items. My fiets en saalsakke het saam 45 kg geweeg, met slegs twee kortbroeke, drie T-hemde, een langbroek, een paar tekkies en een paar plakkies (wat ek later weggegooi het). Om ’n epiese tog soos hierdie aan te pak, is soos om elke dag vir werk op te staan. ’n Mens het ’n roetine. Saans, wanneer ek by my slaapplek aankom, het ek klere gewas, myself gewas, gaan eet en dan rustig in my eie geselskap gesit,” deel André.

André het gewoonlik geëet waar hy oorgeslaap het. “In Bolivia en Peru het ek meestal sop geëet, soms met mielies en rys. Daardie twee lande ervaar uiterste armoede. Die blyplekke was nie altyd skoon en netjies nie, en sommige het selfs puttoilette gehad,” sê hy.

Hy het twee keer per dag met sy gesin gepraat. Melinda vertel dat daar twee volle dae was wat hulle niks van hom gehoor het nie, en hulle was baie bekommerd. Daar was dikwels verbindingsprobleme.

André het in totaal 122 dae van sy ses-maande-lange avontuur getrap en ongeveer 11,800 km afgelê. Hy het ’n gemiddelde afstand van 98 km per dag gehandhaaf. “In Patagonië was daar ’n tyd toe die wind so sterk was dat ek net 40 km in 10 ure kon ry. Die wind was beter in die berge. Ons ken nie sulke hoë berge nie. In slegte omstandighede kan fietsryers stop en tente opslaan by skuilings langs die pad, mits daar nie reeds iemand is nie! Hierdie skuilings is eenvoudige houthutte of net ’n afskorting of muur. Dit het my opgeval dat ek byna altyd die wind van voor gekry het, terwyl ander fietsryers in die teenoorgestelde rigting met die wind saam gery het. Daar was een geleentheid waar ek lank aanhoudend kon afdraande ry en het toe ’n dag gewen,” vertel hy.

Hy noem tong-in-die-kies dat hy hier en daar tyd “verloor” het toe sy broer geval het en ook toe sy gesin hom in Peru kom besoek het. Tydens hulle besoek het hulle Machu Picchu besoek. Hy het probeer om elke sewe tot tien dae vir ’n dag lank te rus. Die langste wat hy aaneen gery het, was 13 dae. “Tydens ’n rusdag het ek besienswaardighede besoek, veral historiese plekke in die stede. Die natuurskoon was ongelooflik, en Ecuador was vir my die mooiste van al die lande – groen en netjies.”

André het relatief min probleme met sy fiets gehad. “Ek het een keer hard van my fiets afgeval tydens ’n onderonsie met twee honde. Die hoteleienaar het my na ’n dokter geneem, wat laat X-strale neem het – vir slegs R30 by die plaaslike hospitaal. Ek was gelukkig om nie ernstige beserings op te doen nie. Ek moes wel my arm vir ses weke in ’n sling dra, maar het steeds soos gewoonlik verder gery.”

André se boodskap aan die lesers is: “ ’n Mens het net een lewe. Moet nie wag nie. Doen wat jy wil doen, solank jy kan. Hierdie was een van die lekkerste ervarings van my lewe. ’n Mens kan nie regtig verander nie, maar jy kan verbeter. Met ’n tog soos hierdie kry jy ’n heel ander benadering tot die lewe. Jy vind innerlike rustigheid. As jou kop reg is, kan jy alles doen. Dit is ook lekker om tyd in jou eie geselskap deur te bring – dit gee jou die kans om van binne af na jouself te kyk.”

Melinda stem saam en sê: “’n Mens se liggaam is tot baie meer in staat as wat jy dink.”

“Sonder gesondheid het ’n mens niks,” sluit André af.

Die gesin is reeds besig om ’n volgende uitstappie – buite elkeen se gemaksone – te beplan.

 

 
 
 

Viewed: 812

 
 

Pétria de Vaal

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

Alliance Fuel's TV giveaway creates unforgettable moments for lucky customers

After weeks of excitement and anticipation, Alliance Fuel announced the winners of their TV Giveaway competition. “A huge thank you to everyone who participated - you made this giveaway bigger and better than we ever imagined,” said the marketing team.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT