ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Die afgelope naweek se wedstryd was ‘n taai en fisieke een gewees. Beide spanne se spelers het vanaf die eerste minuut tot die laaste minuut hulle alles gegee. Louis Trichardt seëvier egter 29-19 oor Secunda en dring daarmee deur na die Top 8-ronde van SA Rugby se Gold Cup-reeks. In die foto word Louis Trichardt se regtervleuel, Donovan Pretorius, hard grond toe gebring deur Secunda spelers. In die agtergrond (van links na regs, met die wit truie) is Louis Trichardt spelers AC Geldenhuys (losskakel), kaptein Danie Mienie (linkerflank) en Louis Fourie (skrumskakel). Foto: Karla van Zyl.

Taai stryd wag vir Louis Trichardt in Durban in Top 8-ronde

Date: 04 October 2024 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eerste rugbyspan ry steeds die kruin van sukses nadat hulle Saterdag, 28 September, 29-19  met Secunda afgereken het in die tweede ronde van SA Rugby se Gold Cup. Daarmee dring hulle deur na die Top 8-ronde van die liga, nog ‘n geskiedkundige mylpaal vir die klub, maar eerskomende Saterdag sal hulle te staan kom teen hul taaiste kompetisie nog hierdie seisoen.

Die afgelope naweek se wedstryd was ‘n taai en fisieke een gewees, met Louis Trichardt wat vir die tweede agtereenvolgende week tuisveldvoordeel in die reeks geniet het. Louis Trichardt het eerste punte aangeteken en nooit hulle voorsprong op die telbord prysgegee nie, alhoewel Secunda hard teruggeveg het en nooit vir Louis Trichardt kans gegee het om weg te hardloop op die telbord nie. Beide spanne se spelers het vanaf die eerste minuut tot die laaste minuut hulle alles gegee. Louis Trichardt se drie-drukkers was Louis Fourie, Rasenge Kubayi en Justin Hugo. Fourie was ook suksesvol met die skopskoen en stap ook weg met die Speler van die Wedstryd toekenning.

Vir die eerste keer in die reeks sal Louis Trichardt eerskomende Saterdag, 5 Oktober, nie tuisveldvoordeel geniet nie, aangesien hulle na Durban sal moet reis waar hulle teen College Rovers te staan sal kom. College Rovers is ‘n gedugte span wat verlede jaar as naaswenners in die Gold Cup geëindig het, nadat hulle in die eindstryd teen die Naka Bulle verloor het. In hul openingswedstryd in vanjaar se Gold Cup-reeks voorverlede naweek het College Rovers 97-5 geseëvier oor die Young Leopards, terwyl hulle die afgelope naweek 70-32 afgereken het met Safcol United.

“College Rovers word nogal hoog geag in die liga. Dit gaan glad nie ‘n maklike wedstryd wees nie, want dit is basies die klub wat die Sharks voed met spelers. Hulle losskakel het al vir die Sharks gespeel, so dit is semi-professionele rugbyspelers hierdie. Maar ons staan glad nie terug vir hulle nie,” het Brian du Plooy, voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, gesê.

Beide Du Plooy en die kaptein van Louis Trichardt se eerste rugbyspan, Danie Mienie, het in ‘n vorige onderhoud gesê dat hulle geen illusies daaroor het dat dit trappie vir trappie nadat hulle ‘n wedstryd wen al moeiliker gaan raak in die reeks. “Ons gaan harde bene kou, maar ek dink die manne is positief en ek dink hulle sien uit daarna. Ons is daar om ‘n punt te bewys. Ons doen uitstekend goed en ek is baie trots op die manne,” het Du Plooy gesê.

Volgens Du Plooy stuur hulle ‘n groep van 35 spelers en afrigters na Durban. Die plan is dat hierdie groep reeds Donderdag na Johannesburg sal vertrek, vanwaar hulle na Durban sal vlieg. Dit, volgens Du Plooy, sal die spelers darem ‘n dag of wat gee om te akklimatiseer en hulle koppe reg kry. Die wedstryd skop Saterdag om 15:00 af.

“Borgskappe sal verwelkom word, want ons het nie die kapitaal nie. Hulle (Suid-Afrikaanse Rugby-unie) gaan moontlik net vir een aand betaal. Dit maak dit moeilik vir die span wat moet reis, veral vir ons wat tot in Johannesburg moet kom en vandaar moet vlieg,” het Du Plooy gesê.

Louis Trichardt se eerstes kan egter daarvan verseker wees dat hulle plaaslike ondersteuners bankvas agter hulle staan en Du Plooy is optimisties oor hulle vooruitsigte en dit wat die span reeds bereik het. “Ons sien uit! Sover die beste van agt spanne in die land!” het Du Plooy gesê.

Die goeie nuus is dat plaaslike ondersteuners Saterdag die wedstryd sal kan volg. Gaan na https://supersportschools.com/ en klik op die “Register/Login” skakel. Dit is gratis. Alternatiewelik kan ondersteuners vanaf bogenoemde webblad die SuperSport Schools-toepassing vanaf Google Play of Apple Store aflaai. Soek vir die Gold Cup-skakel en blaai ondertoe om die Louis Trichardt-teen-College Rovers wedstryd te vind.

 

 
 
 

Viewed: 459

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT