ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Troppe seekoeie wat laatnag op die oewer van die Albasinidam uitkom om te wei, is blykbaar nie ’n ongewone verskynsel nie. Hierdie skermgreep van ’n video van ‘n trop seekoeie met jong kalf by hulle is net ná middernag op 18 September op die plaas van Gys en Amanda Scheepers geneem. Kommerwekkend is dat seekoei-getalle in die dam besig is om af te neem weens ’n besoedelde rivierstelsel en ander faktore soos habitatverlies, droogte en onwettige jag.  

Wie sou kon dink Albasinidam het so baie seekoeie?

Date: 05 October 2024 By: Andries van Zyl

Een van die voordele daarvan om in die Bosveld te bly, is dat jy baie naby aan die natuur kan lewe, en soms is dit die natuur wat vir jou kom kuier. So het Gys en Amanda Scheepers die aand van 18 September weer besoek ontvang van ’n trop seekoeie wat luilekker op hulle grasperk op die oewer van die Albasinidam kom wei het. Dié keer is die besoek op sekuriteitskamera vasgevang, waarna die beeldmateriaal sy weg na sosiale media platforms gevind het.

Die video is wyd gedeel, met baie mense wat gevra het hoe algemeen seekoeie in die Albasinidam voorkom, aangesien hierdie reusediere selde gesien word. Die antwoord lê natuurlik daarin dat seekoeie eintlik nagdiere is.

In die video kan gesien word hoe die trop seekoeie - vyf volwassenes en ’n jong kalf - rustig loop en wei net ná middernag. “Hulle kom gereeld uit en hul spore lê permanent al langs die oewer in die modder. Hulle kom wei tussen die bome en op die gras en het nog nooit gepla nie, want hulle kom altyd in die laatnag. Deur die dag is dit doodstil, maar teen skemer begin hulle al nader kom, roep en blaas hulle. Dan sien mens hulle in die water. Dit is nie ’n ongewone insident nie en gebeur gereeld,” het Amanda gesê. Sy het bygevoeg dat van hul bure aan die oorkantse oewer al ’n trop van nege getel het. Nou onlangs is twee jong seekoeikalwers saam met hulle opgemerk.

Navrae oor die stand van die Albasinidam se seekoeibevolking is gerig aan die plaaslike kantoor van die Departement van Omgewingsake. Alhoewel geen spesifieke bevolkingsyfer genoem kon word nie, was dit kommerwekkend om te hoor dat die seekoei-getalle in die dam besig is om te daal. “Die seekoeibevolking het gedaal weens ’n besoedelde rivierstelsel. Die oorblywende bevolking moet beskerm word, omdat seekoeie gelys is as ’n beskermde spesie ingevolge die Limpopo Omgewingsbestuurswet, Wet 7 van 2003, en as kwesbare spesie ingevolge die kriteria van die IUCN Rooilys van bedreigde spesies,” het me. Lorraine Nemutanzhela, omgewingsbeampte by die departement se Makhado-kantoor, gesê.

Ander faktore wat bydra tot die dalende seekoei-getalle sluit in agteruitgang en verlies aan habitat, droogtes en onwettige jag. Daar is ook ’n vraag na seekoeivleis, -tande, -skedels en -velle, veral onder internasionale trofeejagters.

Nemutanzhela het genoem dat, alhoewel baie van die dam se oewerbewoners die seekoeie as ’n toeriste-aantreklikheid en aanwins sien, nie almal hierdie sentiment deel nie. Veral gewasboere is in konflik met die diere. Volgens Nemutanzhela gebeur dit dat seekoeie oeste plunder en heinings van boere langs die dam beskadig. Hulle kan in ’n aand drie tot vier kilometer ver loop op soek na weiding. Die feit dat hulle so ver loop, hou ’n verdere gevaar in, veral vir motoriste op die besige R524-pad tussen Louis Trichardt en Thohoyandou. Alhoewel daar in die verlede sulke botsings gerapporteer is, is dit die uitsondering en gebeur dit selde.

Met seekoeie wat nagdiere is en derhalwe selde gesien word, het Nemutanzhela gewaarsku dat hierdie diere geweldig aggressief kan wees en dat kontak met hulle liefs vermy moet word. Gedurende die dag sal hulle gewoonlik in vlakker water naby sandbanke in die son lê en bak. Wat dit betref, het sy oewer- en boothengelaars gewaarsku om nie te naby aan hulle rus-areas te kom nie, want dit kan tot aggressie lei. “Enige wilde dier is aggressief en gevaarlik wanneer daar jonges by is,” het Nemutanzhela gesê. Dit is tans die geval by die Albasinidam, waar jong kalwers opgemerk is. Volgens Nemutanzhela sal dit dus raadsaam wees om te alle tye paraat te wees wanneer die dam besoek word. Dit is ook raadsaam om voetpaadjies te vermy wat deur seekoeie gebruik word wanneer hulle gaan wei. Nemutanzhela het gesê dit sal beslis nie raadsaam wees om jouself op een van hierdie voetpaadjies te bevind waar jy tussen die seekoeie en die water staan nie.

“Waarskuwingsborde moet langs die dam aangebring word om besoekers van hul teenwoordigheid te waarsku,” het Nemutanzhela gesê. Sy het ook gevra dat gemeenskappe in die omgewing verdraagsaam moet wees teenoor seekoeie om die oorblywende bevolking in die dam te probeer bewaar.

“Hierdie seekoeie bly al jare in die Albasinidam, en hul teenwoordigheid is nie ’n gevaar vir mense nie, aangesien die mense langs die dam al jare saam met hulle leef. Geen aanvalle op mense of sterftes is al aangemeld as gevolg van hul teenwoordigheid in die area nie,” het Nemutanzhela gesê. Sy het benadruk dat dit belangrik is om die seekoeie in die dam vir toekomstige geslagte te bewaar en om die spesie teen uitwissing te beskerm.

 

 
 
 

Viewed: 709

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT