ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Die “A-Team” van Louis Trichardt, wat verlede week met Trixie, ’n 1979 Datsun Stanza SSS, aan die 2024 Bull Run op Vanwyksvlei in die Noord-Kaap deelgeneem het. Van links na regs is Zander Goedhals, Hendrik van Graan, Chris Liebenberg, Brian Gibson en Hendrik Liebenberg. Foto verskaf.

Trixie en span stel nie teleur tydens jaarlikse Bull Run

Date: 04 October 2024 By: Andries van Zyl

Weg! Ry & Sleep se jaarlikse SA Bull Run 2024 het weereens deelnemers van regoor die land gelok, insluitend ’n span van Louis Trichardt. Die Bull Run word allerweë beskou as ’n “matriekvakansie vir grootmense” en is weereens by Vanwyksvlei in die Noord-Kaap gehou. Vanwyksvlei is letterlik tussen niks en nêrens, en dit maak nie saak watter pad jy ry nie, jy gaan die laaste 80 km grondpad ry.

Die Bull Run is vanjaar vanaf 26 tot 29 September vir die 13de keer aangebied en het sowat 170 voertuie gelok. Volgens oorlewering het dit sy ontstaan te danke aan die BBC se Top Gear Botswana Special van 2007, waar Jeremy Clarkson, Richard Hammond en James May elk ’n voertuig moes koop vir minder as £1 500 waarmee hulle deur Botswana moes toer. Dit het onder andere ’n gedeelte ingesluit waar hulle die massiewe soutpanne in Botswana moes oorsteek. ’n Paar vriende in Suid-Afrika het besluit dit lyk lekker en so het die Bull Run by Vanwyksvlei ontstaan.

’n Paar van die reëls vir deelname aan die Bull Run het ingesluit dat ’n voertuig nie jonger mag wees as 1985 nie en 100% oorspronklik moet wees. Die voertuig moes ook minder as R40,000 gekos het om te koop, insluitend alle “verbeterings” soos nuwe bande en versierings. Dit beteken egter nie dat ’n mens in ’n skedonk daar kan opdaag nie. Daar is ’n groot klem op veiligheid, wat insluit dat elke voertuig padwaardig moet wees, ’n brandblusser aan boord moet hê en toegerus moet wees met veiligheidsgordels. Die voertuig moet ook op eie stoom by Vanwyksvlei aankom. Alkohol is nie tydens aktiwiteite toegelaat nie, en sou hulle jou vang dat jy bietjie onder die prop is, sou jou deelname net daar geëindig het.

Die Bull Run is drie dae van pret en plesier, en natuurlik baie stof. Louis Trichardt se span wat vanjaar die 1,300 km rit na Vanwyksvlei aangepak het, was Zander Goedhals en Hendrik Liebenberg, twee plaaslike prokureurs, met spanmaats Brian Gibson (’n plaaslike boer), Hendrik van Graan (’n oogarts van Potchefstroom) en Chris Liebenberg (’n sakeman van George). Hulle het as “The A-Team” deelgeneem in Trixie, ’n 1979 Datsun Stanza SSS. Trixie is nie onbekend aan die Bull Run nie. Sy is oorgekoop van Louis Trichardters Maarten Venter en Tinus Pretorius, wat in die einste kar in 2021 en 2022 aan die Bull Run deelgeneem het.

Zander en sy span vertel dat hulle oor ’n Kersfees-ete aan die einde van verlede jaar besluit het om die Bull Run aan te pak. In reaksie op die vraag waarom, was Zander se antwoord eenvoudig: “Dit is ’n lekker wegbreek, veral as jy hou van karre en petrol.” Dit beteken egter nie dat jy meganies aangelê moet wees nie of ’n bedrewe kampeerder hoef te wees nie. “Daar is mense wat jou help,” het Zander gesê.

Soos genoem, gaan die Bull Run oor pret en plesier, en dit was presies waarvoor Zander en sy span gegaan het. “Ons het behoorlik ’n ‘road trip’ daarvan gemaak en al die klein dorpies besoek, soos Christiana, Warrenton, Jan Kempdorp, Douglas en Prieska. Op pad ontmoet jy ander Bull Runners en daar is groot gees onder mekaar. Julle kyk saam na karre en maak nuwe vriende. Dan konvooi julle maar saam tot by Vanwyksvlei,” het Zander gesê.

Die eerste aand op die “vlei” was eweneens ’n belewenis, veral die braai, sê Zander. “Hulle gee vir jou braaipakkies met skaap, maar dit is baie skaap. Jy raak eintlik moeg daarvan,” het Zander gesê. Die braaipakkies was ingesluit by die inskrywingsgeld van R3,500 per persoon, wat ook jou staanplek ingesluit het.

Vanjaar se aktiwiteite het ’n “rally” en “foto-safari” op die eerste dag ingesluit. Wat die “rally” betref, moes jy op ’n sekere plek op ’n sekere tyd wees waar jy verskeie take moes voltooi, soos om ’n veiligheidsinspeksie op jou voertuig te doen, ‘n vissie te vang, ’n legkaart geblinddoek te bou en vele meer. Tydens die foto-safari moes hulle foto’s neem op ’n roete van besienswaardighede wat met leidrade geïdentifiseer is. Op dag twee is daar gejaag! Van die aktiwiteite het ’n ovaal renbaan en “drag racing” ingesluit. En Trixie het hulle nie in die steek gelaat nie. “Sy het nie een keer probleme gegee of gaan staan nie,” het Zander gesê. In watter posisie hulle onder die deelnemers geëindig het, kon Zander nie sê nie, aangesien die punte eers volgende week bekend sal wees. “Maar ek weet ons is nie eerste nie,” het hy met ‘n glimlag gesê.

Buiten die kuier, deelname en kameraderie tussen goeie vriende, was daar een element wat uiters spesiaal was vir Zander-hulle. “Wat dit hierdie jaar so besonders gemaak het vir almal, was die feit dat dit gereën het terwyl ons op die panne was. Tienuur Saterdag het die weervoorspelling 100% kans vir reën op Vanwyksvlei gewys. Daardie plek is ongenaakbaar droog,” het Zander gesê. Skaars het die reën geval, of die son het weer die aarde stof gebrand.

Of hulle dit weer gaan doen? Die antwoord was ’n besliste ja! “Dit was ’n fantastiese ervaring, en ek sal dit beslis volgende jaar weer doen. Niemand het teleurgesteld huis toe gegaan nie,” het Zander gesê.

Sy raad aan ander wat wil gaan deelneem is bloot dit: “Kry ’n span bymekaar en gaan woon dit by! Dit is werklik ’n wonderlike ervaring,” het Zander gesê.

 

 
 
 

Viewed: 494

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT