ADVERTISEMENT:

 

 
 

William de Klerk (regs) is vanjaar met 114 individuele Stableford die algehele wenner van die Soutpansberg Gholfklub se gewilde Hanglip 54-toernooi. Saam met hom staan klubkaptein Marius Mostert. Foto verskaf.

Moeilike Hanglip 54 sorg vir twee kolhoue in drie dae

Date: 11 July 2024 By: Andries van Zyl

Die warm en winderige toestande het die baan tydens vanjaar se Hanglip 54-gholftoernooi besonders moeilik gemaak en die vol veld van 128 spelers moes alles in die stryd werp vir ‘n plek op die podium.

“Die weer het die baan so uitgedroog en moeilik gemaak, met sommige mense wat gesê het dat hulle nie weer kom speel nie,” het klubpresident Inus Steyn van die Soutpansberg Gholfklub ná afloop van die toernooi gesê. Die klub het weer gasheer gespeel vir hierdie gholftoernooi wat vanaf 4 tot 6 Julie vir die 31ste keer aangebied is. Gelukkig het diegene wat aanvanklik kwaad was oor die weer, weer gekalmeer.

“Ons wag toe nou nog vir iets om verkeerd te gaan met vanjaar se Hanglip 54. Ongeag die weer, wat buite ons beheer was, het vanjaar se Hanglip 54 nog die vlotste ooit verloop. Die baan self was in puik toestand en daarvoor moet ons spesiaal vir Maarten Venter en Flappies Labuschagne bedank. Dankie ook aan elke komiteelid wat hard gewerk het,” het Steyn gesê.

Vanjaar se Hanglip 54 was ook ‘n geskiedkundige een, met twee volmaakte kolhoue wat tydens die toernooi aangeteken is, een waarvan die gelukkig gholfspeler met R100 000 as prys weggestap het. “So ver ek weet is daar nog nooit twee kolhoue tydens een toernooi aangeteken nie; wel, nie die afgelope 15 jaar nie. Daar is wel al enkele kolhoue tydens die toernooi aangeteken,” het Steyn gesê. Die eerste kolhou is deur Soutpansberg-klublid (Spb) Piet Vermaak op dag twee by putjie 15 aangeteken. As beloning het hy ‘n “high five” en ‘n drankie gewen omdat die putjie nie ‘n geborgde prysgeld gehad het nie. Die “groot geld” was by putjie nommer 11, wat vir al drie dae deur Soutpansberg Koelkamers geborg is. Groot was Kayur Premji (Spb) se vreugde toe sy bal op die laaste dag van spel Saterdag in die putjie beland vanaf die afslaan. Sy gelukskoot het hom die R100 000 prysgeld in die sak gebring.  

Vanjaar se toernooi is weer oor drie dae beslis. Hoe die toernooi werk is dat spelers in spanne van twee elke dag in ’n beterbal Stableford-kompetisie meeding. Elke dag lewer dus twee wenners op. Die algehele wenner is egter die speler wat die beste individuele Stableford-telling oor al drie dae aanteken.   

Die eerste dag se spel is gewen deur Hendrikus Stoop (Klerksdorp) en André Nel (Port Shepstone) met ‘n telling van 48 beterbal Stableford-punte. Ryno Gerber (Spb) en Yke Beetge (Polokwane) was tweede met 46 punte en broers Tjol en Alec Jandrell (Spb) derde met 45 punte.

Op dag twee was dit Piet Vermaak (Spb) en William de Klerk (Spb) wat met die louere weggestap het met ‘n baie goeie telling van 50 beterbal Stableford-punte. Barry Louw (Whites Gholfklub) en Danny du Plessis (Whites) was tweede met 45 punte en Inus Steyn (Spb) en Maarten Venter (Spb) derde met 44 punte.

Wat die laaste dag se spel betref, was dit Tom Low en Alvin Hoole (beide van Thabazimbi) wat koning gekraai het met 45 punte. Soutpansberg se Flippie Greyling en Dion Svoboda was ná ‘n uittel tweede met 44 punte, met klubmaats Piet Vermaak en William de Klerk wat derde was, ook met 44 punte.

William de Klerk se goeie prestasie oor die drie dae het ook van hom die algehele wenner gemaak van vanjaar se Hanglip 54-toernooi. Hy het vanaf ‘n 40 voorgee gespeel en 114 individuele Stableford punte bymekaar gemaak. In die tweede plek was Maarten Venter (10 voorgee) met 109 en derde was Danny Du Plessis (8 voorgee) met 107. Ongelukkig kon verlede jaar se wenner van die toernooi, Rampie Gilfillan, nie sy titel suksesvol verdedig nie.

 

 
 
 

Viewed: 2119

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

McDonald’s Suid-Afrika loods hul “Ken Ons Kos” veldtog

Advertorials: 12 July 2024

McDonald’s Suid-Afrika het ‘n veldtog geloods wat daarop gemik is om verbruikers meer te vertel oor die kwaliteit van hul voedselprodukte, asook die klem wat die maatskappy plaas op volhoubare produksie en etiese werkswyses by verskaffers.

ADVERTISEMENT