ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Vier-paaltjie oorwinnings vir beide Killers en Warriors

Date: 02 May 2024 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Krieketklub se volgende ronde T20-wedstryde is Sondag, 28 April, op die Louis Trichardt Ovaal beslis, met beide die Killers en die Warriors wat vier-paaltjie oorwinnings inpalm.

In die eerste wedstryd van die dag het RCI teen die Killers te staan gekom. RCI het eerste ingegaan om te kolf en ná ‘n aanvanklike stadige het die kolwers 118/7 lopies bymekaargeskraap in hulle toegelate 20 beurte, danksy dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Naeem Patel (10), Jabir Abhuji (47 nie uit nie) en Rafik Musa (35). Vir die Killers het bouler AC Geldenhuys korte mette  gemaak van die kolwers met ‘n boulontleding van vier paaltjies vir die verlies van slegs 13 lopies in sy vier boulbeurte (4/13/4). Spanmaats Paulo Piorek, Frikkie van Niekerk en Julius Kemp het elk een paaltjie laat kantel.

Die Killers het bietjie meer dringendheid in hulle kolfbeurt gehad, met dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Ruan van Tonder (18), Lukas Visser (32), AC Geldenhuys (38) en Julius Kemp (12) vir ‘n telling van 122/6 in hulle toegelate 20 beurte, wat aan hulle ‘n vier-paaltjie oorwinning besorg het. Vir RCI het boulers Vimal  Shah 2/12/4 en Irfan Junedi 2/15/4 geneem. Mehul Patel het een paaltjie ingeoes.

In die tweede wedstryd van die dag het NTT Vikings teen die Warriors te staan gekom. Die Vikings het eerste gekolf, maar die kolwers het maar gesukkel. Met slegs Leon Furstenburg (24) en Marius Meintjies (10) wat dubbelsyfers met die kolf kon aanteken, is die span in 13.3 beurte uitgeboul met slegs 65 lopies op die telbord. Vir die Warriors het bouler Frans Lottering geskitter met drie paaltjies vir die verlies van geen lopies in twee beurte, terwyl Johan Jacobs 2/15/3, Brendan Bouwer 2/12/2 en Dilawer Patel 2/28/3.3 kon vat. Ashraf Padarwala het een paaltjie laat kantel.

Die Warriors se kolfbeurt het nie vuurwerke opgelewer nie, maar was genoeg vir ‘n wen, met dubbelsyferbydraes deur Jacques Burger (21) en Frans Lottering (10). Danksy 12 ekstras vanaf die Vikings se boulwerk kon die Warriors die telling in 13.1 beurte verbysteek, met ‘n telling van 66/6, wat aan hulle ‘n vier-paaltjie oorwinning besorg het. Vir die Vikings het bouler Craig Viljoen 4/25/4 gevat, met Bielie van den Berg en Gysbert Guillaume wat elk een paaltjie kon plattrek.

 

 

 
 
 

Viewed: 766

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT