ADVERTISEMENT:

 

 
 

Armand Stander van Louis Trichardt op die aanval in die tweedespan se kragmeting tussen Louis Trichardt 2 en Letaba 2 tydens Saterdag se Conway Rugbydag. In die agtergrond staan Louis Trichardt se Justin Hugo (links) en Jayden da Gama. Louis Trichardt het 52-5 gewen. Foto: Karla van Zyl.

Louis Trichardt se rugbymanne wys reeds vroeg in die seisoen tande

Date: 12 April 2024 By: Andries van Zyl

Die koue en nat weer van Saterdag, 6 April, was nie genoeg om rugbyliefhebbers se geesdrif te demp nie, met die Louis Trichardt Rugbyklub se jaarlikse Conway Rugbydag wat weer ‘n goeie opkoms gehad het.

Die dag het weer ‘n feesmaal van rugby opgelewer, met laerskoolrugby wat reeds van vroegoggend gespeel is. Die streek se senior spanne het mekaar hierna die stryd aangesê, met Louis Trichardt wat reeds vroeg in die seisoen weer gewys het waarom hulle verlede jaar van die top posisies op die provinsiale punteleer beklee het.

Louis Trichardt se derdes het teen Nkowankowa uitgedraf, met Louis Trichardt wat 19-10 geseëvier het oor hulle opponente. Daarna het die dorp se “oumanne” Musina se tweedes die stryd aangesê, maar met Louis Trichardt se “oumanne” wat 25-0 uit die stryd getree het, was die verkeer maar redelik eenrigting.

Louis Trichardt se tweedes het voortgebou op die klub se suksesse die dag in hulle kragmeting tee Letaba se tweedes en die besoekers van Letaba 52-5 vermorsel. Letaba se eerstes het egter goed teruggeveg in hulle wedstryd teen Musina se eerstes en hul opponente van die grensdorp 43-12 geklop. Die hoofwedstryd die dag was tussen Louis Trichardt en Kruinies se eerstes, met Louis Trichardt se spelers wat ‘n skouspel van rugby opgelewer het om hulle opponente van Polokwane 48-0 die loef af te steek.  

Wat individuele prestasies betref, het Louis Trichardt ook die Speler van die Wedstryd toekennings oorheers. Die Speler van die Wedstryd in die derdespan se kragmeting was Louis Trichardt se Mukovhe Maedza, met klubmaat Allie Sefole wat die toekenning in die tweedespan se wedstryd ontvang het. In Louis Trichardt se eerstespanwedstryd het die toekenning aan AC Geldenhuys gegaan, en in die “oumanne” se wedstryd het TE Smit die toekenning ontvang.

Die Louis Trichardt Rugbyklub het hulle dank uitgespreek teenoor elke persoon wat die dag op welke wyse ook al ondersteun het. Dank het ook gegaan aan NTT Isuzu, wat al die Speler van die Wedstryd-prysgeld geborg het, asook aan Oil Shoppe (Louis Trichardt) wat die prys van die Speler van die Wedstryd geborg het in die “oumanne” se wedstryd. Dank het ook gegaan aan CFAO Motors, wat nuwe vlaggies en paalbeskermers vir die klub geborg het.

Die afgelope naweek se Conway Rugbydag was goeie oefening vir die klub, met hulle eerste amptelike ligawedstryde wat die naweek beslis sal word wanneer Louis Trichardt op 13 April na Polokwane sal reis vir wegwedstryde teen Noordelikes.

 

 
 
 

Viewed: 1169

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT