ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto uit ons argiewe.

RCI en Warriors kraai koning in volgende ronde T20-wedstryde

Date: 08 March 2024 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Krieketklub se T20-liga het die afgelope naweek voortgeduur, met RCI en die Strikers wat Saterdag, 2 Maart, teen mekaar kragte gemeet het, en die Roaring Lions en Warriors wat Sondag, 3 Maart, mekaar die stryd aangesê het.

In die eerste wedstryd van die naweek het RCI ingegaan om eerste te kolf. Hulle kon 132 lopies vir die verlies van sewe paaltjies (132/7) in hulle toegelate 20 beurte aanteken. Vir RCI is dubbelsyferbydraes vanaf die kolf aangeteken deur Nimesh Watekar (13), Jabir Abhuji (37), Sandip Patel (16), Hussain Patel (17 nie uit nie) en Mubarak Patel (14 nie uit nie).

Wat Strikers se boulers betref, het Hanco Kok twee paaltjies vir die verlies van 18 lopies in sy vier beurte (2/18/4) gevat, terwyl Christo Boshoff geëindig het met ‘n boulontleding van 2/19/4 en Riaan Gerber 2/32/4. Dirk van den Berg het een paaltjie laat kantel.

Strikers se kolwers het vanaf die eerste bal teen RCI se boulers gesukkel, met die hele span wat hulself terug op die pawiljoen bevind het met sleg 88 lopies op die telbord in 16 beurte. Dit het aan RCI ‘n 44-lopie oorwinning besorg. Slegs kolwers Christo Boshoff (12) en Phillip Blom (24) kon dubbelsyfers aanteken.

Vir RCI was bouler Rafik Musa in goeie vorm met ‘n boulontleding van 4/32/4. Mede-boulers Jabir Abhuji en Mehul Patel het onderskeidelik 2/17/3 en 2/13/3 geneem, terwyl Rehan Patel en Shivam Patel elk een paaltjie laat kantel het.

Tydens Sondag se wedstryd tussen die Roaring Lions en die Warriors het die Roaring Lions eerste gekolf. Ná ‘n aanvanklike stabiele begin deur openingskolwers Craig Viljoen (28) en Brendan Bruce (23), en Brian Vermeulen (18) in op nommer drie, het die Lions se kolfbeurt bietjie gesteier, met slegs Thabang Maselesa, in op nommer sewe, wat met ‘n vinnige 34 lopies van 14 balle af (vier viere en twee sesse) die Lions se telling gehelp het na slegs 122/9 in hulle 20 beurte.

Vir die Warriors het bouler Frans Lottering uitgestaan met ‘n boulontleding van 4/24/4, terwyl Jacques Burger 2/26/4 kon vat. Dilawer Patel en Brendan Bouwer het elk een paaltjie platgetrek.

Die Warriors se kolwers het geen tyd voor die plaatjies gemors nie, en kolwer Hasan Diwan het sy span na ‘n oorwinning gestuur met ‘n telling van 73 lopies (nie uit nie) vanaf slegs 36 balle. Sy kolfbeurt het ingesluit 13 viere en een ses. Spanmaat Hussain Diwan het 10 lopies aangeteken, met die Warriors wat die teiken verbygesteek het in die 13de beurt om te eindig op 123/3, wat aan hulle ‘n sewe-paaltjie oorwinning besorg het.

Vir die Roaring Lions het Thabang Maselesa al die paaltjies vir ‘n boulontleding van 3/26/4 geneem.

Limpopo Melkery en die NTT Vikings se wedstryd Sondag is uitgestel na ‘n latere datum. Wat die naweek die plaaslike T20-wedstryde betref, sal geen wedstryde plaasvind nie, nadat die provinsiale (Vhembe) T20-liga ook afgeskop het. Op Sondag, 10 Maart, om 09:00 kom Louis Trichardt en Giyani op Louis Trichardt se tuisveld teen mekaar te staan, terwyl Eltivillas en Univen mekaar op Eltivillas se velde sal pak. Om 14:00 kom Giyani teen Eltivillas in Eltivillas te staan, waarna Univen vir Louis Trichardt op die Louis Trichardt Ovaal mekaar die stryd sal aansê.

 

 
 
 

Viewed: 1320

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT