ADVERTISEMENT:

 

 
 

Stephan Gaigher (middel) saam met sy twee gidse by die reuse arapaima wat hy in die Amasone geland het. Foto verskaf.

Kyk: Stephan vang 'n monster!

Date: 01 December 2023 By: Andries van Zyl

Vir meeste hengelaars sal dit net ‘n droom bly om eendag ‘n ware “riviermonster” te vang, maar vir die 50-jarige Stephan Gaigher van Louis Trichardt is dit nie meer ‘n droom nie. Sy vliegstok het vroeër die maand krom getrek onder die gewig van ‘n ware oermonster toe hy ‘n reuse arapaima in die Amasone gevang het.

Sedert sy groot vangs teiken hy en Lesley die forelle in die Patagoniese Andes. “Maar die omgewing oorskadu die visvang. Die Patagoniese Andes is net onbeskryflik,” sê Stephan. Foto verskaf.

Stephan, ‘n argeoloog van beroep, vertel dat hy sedert sy kinderdae droom om na die Amasone te reis. “Die naam Amasone en die beelde wat dit uitgelok het, het vir baie lank net ‘n droom gebly. Beelde van swerms helder gekleurde papegaaie, pienk varswater dolfyne en Indiane met blaaspype waarmee hulle gifpyle skiet, draai om hierdie naam. Toe ons dus ‘n geleentheid hierdie jaar gekry het om in die rigting van Manaus te reis, het ek begin kyk na ‘n besoek aan die unieke area en miskien die najaag van nog ‘n lewenslange obsessie,” sê Stephan. Die “ons” waarna hy verwys is sy vrou Lesley (41) en die “unieke area” is die Pirarucu Lodge noordwes van Tefe, in die sentraal Amasone-kom. Dié deel is geleë binne die Mamiraua beskermde area, ‘n nasionale park van ongeveer 1.2 miljoen hektaar in die sentraal Amasone. Dit vorm die grootste (en laaste) bastion vir die voortbestaan van die oermonster die Pirarucu, oftewel die arapaima.

Volgens Stephan het hulle harde landing op Manaus-lughawe, die grootste dorp in die middel van die Amasone, hulle vroeg reeds voorberei op die uitdagings van die oerwoud. “Die humiditeit en hitte slaan letterlik jou asem weg wanneer jy uit die lughawe kom. Dit voel of jy net nie genoeg suurstof kan inasem nie en jy is onmiddellik deurweek van sweet,” sê Stephan, met hulle gids wat hulle met ‘n alleswetende uitdrukking op sy gesig “Welcome to the Jungle” gegroet het.

“Die Amasone is hierdie jaar baie laag. Die laagste wat dit in 120 jaar was. Die akkommodasie wat dryf op die rivier word gewoonlik per boot bereik. Ongelukkig vir ons was die rivier so laag dat ons deur die reënwoud moes stap om daar uit te kom. Kombineer dit net ‘n lokale hittegolf van 39-40 grade Celsius en 100% humiditeit, maak dit nie vir ‘n gemaklike wandeling nie,” sê Stephan.

So het dit gekom dat Stephan en Lesley hulle diep binne die sytakke van die Amasone se grootste rivier bevind het, die arapaima se skuilplek. “Oorbenutting van die vis het amper tot sy totale uitsterf gelei. Die Mamiraua inisiatief het egter daartoe gelei dat die spesies van die rand van uitwissing af terug gepluk is, tot so mate dat ‘n paar bevoorregte mense elke jaar nou toegelaat word om binne die reservaat hierdie monster te jag met ‘n vliegstok. Dit sou dan ook my voorreg word,” sê Stephan.

Volgens Stephan was hengeltoestande moeilik. “Ons het net drie dae gehad om die watermonster te uitoorlê. Om die arapaima vas te trek, is nie eens op konvensionele gerei enigsins verseker nie. Jeremy Wade van die River Monsters-televisiereeks het 12 dae geneem met konvensionele gerei en aas om een aan te keer. Ek het drie dae gehad, met ‘n stel pasgemaakte vlieë uit Centurion. Die tegniek is sieldodend. Jy werk teen beperkte tyd hier. Die tegniek behels die gooi van ‘n 11 gewig Sage R8 seeklas vliegstok met ‘n 25cm vlieg met 8/0 Owner hoeke (glo my, dit is groot!). Dan volg ‘n pynlike, stadige terugtrek van die vlieg deur die modderwater. Dit kan tot 10 minute neem om een gooi weer terug te kry,” verduidelik Stephan.

Op die eerste dag het Stephan-hulle geen byte gehad die oggend nie. “Die middag pik iets aan my lyn soos ‘n kleinerige kurper. Die arapaima het ‘n beenbek en dit is baie moeilik om ‘n hoek so geset te kry dat dit nie net weer uitval nie. Daarom kap mens nie die vis soos mens konvensioneel sou doen nie; nee, hier is die ‘strip-strike’ die ding. Jy hou die stok gelyk en probeer met al jou krag om die 80 pond strop af te breek met die set. As jy gelukkig is, en onthou om aan die visstok vas te klou, word jy beloon deur die sterkste hardloop sarsie wat ek nog ooit by enige vis ervaar het. Hierdie eerste vis het oor die 300 meter lyn geneem op sy eerste hardloop en toe afgekom,” het Stephan gesê.

Die volgende twee dae was baie stil. “In die tyd het ek dit reg gekry om die 80 pond strop twee keer te breek, twee keer die hoek te trek en een keer in ‘n boom vas te sit. My laaste dag sien my nog sonder enige validasie vir my reis,” sê Stephan.

Die oggendsessie van dag drie (7 November) was stadig, met geen byte nie. “Teen die middag verduidelik die Amasone vir ons hoekom daarna as ‘n reënwoud verwys word. Dit sous onophoudelik. Die tipe reën waar jy nie jou hand voor jou gesig kan sien nie. Die dreineringspompe op die boot loop aanhoudend om ons bo-op die water te hou,” sê Stephan.

Met die harde reën wat dit moeilik gemaak het om te sien, het Stephan nie eers ‘n idee gehad waarheen hy gegooi het nie. Hy het net deur die bewegings gegaan. “Skielik voel ek die ligte stamp, stamp duidelik weer deur die vlieglyn. My hart mis ‘n slag of twee. Dit is nou of nooit. Ek ‘strip-strike’ die lyn, wanneer ek die gewig voel, met alles wat ek het en sit sommer ‘n paar ekstra kappe by. Die vis trek weg van ons af met ongelooflike aggressie en ek besef ek is vas aan iets uitsonderlik,” sê Stephan.

Stephan se Shilton-katrol, wat vir seemonsters gebou is, se rem was totaal en al uit sy liga. “Ek probeer help met my hand, net om my kneukels oopgekap te kry. Daar is geen manier om die lyn te stop nie. Die katrol is ‘n silwer warboel,” het Stephan gesê. Hy het magteloos toegekyk hoe die 200-meter 50-pond ondersteuningslyn uithardloop. “Ek weet ek gaan die vis verloor en daar is niks wat ek kan doen daaraan nie. Die silwer bodem van die katrolspoel word sigbaar. In ‘n laaste poging gryp ek die spoel met my hande vas. Die velle waai, maar ek hou, en ongelooflik begin die gedierte stadiger loop,” sê Stephan.

In daardie stadium het die allemintige arapaima die boot begin rondsleep. “Maar gelukkig lyk dit of die lyn gaan hou. Die gids beduie dat ons moet kant toe, want die vis is te groot. Ons ry stadig met die sluiermotor na die kant toe. Dit neem ‘n ewigheid, maar is in werklikheid seker nie vyf minute gewees nie. Op die kant klim ek af tussen die kaaimans en begin die vis baklei na die kant toe. Dit wil voorkom of sy alles gegee het op die eerste aanslag en sy kom geleidelik in,” sê Stephan.

Toe die vis die eerste keer water breek, besef Stephan vir die eerste keer hoe groot die vis werklik is. Saam met die Indiaanse gids en die visgids baklei hulle haar tot in die vlak modder met die kaalhand. “Dit lyk soos ‘n professionele modderstoei wedstryd. Uiteindelik het ons haar aan wal en ek val neer langs my prys … uitgeput,” sê Stephan.

Die vis het 201 cm gemeet en volgens haar lengte word haar gewig op 150 kg geskat. “Ons probeer haar optel om ‘n foto te neem, maar drie mans (van wie een emosioneel en fisies gebreek is… ) kon haar nie opgetel kry nie. Vir my moeite kry ek ‘n stewige hou van die Indiaan se elmboog op die oog toe hy terugruk om van die vis af weg te kom. Dit pla my min. My prys is gewen. Ek val op my rug op die dek van die motorboot en laat die reën my skoonwas,” sê Stephan.

Die arapaima is ‘n vis  wat nog so primitief is dat dit suurstof direk vanaf die atmosfeer inasem. Dit groei stadig, maar word groot - groter as wat mens sou verwag en is dan ook inderdaad die grootste geskubde varswatervis in die wêreld. Voorbeelde raak gereeld meer as twee meter in lengte en druk die skaal tot 150kg. Die grootste op rekord is 307 cm en het net meer as 200kg geweeg.

Stephan met een van die talle forelle wat hy in die Patagoniese Andes geland het. Meeste van hulle was so 50 cm, met ‘n gewig van 2 kg. Hy is nou op pad na Jurassic Lake in Argentinië om jag te maak op nog ‘n “riviermonster” - reuse reënboog forelle van tot 10 kg. Foto verskaf.

Vir Stephan is dit ‘n ervaring van ‘n leeftyd. Sedert sy groot vangs het hy en Lesley die forelle gelooi in die Patagoniese Andes. “Maar die omgewing oorskadu die visvang. Die Patagoniese Andes is net onbeskryflik,” sê Stephan. Dinsdag het Stephan, wat steeds die beste maak van hulle Suid-Amerikaanse besoek, laat weet dat Lesley hom die vorige dag bietjie ore aangesit het met die forelle. Sy volgende “riviermonster” waarop hy nou fokus is om een van Jurassic Lake in Argentinië se reuse reënboogforelle te vang van tot 10 kg. “Ons is nou op pad Jurassic Lake toe,” sê Stephan. Hulle beoog om op 5 Desember daar aan te land.

Dinsdag het Stephan laat weet dat sy vrou Lesley hom Maandag bietjie ore aangesit het met die forelle. Hier is sy met een van haar talle vangste. Foto verskaf.

* ‘n Video van Stephan se geveg met die reuse arapaima sal Vrydagoggend saam met die artikel op die Zoutpansberger se webblad (www.zoutpansberger.co.za) verskyn.

 

 
 
 

Viewed: 3928

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT