ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 53-jarige De Wet van Wyk (middel) op die podium kort nadat hy aangewys is as wêreldkampioen in die swaargewig kumité (geveg) afdeling vir mans meesters (50 jaar en ouer). Foto verskaf.

De Wet pronk met titel van wêreldkampioen

Date: 21 July 2023 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt spog hierdie week met ‘n wêreldkampioen, nadat sensei De Wet van Wyk (53) vir homself ‘n eerste plek losgeslaan het tydens die Kimura Shukokai International (KSI) Wêreld Karatekampioenskap in Kaapstad vanaf 12 tot 15 Julie.

Die wêreldkampioenskap het in totaal 1 089 inskrywing van 580 karatekas uit 18 lande gelok. Die lys van deelnemende lande in alfabetiese volgorde was Amerika, Australië, Botswana, Duitsland, Engeland, Estonië, Finland, Indië, Kanada, Mosambiek, Nederland, Nieu-Seeland, Portugal, Seychelles, Swede, Switserland, Suid-Afrika en Zimbabwe.

Suid-Afrika het twee spanne ingeskryf, naamlik KSI Suid-Afrika Suid en KSI Suid-Afrika Noord. Eersgenoemde het die kampioenskap gewen met 15 goue, 17 silwer en 31 brons medaljes. Van Wyk was deel van die KSI Suid-Afrika Noord-span, wat algeheel tweede geëindig het in die toernooi met 11 goue, 11 silwer en 17 brons medaljes. Shukokai Karate Finland was derde met vyf goue, vyf silwer en 10 brons medaljes.

Van Wyk het weggestap met die titel van wêreldkampioen in die swaargewig kumité (geveg) afdeling vir mans meesters (50 jaar en ouer), nadat hy Harri Björk van Finland in die finaal uitgestof het. In die gedeelde derde plek was Pino Gerin van Suid-Afrika en Simbarashe Chikutu van Zimbabwe.

Buiten vir sy goue medalje in bogenoemde afdeling, het Van Wyk ook ‘n brons medalje in dieselfde ouderdoms- en gewigsklas in die kata-afdeling verwerf. Dié afdeling is gewen deur Charles Hinde, met Terrence Lakey in die tweede plek, beide van Suid-Afrika.

Vir Van Wyk was daar geen groter eer as om sy land te verteenwoordig nie. Sy pad na die wêreldkampioenskap het in Oktober verlede jaar begin toe hy gekies is vir die Suid-Afrikaanse oefengroep. As deel van die KSI Suid-Afrika Noord-span het hy in Polokwane saam geoefen, afgewissel met gesamentlike landswye oefensessies in Johannesburg tot kort voor die kampioenskappe. “ ’n Mens werk mos maar na ‘n punt toe en dit was vir my ‘n groot eer,” het Van Wyk gesê. Hy het bygevoeg dat hy ook vroeër vanjaar na sy sewende dan [swart gordel] gegradeer het. “So ek het ‘n bedrywige karatejaar agter die rug,” het Van Wyk gesê.

Die kampioenskappe self was ook baie fisiek. Van Wyk-hulle moes oor twee dae deur verskeie uitdunrondes gaan, waarvan die kumité-afdeling die moeilikste is. “Daar is groot manne in die swaargewig-afdeling,” het Van Wyk gesê.

Om as wêreldkampioen in kumité aangewys te word, was vir Van Wyk ‘n persoonlike mylpaal. Hy was al by twee vorige geleenthede (2012 in Amerika en 2014 by Sun City) wêreldkampioen in kata in sy ouderdomsklas gewees. “Vir my is dit soos ‘n droom wat waar geword het, ‘n doel wat ek bereik het. Ek gaan nou my net toespits of afrigting en my karateklub. Ek dink aktiewe kompetisiedae is nou verby. Dit is lekker om op ‘n hoogtepunt uit te gaan. Dit was lekker, maar dit is nou klaar,” het Van Wyk gesê.

Buiten vir Van Wyk se individuele prestasie, het die Suid-Afrikaanse manspan vir die vyfde keer die spankompetisie gewen. “Dit is ‘n ander kategorie waarom ons deelneem. So ja, dit is baie harde werk en baie ure,”  het Van Wyk gesê.

Van Wyk beoefen karate al vir die afgelope 40 jaar. Wat dit betref het hy sy dank uitgespreek teenoor oud-inwoner Jannie van Zyl, saam met wie hy begin karate doen het. Hy het later Van Zyl se dojo, die Louis Trichardt Shukokai Karateklub, gekoop. “Sensei Jannie was altyd ‘n groot mentor van my gewees,” het Van Wyk gesê. Buiten vir karate boer Van Wyk en maak hy veevoer.

 

 
 
 

Viewed: 2955

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT