ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Limpopo te sterk vir Strikers en Academy te goed vir Warriors

Date: 20 July 2023 By: Andries van Zyl

Limpopo Melkery het Saterdag die Strikers uitgestof in die volgende ronde wedstryde van die Louis Trichardt Krieketklub se tweede T20-liga van die jaar, terwyl die Louis Trichardt Academy Sondag die Warriors geklop het.

Wat Saterdag, 15 Julie, se wedstryd op die Louis Trichardt Ovaal betref, gaan die Strikers in om eerste te kolf. Hul kolfbeurt lyk nie te sleg nie, met die eerste vier kolwers wat almal dubbel-syfers aanteken. Dirk van den Berg, Ettienne Hendriks, Hanco Kok en Christo Boshoff teken onderskeidelik 18, 14, 32 en 27 lopies aan, met Riaan Gerber wat op die stertkant op nommer ses 39 lopies (nie uit nie) aanteken en Paulo Piorek in op nommer agt wat 19 lopies bydra. Die dubbel-syfers neem die Strikers se telling na 180/7 in hulle kolfbeurt.

Vir Limpopo het Leon Olwage die meeste sukses met die bal en laat kantel drie paaltjies vir die verlies van 19 lopies in sy vier boulbeurte (3/19/4). Rikus Smit neem 2/56/4, met Vimal Shah en Joubert Fourie wat elk een paaltjie vat.

Leon Olwage se goeie vorm met die kolf van die vorige naweek (toe hy 145 nie uit lopies teen Academy gemoker het) duur voort en hy slaan ‘n vinnige 81 lopies van 33 balle af wat insluit nege viere en ses sesse. Met dubbelsyferbydraes ook deur medekolwers AJ Fourie (17), Nimesh Watekar (14), Juan-Michael Phillips (43) en Brendon Bruce (13) draf Limpopo die teiken vinnig kaf met net meer as twee beurte om te spaar en eindig op ‘n telling van 181/5 in 17.4 beurte. Dit besorg aan hulle ‘n vyf-paaltjie oorwinning oor die Strikers.

Vir die Strikers het bouler Christo Boshoff die meeste sukses en palm 2/27/2.4 in. Ettienne van Heerden, Jeremy Rademeyer en Dirk van den Berg neem elke een paaltjie.

Louis Trichardt Academy gaan Sondag eerste in om te kolf. Mehul Patel, Patrik Patel, Viral Patel en Shahir Patel spog almal met dubbel-syfer bydraes vanaf die kolf van onderskeidelik 13, 30, 55 en 27 lopies om Academy se eindtelling te neem na 161/5.

Vir die Warriors neem Frans Lottering 2/32/4 in hulle boulbeurt, terwyl Brandan Bouwer, Albert du Plessis en Ashfak Natha elk een paaltjie laat kantel.

Die Warriors sukkel maar in hulle kolfbeurt. Vier van hulle kolwers word vir nulletjies uitgehaal en net drie teken dubbel-syfers aan. Openingskolwer Hassy Diwan en Sufiyan Dalla teken onderskeidelik 33 en 11 aan, terwyl Louis Steyn in op nommer nege veg tot 22 lopies van 29 balle af. Die Warriors word egter uitgeboul met hulle telling op 117 lopies in 15.5 beurte wat aan Academy ‘n 44 lopie oorwinning besorg.

Vir Academy is Preteesh Patel in verwoestende vorm met die bal en hy neem 5/17/3.5. Vimal Patel rig ook groot skade aan met ‘n boulontleding van 3/16/4. Shahir en Mehul Patel trek op hulle beurt elk een paaltjie plat.

Eerskomende Saterdag, 22 Julie, kom die Warriors te staan teen die NTT Vikings. Die wedstryd begin om 14:00 op die Louis Trichardt Ovaal. Sondag, 23 Julie, stap die Strikers en Louis Trichardt Academy om 12:00 teen mekaar uit. Toeskouers is welkom.

 

 
 
 

Viewed: 1224

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT