ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Warriors struikel teen Academy

Date: 15 June 2023 By: Andries van Zyl

Twee wedstryde is die afgelope naweek beslis in die Louis Trichardt Krieketklub se volgende ronde 20-beurt wedstryde, met die Warriors en Louis Trichardt (LTT) Academy wat Saterdag (10de) teen mekaar uitgestap het, gevolg deur Limpopo Melkery en die Strikers wat Sondag teen mekaar te staan gekom het.

Die Warriors het eerste ingegaan om te kolf, maar hulle kolwers het hulle vanaf die eerste bal in allerhande moeilikhede bevind.  Slegs een van die Warriors se kolwers, Brendon Bouwer - in op nommer vyf - kon dubbelsyfers aanteken van slegs 10 lopies, met die span se laaste paaltjie wat in 12.4 beurte geval het met die telling op slegs 51 lopies.

Uit bogenoemde blyk duidelik dat Academy se boulers in verwoestende vorm was. Hier staan Brendon Bruce uit, nadat hy vier paaltjies laat kantel het vir die verlies van slegs 11 lopies in 2,4 beurte (4/11/2,4). Sahir Patel en Abid Patel het elk twee paaltjies platgetrek, met boulsyfers van 2/16/4 en 2/4/3.

Academy se kolwers het op hulle beurt geen probleem gehad om die telling te jaag nie en het die wenlopies (52/0) in slegs 5,5 beurte aangeteken - te danke aan Sahir Patel wat 12 lopies (nie uit nie) aangeteken en Brendan Bruce wat ‘n vinnige 32 lopies van 15 balle af geslaan het. Warriors se agt ekstras het ook nie gehelp nie. Academy het die wedstryd met 10 paaltjies gewen.

Sondag se wedstryd tussen Limpopo en die Strikers was baie meer naelskraaps gewees.

Strikers het eerste ingegaaan om te kolf en ‘n skaflike 177 lopies vir die verlies van vyf paaltjies in hulle 20 beurte aangeteken. Dubbelsyferbydraes deur ses van hulle kolwers het hiervoor gesorg, met Gerhard Dreyer wat 55, Hanco Kok wat 34, Riaan Hamman wat 15, Christoff Boshoff wat 20, Fahaan Khoja wat 21 en Riaan Gerber wat 14 lopies aangeteken het.

Vir Limpopo het Joubert Fourie twee paaltjies vir die verlies van 27 lopies in drie beurte geneem, terwyl Brendan Bruce, Leon Olwage en Naweed Jolly elk een paaltjie ingeoes het.

Limpopo se kolfbeurt het goed gelyk, maar ten spyte van Juan-Micheal Phillips se 56 lopies vanaf 41 balle en Brendan Bruce se vinnige 41 lopies vanaf 21 balle, was ‘n wen hulle nie beskore nie. Hulle het geëindig op ‘n telling van 175/8 ná hulle 20 beurte, wat aan die Strikers ‘n naelskraapse 2-lopie oorwinning besorg het. Ander kolwers wat dubbelsyfers aangeteken het, was AJ Fourie (25), Nimesh Witaker (14) en Gerrie Oelofse (12).

Vir die Strikers het Riaan Gerber en Christo Boshoff elke twee paaltjies laat val,a met boulsyfers van 2/31/4 en 2/36/4, terwyl Fahaan Khoja en Paulo Piorek elk een paaltjie gevat het.

Eerskomende Saterdag, 17 Junie, pak die NTT Vikings en Warriors mekaar om 14:00 op die Louis Trichardt Ovaal.

 

 
 
 

Viewed: 836

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT