ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Halfeindstryde in plaaslike T20-liga beslis

Date: 16 May 2024 By: Andries van Zyl

Die halfeindstryde in die Louis Trichardt Krieketklub se plaaslike T20-liga is die afgelope naweek beslis, met die Warriors en RCI wat Saterdag teen mekaar te staan gekom het, en Limpopo Melkery en die Killers wat Sondag kragte gemeet het.

In Saterdag se wedstryd het RCI ingegaan om eerste te kolf en 137 lopies vir die verlies van ses paaltjies (137/6) aangeteken in hulle toegelate 20 beurte. Dié telling was grootliks te danke aan kolwers Ikram Patel en Jabir Abhuji, wat onderskeidelik 49 en 47 lopies kon aanteken. Hulle was ook die enigste kolwers om dubbelsyfers te behaal. Vir die Warriors het bouler Dilawer Patel uitgestaan. Hy het vier paaltjies laat kantel vir die verlies van 23 lopies in sy vier beurte (4/23/4), terwyl Frans Lottering een paaltjie kon plattrek.

Die Warriors se kolwers het koelkop die teiken gejaag, met dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Ashraf Padarwala (25), Hussain Diwan (37) en Dilawer Patel (26). Danksy hulle kolfwerk het die Warriors die wenlopies van 138/4 in 15.1 beurte aangeteken om aan hulle ‘n ses-paaltjie oorwinning te besorg. Vir RCI het bouler Ikramuddin Patel uitgestaan met ‘n boulontleding van 3/28/4, terwyl spanmaat Rafik Musa (Ikram Kamboli) een paaltjie kon inpalm.

Wat Sondag se wedstryd betref, het Limpopo eerste gaan kolf en hulle pad oop geveg tot 141 lopies voordat hulle in 19.3 beurte uitgeboul is. Dubbelsyferbydraes met die kolf is gelewer deur Amir Bux (17), Leon Olwage (41) en Gerhardus Fourie (43). Vir die Killers was bouler Dewald Joubert in verwoestende vorm, met ‘n ongelooflike boulontleding van vier paaltjies vir die verlies van sleg vyf lopies in 2,3 beurte. Spanmaat Lukas Visser en AC Geldenhuys kon spog met boulontledings van onderskeidelik 2/6/2 en 2/20/4, terwyl Zander Volgraaff en Paulo Piorek elk een paaltjie gevat het.

Die Killers se kolwers het in hulle kolfbeurt kleingeld gemaak van Limpopo se boulaanval. Aanvangskolwer Zander Volgraaff het standvastig gespeel vir sy 51 lopies (nie uit nie), terwyl Dewald Joubert 18 lopies bygedra het voordat hy geboul is. AC Geldenhuys het egter die Limpopo boulers die finale nekslag toegedien, met ‘n blitsige 69 lopies (nie uit nie) vanaf slegs 30 balle in ‘n kolfbeurt wat ses viere en vyf sesse gesien het. Die Killers het die wenlopies van 144/1 in slegs 16.1 beurte aangeteken, wat aan hulle ‘n nege-paaltjie oorwinning besorg het. Die Killers se enigste paaltjie is gevat deur bouler Brian Vermeulen.

Die liga-eindstryd vind Sondag, 26 Mei, vanaf 14:00 op die Louis Trichardt Ovaal plaas. 

 

 
 
 

Viewed: 1795

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT