ADVERTISEMENT:

 

 
 

In hierdie foto, wat by een van die verdagtes se woning geneem is, kan gesien word hoe goed die wild- en veediewe toegerus is om die vleis wat hulle op groot skaal op plase stroop te verwerk. Foto verskaf.

Boere juig ná arrestasies, maar …

Date: 17 May 2024 By: Andries van Zyl

Nog vier verdagtes is deur ‘n spesiale taakspan van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangekeer in verband met die vlaag wild- en veediefstalle op plase in die Alldays-omgewing. Die arrestasies volg ná maande van boere se ongelukkigheid oor veral die Alldays SAPD se onvermoë om hulle werk te doen en verdagtes te arresteer.

Die Zoutpansberger het in November 2023 oor die omvang van die probleem gerapporteer en die buitengewone stappe wat boere moet neem om hulle wild en vee te beskerm. Dit sluit in die huur van privaat sekuriteitsmaatskappye, en in een geval het ‘n boer sy eie privaat DNS-toetse laat doen op ‘n beeskarkas om te bepaal of dit op sy plaas gesteel is. In vorige berigte is ook melding gemaak van meer as 100 wild- en veediefstalsake wat sedert 2021 by die Alldays SAPD aangemeld is, met min of geen resultate nie. Rekord van al die sake en saaknommers is gehou. In baie gevalle het die polisie bloot die sake gesluit. Dit het volgens mnr. Morné Gilfillan, ‘n wildboer van die omgewing, daartoe aanleiding gegee dat tot 70% van boere nie eers die moeite doen om wild- en veediefstalle aan te meld nie. 

Alldays Landelike Veiligheid, ‘n forum bestaande uit beide kommersiële boere en bestaansboere in die omgewing, het van hulle kant af alle moontlik kanale probeer volg op die probleem aangespreek te kry. Dit het ingesluit vergaderings met die polisie se topbestuur in die provinsie. Resultate is egter eers gesien nadat boere in die streek tydens ‘n gemeenskapsvergadering op 18 April vanjaar gedreig het om die wild- en veediewe te begin doodskiet, aangesien die polisie niks wil doen nie.

‘n Direkte uitvloeisel van die vergadering was die arrestasie van ‘n 27-jarige Zimbabwiese man slegs vier dae later deur ‘n spesiale polisie taakspan van die Capricorn-distrik. Die man is in Louis Trichardt aangekeer en vir boere in die Alldays-omgewing was dit bewys van wat gedoen kan word indien die “wil” om iets te doen bestaan by die polisie.

Die mees onlangse arrestasies is op 7 Mei uitgevoer, weereens deur ‘n spesiale ondersoekspan van die Capricorn-distrik as deel van Operasie Thatha Zonke. Die aand van 6 Mei is twee sake van onwettige jag by die Alldays SAPD aangemeld. Twee koedoes ter waarde van sowat R40 000 elk is op twee plase in die omgewing gejag. Inligting is opgevolg en twee verdagtes is aangekeer deur die spesiale ondersoekspan. Dit het gelei tot die arrestasie van ‘n man in die Speakerpark-woongebied buite Alldays, nadat koedoevleis in sy vrieskas gevind is en hy, volgens die polisie, erken het dat hy die koedoe onwettig gejag het.

Kort daarna is ‘n tweede verdagte, ook in Speakerpark, gearresteer, nadat ‘n halwe koedoekarkas in sy vrieskas gevind is. Ook hy kon nie verduidelik waar hy dit gekry het nie. Die polisie het ook sy voertuig gekonfiskeer waarmee hy die koedoevleis sou vervoer het. Ná verdere ondersoekwerk is ‘n vierde verdagte in dieselfde woongebied gearresteer nadat ‘n hele en ‘n halwe koedoekarkas in sy vrieskaste gevind is. Die vierde verdagte, wat ook met die diefstalle verbind is, is later by ‘n kompleks in Alldays aangekeer.

Me. Mashudu Malabi-Dzhangi, provinsiale woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het Dinsdag die arrestasie van die vier verdagtes bevestig. Sy het ook bevestig dat die verdagtes reeds in die hof op Bochum verskyn het en steeds in aanhouding is, hangende hulle verskyning in die hof op Alldays op Donderdag, 16 Mei, waar hulle borgaansoeke sal bring.

Volgens die voorsitter van Alldays Landelike Veiligheid, mnr. Danie Janse van Rensburg, sal boere, swart en wit, Donderdag in die hofsaal wees om die Staat te steun in hulle versoek dat geen borgtog aan die vier beskuldigdes toegestaan word nie.

“My stert swaai, want een van die verdagtes is blykbaar ‘n amptenaar van die Blouberg Munisipaliteit,” het Janse van Rensburg gesê. Hy het egter bygevoeg dat hy bekommerd is dat die arrestasie steeds deur “mense van buite” gedoen moet word en nie deur die polisie op Alldays gemaak kan word nie. “Van hoeveel dinge weet hulle wat ongesien verbygaan?” het Janse van Rensburg gesê.

Volgens Janse van Rensburg is die vier verdagtes maar een van vele vleissindikate wat in die Alldays-omgewing bedrywig is. Maar volgens hom, en ook Gilfillan, is “die regte” mense vasgetrek. Beide Janse van Rensburg en Gilfillan het gesê dat ‘n dramatiese afname van wild- en veediefstalsake ná die vier se arrestasie ondervind is. “Ek weet slegs van een geval die afgelope week,” het Gilfillan gesê.

“Ons is dankbaar teenoor die spesiale taakspan van Capricorn. As dit nie vir hulle was nie, was daar nog steeds geen arrestasies gemaak nie,” het Janse van Rensburg gesê.

Wat die klagte van swak of geen diens teen die polisie op Alldays betref, het provinsiale polisiewoordvoerder kol. Malesela Ledwaba in November verlede jaar (ná die eerste berig verskyn het) gesê dat die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembi Hadebe, kennis geneem het van die klagte en dat hulle na die aangeleentheid sou kyk. Hy het onderneem om terugvoer aan die koerant te gee sodra hulle ondersoek afgehandel is. In April is weer navraag gedoen oor die vordering van die ondersoek, maar tot op hede is nog geen kommentaar ontvang nie.

Intussen het Gilfillan die hoop uitgespreek dat die polisie hulle optrede sal kan volhou teen die vlaag onwettige wild- en veediefstalle.

 

 

 
 
 

Viewed: 1210

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Twee van die vrieskaste vol wildvleis waarop beslag gelê is deur lede van ‘n spesiale polisie taakspan van die Capricorn-distrik. Foto’s verskaf.

Twee van die vrieskaste vol wildvleis waarop beslag gelê is deur lede van ‘n spesiale polisie taakspan van die Capricorn-distrik. Foto’s verskaf.

In hierdie foto, wat by een van die verdagtes se woning geneem is, kan gesien word hoe goed die wild- en veediewe toegerus is om die vleis wat hulle op groot skaal op plase stroop te verwerk. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT