ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Vikings straf Strikers met lopiefees ná oggend-nederlaag

Date: 09 June 2023 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Krieketklub se volgende ronde 20-beurt ligawedstryde is die afgelope naweek beslis met Limpopo (melkery) en Louis Trichardt Academy wat Saterdag (3 Junie) kragte gemeet het, waarna Limpopo en die NTT Vikings Sondagoggend (4 Junie) kragte gemeet het en die NTT Vikings en Strikers die middag.

Wat Saterdag se wedstryd betref het Louis Trichardt Academy eerste ingegaan om te kolf, met hul kolwers wat hulle vinnig in die moeilikheid bevind het. Buiten vir openingskolwer Nimesh Watekar, wat hard moes werk vir sy 21 lopies, kon net Riahan Patel (10) ook dubbelsyfers aanteken. Met slegs 68 lopies op die bord was Academy almal terug in die paviljoen in die 14de boulbeurt.

Vir Limpopo was Amir Bux Saif in verwoestende vorm. Hy het vier paaltjie platgetrek vir die verlies van net vier lopies in 3,3 boulbeurte (4/4/3,3). Mede-bouler Brendan Bruce het op sy beurt drie paaltjies laat kantel vir die verlies van 20 lopies in sy vier beurte, terwyl Leon Olwage twee paaltjies ingeoes het vir die verlies van 15 lopies in vier beurte.

Limpopo het die teiken haastig gejaag en het slegs 5.5 beurte nodig gehad om die telling verby te steek - grootliks te danke aan Leon Olwage, wat ‘n vinnige 49 lopies van 22 balle af gemoker het, wat agt viere en twee sesse ingesluit het. Aan die teenkant het mede-kolwer AJ Fourie se paaltjie redelik goedkoop geval vir slegs ses lopies, waarna Amir Bux Saif 10 lopies aangeteken het om by te dra tot die wentelling van 69/1, wat aan Limpopo ‘n nege-paaltjie oorwinning besorg. Die enigste bouler van Academy wat sukses gehad het, was Vimal Shah, wat geëindig het met boulsyfers van een paaltjie vir die verlies van 27 lopies in 2,5 beurte.

Die volgende oggend was Limpopo weer op die veld, dié keer teen die NTT Vikings. Die Vikings het ingegaan om eerste te kolf en ‘n skaflike 177 lopies vir die verlies van vyf paaltjies aangeteken - alles danksy dubbelsyferbydraes vanaf die kolf van Leon Furstenburg, wat 70 lopies vanaf 59 balle gemoker, AC Geldenhuys, wat ‘n vinnige 60 lopies van 31 balle geslaan en Craig Viljoen wat 27 van 16 balle aangeteken het.

Vir Limpopo het AJ Fourie uitgestaan as bouler nadat hy vier paaltjies platgetrek het vir die verlies van 27 lopies in sy vier beurte. Vimal Shah het ook goed geboul, maar is beloon met slegs een paaltjie – ‘n boulontleding van 1/15/4.

Limpopo het effens wankelrig begin in hulle kolfbeurt, met een paaltjie plat met die telling op sewe lopies. Hierna het die kolwers hulle beurt herbou en met ‘n wentelling van 178 lopies vir die verlies van vier paaltjies in die 18de beurt geëindig, wat aan hulle ‘n ses-paaltjie oorwinning besorg het. Dubbelsyferbydraes deur Leon Olwage (47), Nimesh Watekar (38), Juan-Micheal Phillips (41) en TE Smit (29) het dit moontlik gemaak.

Vir die NTT Vikings het AC Geldenhuys 2/42/4 en Warno Smit 1/23/2 ingeoes.

Die NTT Vikings was die middag weer op die veld en dié keer het die Strikers die prys betaal vir die Vikings se nederlaag die oggend. Die Vikings het ‘n allemintige 236 lopies vir die verlies van slegs vyf paaltjie aangeteken in hulle kolfbeurt, danksy dubbelsyferbeurte deur kolwers Gysbert Guillaume (30), Warno Smit (41) en Christo Gerber (14). Die kolwer wat egter die wedstryd in die Vikings se guns geswaai het, was AC Geldenhuys met ‘n ongelooflike 128 lopies vanaf slegs 54 balle in ‘n kolfbeurt wat 15 viere en nege sesse ingesluit het.

Vir die Strikers het bouler Riaan Gerber die beste gevaar met boulsyfers van 2/19/4, met Fahaan Khoja, Christo Boshoff en Ettienne van Heerden wat elk een paaltjie laat kantel het.

Die Strikers het dapper probeer veg, maar ver tekort geskiet in hulle kolfbeurt. Ten spyte van dubbelsyferbydraes deur Dirk van den Berg (18), Gerhard Dreyer (18), Riaan Gerber (21), Hanco Kok (25) en JP van Niekerk (13), kon Strikers net 148 lopies bymekaar maak, voordat hulle laaste paaltjie in die 18de beurt geval het, wat aan die Vikings ‘n 88-lopie oorwinning besorg het.

Vir die Vikings het boulers Craig Viljoen 3/17/3 en Louis van Jaarsveld 2/22/2.3 losgeboul. AC, Gysbert, Bielie van den Berg, Dian van Tonder en Julius Kemp het elk een paaltjie geneem.

Saterdag, 10 Junie, om 14:00 sal die Warriors teen die Louis Trichardt Academy op die Louis Trichardt Ovaal te staan kom, en Sondag, 11 Junie, speel Limpopo teen die Strikers vanaf 12:00. Toeskouers is welkom.

 

 
 
 

Viewed: 862

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT