ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Soutpansberg se eie sterkman Leon le Roux van LMB Makhado in aksie tydens die Limpopo Sterkman-kompetisie wat op 20 Mei aangebied is. Le Roux wen die meestersklas vir mans. Weens die sukses van die dag kan die Suid-Afrikaanse Sterkman-kompetisie dalk volgende jaar op LMB Makhado aangebied word. Foto: A.VR. Photography.

Limpopo atlete bult hul spiere op LMB Makhado

Date: 08 June 2023 By: 

Paul’s Body Shop op Lugmagbasis Makhado, in samewerking met die Africa Strongman Union (ASU), het op 20 Mei gasheer gespeel vir die Limpopo Sterkman-kompetisie, met atlete vanoor die hele provinsie wat hulle spiere kom wys het.

In totaal het 15 kragmanne van Louis Trichardt, LMB Makhado, Polokwane, Phalaborwa en Coligny deelgeneem. Die kompetisie was ‘n kwalifiserende ronde vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op 26 Augustus vanjaar wat by Buffelspoort naby Rustenburg sal plaasvind. Almal wat op 20 Mei deelgeneem het, het gekwalifiseer vir SA’s.

Mans en vroue het afsonderlik gekompeteer. In die vroue-afdeling was die kategorieë ingedeel in onder 64kg, onder 74kg, onder 82kg en die ope klas. Vir die mans was die kategorieë onder 18 jaar, onder 80kg, onder 90kg, onder 105kg, ope en meestersklas.

Die kompetisie het uit vyf oefeninge bestaan, naamlik Deadlift, Log Press, Stone Throw/Ketlle Bell Throw, Medley (Farmers Walk, T-cross Carry, Yoke Walk), kruiwastoot en sandsak op skouer) en trok trek. Al die verskillende gewigte vir die verskillende kategorieë was goedgekeur deur ASU president Gerhard van Staden. Die Deadlift het gewissel tussen 100 kg en 240 kg vir maksimum repetisies in 1 minuut. Die Log Press se gewig het gewissel tussen 35 kg en 110 kg, ook vir maksimum repetisies in 1 minuut. Die Stone Throw het ook verskil in gewig afhangend van die kategorie en was gebaseer op die verste gooi. Die Kettle Bell Throw se gewig het gewissel tussen 12 kg en 20 kg en dit moes oor ‘n lat van 4.2m hoog gegooi word vir ‘n beste tyd vir al die gewigte. Met die Medley moes die atleet met die eerste vier oefeninge 20 m loop en laaste was die sandsak, wat onder beheer op die skouer gedra moes word. Die vinnigste tyd het gewen. Die trok trek was oor ‘n afstand van 20 m vir die vinnigste tyd.

Wat algehele uitslae betref was Otto Muller van Polokwane eerste in die mans ope-klas. Cobus Louw van Phalaborwa was tweede en Nico Goodchild (ook van Phalaborwa) derde. In die mans onder 105 kg-klas het Niel Swart van Louis Trichardt weggestap met ‘n wen, met D’Jan van Rhyn (ook van Louis Trichardt) in die tweede plek. Basil Scrooby van Pretoria was derde. Wat die mans onder 90 kg-klas betref was LMB Makhado se Piet Marakala eerste, met Wihan Pieterse van Louis Trichardt tweede. LMB Makhado se Abednego Moseya en Stiaan van Staden het onderskeidelik eerste en tweede in die mans onder 80 kg-klas geëindig, terwyl LMB Makhado se Dime Mphela weggestap het met ‘n wen in die mans onder 18-klas. Hier was William Young van Coligny tweede en Jeandré Maré (LMB Makhado) derde. In die meestersklas vir mans was het bekende Soutpansberg sterkman Leon le Roux van LMB Makhado weer die eerste plek ingepalm.

In die ope-klas vir vroue was LMB Makhado se Chrismie Marais eerste, terwyl Marihan le Roux die vroue onder 64 kg-klas ingepalm het.

Le Roux was ook die organiseerder van die kompetisie. Weens die sukses van die dag het Le Roux gesê dat LMB Makhado moontlik volgende jaar kan gasheer speel van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Le Roux het sy dank uitgespreek teenoor elke persoon wat ‘n bydrae gelewer het tot die sukses van die dag, met spesiale vermelding van hulle borge. Die borge het ingesluit Paul’s Body Shop vir die skenking en reëlings vir die dag; LMB Makhado se bestuur, wat die perseel beskikbaar gestel het, Pemico, PD Otto Elektries, Action Ford, Classic Signs en Printing en Louis Kruger. “Baie dankie vir u elkeen se onbaatsugtige bydrae tot die kompetisie. Dit word hoog op prys gestel en as gevolg van u bydraes was die dag ‘n sukses,” het Le Roux gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1154

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT