ADVERTISEMENT:

 

 
 

Joy Nel se foto wat sy met 'n Yashica D wat dateer uit die 1960s geneem het, was waarskynlik die beste foto van die dag. Gelukkig vir Joy het haar film goed ontwikkel, sonder te veel grein. Haar "model" was 'n 1959 Austin Healey Sprite se "padda-ogies".

Ou kameras (en film) sorg vir baie pret

Date: 01 February 2024 By: Anton van Zyl

Die eerste “uitstappie” van die antieke-kamera entoesiaste wat Saterdag plaasgevind het, kan sekerlik as konstruktief beskou word, synde dat foto’s geneem is en negatiewe ontwikkel kon word. Die film wat gebruik is (wat lankal reeds verby die vervaldatum is) het egter ‘n verrassing ingehou en baie meer grein gelewer as waarop gereken is.

Die klein groepie kamera-entoesiaste het by die Zoutpansberger se kantore byeengekom en is eers op ‘n toer deur die kameramuseum geneem. Hier kon hulle die kameras, wat plaatkameras ouer as ‘n eeu insluit, van nader besigtig. Hulle kon ook meer uitvind oor die fotografiese prosesse wat die afgelope 170 jaar gebruik is om foto’s te neem.

Saterdag se uitstappie het egter gefokus op Twin Lens Reflex (TLR) kameras. Hierdie is kameras wat ‘n afsonderlike lens het waardeur gefokus word. Die fokuslens is gewoonlik reg bokant die hooflens van die kamera. Die kameras wat Saterdag gebruik is, het ‘n Mamiya C33 en twee Yashica D kameras, wat uit die 1960’s dateer, ingesluit.

Ná ‘n kort opleidingsessie kon die groep fotograwe uitgaan en foto’s neem. Die versameling van ou motors (wat ook by die Zoutpansberger is) het handige “modelle” gemaak.

Later die middag is die film ontwikkel en die volgende dag geskandeer. Wat egter vinnig geblyk het, is dat om ou film en chemikalieë te gebruik nie altyd wys is nie. Die film en chemikalieë was die oorblyfsels van ‘n vorige projek in 2016. Gelukkig was hierdie vir almal net ‘n (gratis) kans om te eksperimenteer en het dit nie te erg saak gemaak dat die film baie strepe en grein bygekry het nie.

Die plan is om ‘n soortgelyke sessie oor ‘n maand te hou. Hierdie keer sal die uitdaging anders wees en van die ander tipe kameras sal gebruik word. Een van die voorstelle was dat die “Box Brownies” gebruik word. Hierdie kameras, wat dateer vanuit die vroeë 1900’s, het miljoene mense bekendgestel aan fotografie en is ook een van die maklikste maniere om ‘n foto te neem, want bykans niks hoef verstel te word aan die kamera nie. Die boks-tipe kameras is ook volop en kan vir ‘n paar honderd rand op vlooimarkte of by pandjieswinkels aangekoop word. Die Zoutpansberger se versameling bevat ook ‘n hele paar wat benut kan word.

Diegene wat belangstel in antieke kameras en fotografie kan gerus inskakel by die groep. Kontak vir Anton van Zyl by 015-5164996/7 of stuur ‘n e-pos aan hom by [email protected].

 

 
 
 

Viewed: 908

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT