ADVERTISEMENT:

 

 
 

Meer as een inwoner het die koerant geskakel en gekla dat hulle elektrisiteitsrekening skielik buitensporig die hoogte in geskiet het. Veral dié met voorafbetaalde-kragmeters het dit eerste agtergekom.

Elektrisiteitsrekening skok vir baie na Julie-verhoging

Date: 09 August 2024 By: Andries van Zyl

Vir baie inwoners het ‘n groot skok gewag einde Julie met die Makhado Munisipaliteit se implementering van hulle nuwe elektrisiteitstariewe. Alhoewel die stadsraad in hulle 2024/25 begroting ‘n 12.7% verhoging in hierdie tarief aangekondig het, meen baie dat die persentasie verhoging veel hoër is.

Meer as een inwoner het die koerant geskakel en gekla dat hulle elektrisiteitsrekening skielik buitensporig die hoogte in geskiet het. Veral dié met voorafbetaalde-kragmeters het dit eerste agtergekom. Ander sou later die skok op hulle maandelikse munisipale rekening beleef. Die klagte het gewissel van meters wat “vinniger as gewoonlik” die eenhede aftel, tot die algemene gevoel dat die raad meer as ‘n 12.7% verhoging geïmplementeer het.

“My maandelikse rekening is gewoonlik in die omgewing van R1,600 per maand, met ‘n gemiddelde verbruik van net oor die 600 kWh-eenhede per maand. Vir Julie was my rekening skielik R2,250! Ja, ek het bietjie meer eenhede verbruik, maar die styging is darem bietjie dramaties,” het mnr. Jan Bouwer van Louis Trichardt gesê. Hy het gesê hy en sy familie tel maar soos baie ander families die sente en ‘n dramatiese verhoging soos hierdie gaan vir hulle moeilik wees om te absorbeer.

Nog ‘n voorbeeld wat genoem is, was ‘n gesin van drie (wat almal werksaam is deur die dag) wat elke maand sowat R2,000 se krag verbruik. Die familie beskik oor ‘n sonpaneel-installasie gekoppel aan ‘n 5 kW battery. Deur die dag trek hulle dan hoofsaaklik krag vanaf die sonpanele. Ook hulle skok was groot gewees. Aan die begin van elke maand gaan koop hulle elke keer R500 se eenhede, wat hulle dan hou tot ongeveer die 15de van elke maand, waarna daar weer krageenhede gekoop word. In Julie het hierdie eenhede hulle egter net gehou tot die 10de, waarna daar op die 11de weer krag gekoop moes word.

Die Zoutpansberger het weens die klagtes besluit om bietjie die somme te gaan maak om uit te vind of daar enige waarheid steek in die bespiegelinge dat die raad meer as die 12.7% verhoging in tariewe geïmplementeer het en ons bevindinge sal as groot verrassing kom vir baie.

Met die intrapslag moet genoem word dat die Makhado Munisipaliteit inderdaad nie die 12.7% verhoging geïmplementeer het nie, maar wel ‘n laer tarief nader aan 10.58% op elk van hul vier “blok” tariewe. Die prys per kWh in Blok 1 (0-50 kWh) was tot einde Junie R1.7272 en vanaf 1 Julie het die prys opgegaan na R1.9099. Soortgelyk het die Blok 2 tarief (51-350 kWh) vanaf R2.2332 per eenheid opgegaan na R2.4694 en die eenheidsprys in Blok 3 (351-600 kWh) van R3.1577 na R3.4919. Verbruikers van meer as 600 kWh per maand (Blok 4) voel veral die knyp, met die eenheidsprys wat vanaf R3.7673 opgegaan het na R4.1659. Al die pryse sluit BTW in.

Daar kan dus met veiligheid gesê word dat die Makhado Munisipaliteit inwoners nie meer vra as die 12.7% verhoging wat hulle aangekondig het nie. Maar dit bly steeds ‘n verhoging, so watter impak het hierdie verhoging op die gewone man op straat? Die antwoord is natuurlik dat jy minder “bang for your buck” kry, oftewel minder eenhede vir dieselfde geld.

In die geval van Bouwer kon hy tot en met Junie 56.1 kWh-eenhede koop vir R100 in Blok 1. Met die nuwe tarief kry hy nou net 51.9 kWh-eenhede vir dieselfde geld. Soos wat sy verbruik in hoër blokke val, kry hy persentasiegewys ook minder kWh-eenhede vir dieselfde geld. As daar gekyk word na sy normale verbruik van sowat R1,600 per maand, betaal hy vanaf Julie sowat R170 meer vir dieselfde hoeveelheid eenhede.

Die gevolgtrekking wat gemaak kan word is dus dat die Makhado Munisipaliteit nie besig is om mense in te doen deur meer te vra as die 12.7%-verhoging wat hulle afgekondig het nie. Wat mense ervaar is die impak van gereelde dubbelsyfer-verhogings en hulle nie besef hoe dit hulle beursies gaan raak nie. Net vir interessantheid het die koerant gaan kyk met hoeveel het die Makhado Munisipaliteit se maandelikse elektrisiteitstariewe aan inwoners gestyg sedert die 2017/18 finansiële jaar. Van toe tot Julie vanjaar het die tarief met ‘n ongelooflike 131.3% gestyg.

 

 
 
 

Viewed: 1113

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT