ADVERTISEMENT:

 

 
 

Daleen Venter en haar man FW. Foto verskaf.

Daleen veg dapper stryd teen nierversaking - publiek kan help

Date: 19 July 2024 By: Pétria de Vaal

“Dit is ‘n wonderwerk dat ek nog leef,” sê Daleen Venter van Louis Trichardt wat tans slegs 6% van die gebruik van haar niere oor het.

Daleen vertel dat ‘n gewone oogtoets by Sanrie du Plessis van SpecSavers uitgeloop het op besoeke aan dokters – op Sanrie se aanbeveling.  “Ek kan haar nie genoeg bedank nie!” sê Daleen. 

Op 15 Desember 2017, op die ouderdom van 42 jaar, is Daleen met nierversaking gediagnoseer. Haar nierfunksie was toe reeds slegs 28%. “Ek het hoë bloeddruk gehad en my niere was as gevolg hiervan nie gesond nie. Al wat ek ná diagnose kon doen, was om bloeddruk-medikasie te gebruik en te sorg dat ek my eetgewoontes verander,” sê Daleen.

Wanneer iemand se niere slegs 15% van hulle funksie oor het, moet die persoon met dialise begin. Daleen vertel dat sy voorheen op ‘n mediese fonds was, maar dit tydens die Covid-19 ramp dit moes kanselleer.

“Gedurende die laaste paar maande het my nierfunksie baie verswak en ek moet so gou as moontlik met dialise begin.” Die spesialis-dokter wat van Tzaneen af kom, kan haar behandel by Crestcare Zoutpansberg. “Ek sal drie keer per week dialise moet kry.  Elke sessie kos ongeveer R2,000 – al die kostes is nog nie hierby ingesluit nie.  Ek is net bly dat dit in Louis Trichardt gedoen kan word en ek nie iewers heen hoef te reis nie!”

Daleen vertel dat ‘n BackaBuddy-veldtog geloods is om te help met fondse vir dialise en gepaardgaande onkostes. “Ons het uitgewerk dat dit ongeveer R500,000 vir die eerste jaar sal beloop. Ek het weer aansoek gedoen vir ‘n mediese fonds, maar, vanweë my situasie sal die fonds eers ná ‘n jaar vir enige uitgawes begin betaal.”

Daleen bevestig dat BackaBuddy self al die fondse administreer. “Ons werk glad nie daarmee nie – hulle betaal diensverskaffers direk. ‘n Besondere woord van dank ook aan diegene wat reeds bydraes gemaak het, asook aan Trali Canvas, Realty 1, vriende en die Yorkie Blad op Facebook,” sê ‘n dankbare Daleen.

Sy noem ook, dat indien enige fondse op BackaBuddy oorbly, sy dit sal skenk aan ‘n ander saak met meriete – om iemand anders te help.

Daleen (née Bouwer) is in Louis Trichardt gebore en woon haar hele lewe lank al hier. Haar ouers is Jan en Anita Bouwer. Sy wil ook graag haar man, FW, en haar drie kinders bedank vir hulle ondersteuning.

Daleen bly moedig en werk steeds elke dag – hoewel sy nie altyd lekker voel nie. Lesers kan na die volgende skakel op die Internet gaan om ‘n bydrae te maak: https://www.backabuddy.co.za/campaign/daleen-venter-kidney-failure.

 

 
 
 

Viewed: 1558

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

McDonald’s Suid-Afrika loods hul “Ken Ons Kos” veldtog

Advertorials: 12 July 2024

McDonald’s Suid-Afrika het ‘n veldtog geloods wat daarop gemik is om verbruikers meer te vertel oor die kwaliteit van hul voedselprodukte, asook die klem wat die maatskappy plaas op volhoubare produksie en etiese werkswyses by verskaffers.

ADVERTISEMENT