ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle André Kock (44). Foto verskaf.

Familie dankbaar vir finale oomblikke saam met André

Date: 11 July 2024 By: Andries van Zyl

Vir die Kock-familie van Louis Trichardt het die nuus van die dood van die 44-jarige André Kock net ná 20:00 Sondagaand as groot skok gekom. André is bietjie meer as ‘n week vantevore in die Tshilidzini Hospitaal opgeneem ná ‘n ernstig motorfietsongeluk.

Die ongeluk waarin André beseer is, het Vrydagmiddag (28 Junie) in Kroghstraat, Louis Trichardt, plaasgevind. Hy het gou met sy motorfiets gery om sy hamburgers, wat hy by die Dopperkuierkafee bestel het, te gaan afhaal. André het vanuit Rissikstraat in Kroghstraat opgedraai toe ‘n aankomende motor skielik voor hom ingedraai het. Hy het weinig kans gehad om te reageer en het die voertuig op die passasiersdeur getref.

André is nadat hy gestabiliseer is na die Tshilidzini Hospitaal oorgeplaas. Aanvanklik is gedink dat sy beserings nie so lewensgevaarlik was nie. Verlede Dinsdag het hy egter asemnood begin ervaar, waarna hy in die hospitaal se hoësorg-eenheid opgeneem is. Hy is onder sedasie geplaas en aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel. Hy sou nooit weer uit dié toestand wakker word nie.

“Ek is dankbaar dat ons Sondag kon deurry en ‘n laaste paar minute nog saam met hom kon spandeer het. Daar is baie dankbaarheid in my hart teenoor die Here daarvoor,” het broer Michael Kock gesê.  

Michael het namens die familie almal bedank wat vir André sedert sy ongeluk gebid het. “Ek moet eerlik wees, die reaksie op ons gebedsversoek was oorweldigend. Dit was groter as wat ons ooit in ons lewens sou kon dink. Ons sê dit aanhoudend vir mekaar: As André geweet het hoeveel mense vir hom met gebed ingetree het, sou hy verbaas gestaan het,” het Michael gesê.

Gebore in Durban het André onder andere daar, by Hoërskool Louis Trichardt en in Randfontein skoolgegaan. Hy het rondom 2008/9 na Louis Trichardt teruggekeer, waarna hy ondermeer by die plaaslike abattoir saam met broer Michael werksaam was. Later was hy by Die Vleismark werksaam en ook by die slaghuis by Fruit & Veg City tot die sluiting van die besigheid. Ten tye van sy dood was hy werksaam by Michael se onderneming, C&M Spice and Packaging.

André het kort ná sy terugkeer na Louis Trichardt sy liefde vir motorfietsry begin uitleef en aangesluit by die Louis Trichardt Roadhogs Motorfietsklub rondom 2012. Hy sou later jare ook optree as vise-president van die klub.

Op ‘n geestelike vlak het André aktief ingeskakel by broer Michael se Huis van Voorsiening evangeliese bediening. “Hy was soos ons regterhand gewees en hy sal gemis word,” het Michael gesê.

Michael het sy broer as ‘n stil mens beskryf. “André was nie ‘n uitgaande persoon nie. Hy het maar tussen ons [familie] en sy huisie beweeg. Dit was sy ‘meng’ gewees. Dit was sy motorfiets, werk toe en kerk toe. Hy was die gelukkigste op sy eie gewees,” het Michael gesê.

Tog het André gemaklik met almal oor die weg gekom. “Hy was ‘n stil mens gewees, maar as hy met mense gepraat het, was hy baie ‘easy-going’ gewees. Ek weet mens praat altyd jou familie goed, maar André was die tipe ou waarmee almal oor die weg gekom het,” het Michael gesê.

'n Roudiens vir wyle André vind Saterdag, 13 Julie, om 11:00 vanuit die AGS Louis Trichardt plaas. Hy word oorleef deur sy twee broers Tobie en Michael Kock, suster Sussie en skoonfamilie.

Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hulle onbaatsugtige hulp en ondersteuning in hulle tyd van hartseer. ‘n Spesiale woord van dank het gegaan aan pastoor Anthony Hees van die PPK en pastoor Evan Corbett van die AGS. Ook El-Shaddai begrafnisondernemers is bedank vir die hulp met reëlings. Die familie het ook hulle opregte dank uitgespreek teenoor die personeel en dokters van die Tshilidzini Hospitaal se hoësorg-eenheid en het hulle diens in dié eenheid as baie goed beskryf. “Die Here seën almal van julle,” het die Kock-familie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1860

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

McDonald’s Suid-Afrika loods hul “Ken Ons Kos” veldtog

Advertorials: 12 July 2024

McDonald’s Suid-Afrika het ‘n veldtog geloods wat daarop gemik is om verbruikers meer te vertel oor die kwaliteit van hul voedselprodukte, asook die klem wat die maatskappy plaas op volhoubare produksie en etiese werkswyses by verskaffers.

ADVERTISEMENT