ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wegholveldbrande het die afgelope week landswyd verwoesting gesaai. Die Soutpansberg het ook nie die skade vrygespring nie. Veral in die Levubu-omgewing is verskeie brande Maandag op verskillende fronte beveg. Die brandbestryders se werk is erg belemmer deur sterk winde. Teen Maandagaand was groot dele van Levubu nog in 'n rooi gloed van vuur gehul, soos in hierdie foto gesien kan word. Foto verskaf.

Brande en koue los spoor van verwoesting

Date: 11 July 2024 By: Andries van Zyl

Hierdie was sekerlik een van die slegste weke in ‘n lang tyd om ‘n boer in Suid-Afrika te wees. Landswyd het talle boere massiewe skade gehad met swartryp, en asof dit nie erg genoeg was nie, is die rypskade opgevolg deur verwoestende brande. Ook die Soutpansberg is nie gespaar nie.

“Sedert die naweek beveg ons ook verskeie vure in die Levubu-omgewing. Die huidige weersomstandighede is uiters bevorderlik vir die verspreiding van wegholveldbrande en mense moet asseblief versigtig wees,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, gesê. Hul stryd teen die veldbrande is erg bemoeilik deur gepaardgaande sterk winde.

“Ek is baie bly die week van koue winde en baie skade is nou verby, met baie genade,” het Havinga Woensdagoggend gesê terwyl hulle nog besig was om bestek op te neem van die skade.

Wat die rypskade betref, het Havinga gesê dat heelwat avokado’s en neute skade gekry het en waarvan die blomme afgebrand is. “Klein boompies het baie seergekry met die koue. So hier en daar het groente wat geplant is ook seergekry, asook piesangs. Die ryp het in Levubu gepla, maar nie so erg soos aan die westekant van die berg nie – Vivo, Alldays, daardie kant toe. Die manne daar het baie ernstige skade gehad met aartappels wat doodgeryp het,” het hy gesê.

Die afgelope week se koue het ook gekom met die verskriklike winde wat gewaai het. “Dit het die brande aangehelp en onmoontlik gemaak om te beheer. Met die Here se genade kan ons egter sê niemand is ernstig beseer of dood met die skade van hierdie brande nie,” het Havinga bygevoeg.

‘n Paar huise het amper in die slag gebly. “Ons het drie huise gehad wat dit so hittete was of hulle het gebrand, maar met die goeie samewerking van die gemeenskap kon ons die brand onder beheer kry en weghou van die huise af,” het Havinga gesê

Wat die brande betref, het groot dele van Levubu, insluitend talle gevestigde boorde, afgebrand en talle neutboere het groot skade gehad. “Die finale syfers moet nog inkom soos ons alles bymekaar maak,” het Havinga gesê. Hy het bevestig dat hulle reeds ‘n skrywe gerig het aan die land se nuwe Minister van Landbou, mnr. John Steenhuisen, om met hom om ‘n tafel te gaan sit en praat oor die skade. “Hy het alreeds erkenning gegee van ons skrywe, so ons hoop dat daar ‘n goeie gesprek daaruit sal kom.”

Havinga het egter gewaarsku dat die ergste dalk nog nie verby is nie. “My gevoel is daar is nog ‘n paar koue fronte op pad. Ons kan nie op ons louere gaan sit en rus nie. Die winter is nog nie verby nie. Die hele Julie en Augustus lê nog voor, met koue winde wat kan kom. So ons moet versigtig wees, die winter kan dalk vir ons nog ‘n uiterste gee.”

Volgens verskeie kenners gaan verbruikers definitief die verwoestende uitwerking wat die afgelope week se swartryp en brande op plase aan hulle sakke voel. “Mense moet verstaan wat nou gaan gebeur, want die publiek sal moontlik nie verstaan wat aangaan nie. Die markte gaan nou oorlaai word. Die boere gaan die groente wat nie te erg beskadig is nie nou oes. Dit sal veroorsaak dat ondergraad groente nou die mark toestroom,” het Havinga gesê.

Volgens Havinga gaan hierdie tydperk van toestroming sowat ‘n week duur, waarna die moeilikheid begin. “Dan het niemand iets om te lewer nie. Dit is dan wat die skok almal gaan tref,” het Havinga gewaarsku.

 

 
 
 

Viewed: 1702

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

McDonald’s Suid-Afrika loods hul “Ken Ons Kos” veldtog

Advertorials: 12 July 2024

McDonald’s Suid-Afrika het ‘n veldtog geloods wat daarop gemik is om verbruikers meer te vertel oor die kwaliteit van hul voedselprodukte, asook die klem wat die maatskappy plaas op volhoubare produksie en etiese werkswyses by verskaffers.

ADVERTISEMENT