ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Wyle Johan de Swardt (65). Foto verskaf.

Johan gaan beslis deur hele gemeenskap gemis word

Date: 21 June 2024 By: Pétria de Vaal

Die skielike heengaan van Johan de Swardt (65) van Musina in die vroeë oggendure van Dinsdag, 11 Junie, was vir sy hele gesin ‘n groot skok.

Johan was ‘n gebore en getoë Bosveldseun wat behalwe vir sy universiteitsdae, sy hele lewe in Musina gewoon het waar hy alombekend was. Hy het sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Eric Louw voltooi waar hy ook hoofseun was, en in hierdie tyd  kompeterend deelgeneem het  in perdrykompetisies waarvoor hy altyd ‘n groot passie gehad het.

Ná universiteit op die destydse RAU het Johan by sy pa, Seun de Swardt,  aangesluit in die motorbedryf by onder andere Messina Toyota en Terblanche (sy oudste seun) sit hierdie tradisie voort met sy eie besigheid naamlik Musina Motors.

Nadat Messina Toyota verkoop is, kon Johan hom toespits op sy  plaas met die teling van sy buffels en ander wild. Hieroor was hy besonder passievol en al vier sy kinders het sy liefde vir die plaas gedeel. Sy seun Christian het by sy pa aangesluit op die plaas met die bestuur daarvan en koop en verkoop van wild.

Johan sal landswyd onthou en gemis word as ‘n man met ‘n oop hand. Hy het sy breë kennis met vrymoedigheid gedeel en het ‘n prominente rol in die gemeenskap gespeel. Hy het vroeër jare gedien as voorsitter van die Messina Sakekamer en was lid van talle wildstudiegroepe, boeregemeenskappe en beheerrade. Hy het ook ‘n onmisbare rol in die bestuur van die Messina Gholfklub gespeel.

Wyle Johan laat sy vrou Trudie, vier kinders (Jeanine, Jenneke, Terblanche en Christian) en sy  drie kleinkinders wat vir hom groot vreugde verskaf het, agter.

(Hierdie is ‘n verkorte weergawe van die artikel wat in die koerant verskyn het op versoek van die familie).

 
 
 

Viewed: 2439

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT