ADVERTISEMENT:

 

 

Find a story:

 
 

Plaaslik het die plasing ook vir ’n opskudding gesorg. Mopaniehout is ’n gewilde hout om mee te braai en vuur te maak en mense was oorbluf om te verneem dat die kap en gebruik van hierdie hout nou “onwettig” is.

Land gons ná arrestasie van man wat 'onwettige' Mopaniehout koop

Date: 30 August 2024 By: Andries van Zyl

‘n Onlangse Facebook-plasing wat mense waarsku om nie sakkies hout langs die R525-pad net buite die Kruger Nasionale Park se Pafuri-hek te koop nie, het die land aan die gons. Die plasing is gemaak deur ’n groep toeriste wat die area besoek het en op pad huis toe gestop het om ’n paar van hierdie sakkies hout te koop, net om deur die weermag gearresteer en hulle voertuig geskut te word omdat die koop van hierdie houtsoort nou blykbaar “onwettig” is.

Die Facebook-plasing het viraal gegaan en is op talle Facebook-groepe gedeel, wat die opspoor van die oorspronklike outeur daarvan moeilik gemaak het. Die persoon noem dat hulle die langnaweek van 8 tot 11 Augustus by die Nthakeni River Camp naby die Pafuri-hek gebly het. Tydens hulle besoek het hulle die area verken en opgemerk hoeveel vuurmaakhout in sakkies langs die pad verkoop word. Die sakkie Mopaniehout is vir slegs R10 ’n sakkie verkoop en hulle het vir die duur van hulle verblyf 10 sakkies gekoop.

Die Sondag toe hulle huiswaarts gekeer het, het hulle weer gestop om ’n paar sakkie van hierdie Mopaniehout te koop. Sowat 10 km verder, toe hulle moes stop om ’n vuil babadoek te ruil, is hulle deur die weermag voorgekeer en meegedeel dat die koop van Mopaniehout langs die pad onwettig is, en dat die Mopanieboom nou ’n beskermde boomspesie is.

Net daar is die bestuurder van die voertuig (die persoon wat die Facebook-plasing gedoen het se seun) onder arres geplaas en gevra om die weermag na die polisiestasie op Masisi te vergesel. Daar aangekom, is die seun se voertuig geskut en is hy beveel om op 13 Augustus in die hof op Masisi te verskyn.

Op 13 Augustus het die seun die staatsaanklaer kort voor die hofverrigtinge ontmoet en gesê dat hy nie geweet het dat die koop van Mopaniehout onwettig is nie en onskuldig pleit. Die aanklaer was egter van mening dat die seun moes besef dat die plaaslike bevolking besig is om die Mopaniebome in die area uit te wis en dat hierdie praktyk gestop moes word. Dit was hoekom hy gearresteer en sy voertuig geskut is. As enigste opsie moes die familie besluit of hulle die R500-skulderkenningsboete sou betaal, of ’n prokureur sou kry om ’n vertoë aan die Staat te rig. Die uiteinde hiervan is nie seker nie, maar die seun kon wel sy voertuig terugkry, alhoewel die Staat sy hout gevat het.

Wat dit betref noem die outeur van die Facebook-plasing dat hulle nou die omvang van die Mopanieboom-ontbossing in die area verstaan en dat hulle pogings om dit te stop ondersteun, maar wou weet waarom niemand daarvan ingelig is nie. Nie eers die bestuurder van Nthakeni River Camp of die Parkeraad het hiervan geweet nie. Meeste mense wat op die Facebook-plasing kommentaar gelewer het, wou ook weet waarom die koper gearresteer is, en nie die mense wat die bomme afkap en die hout verkoop nie.

Plaaslik het die plasing ook vir ’n opskudding gesorg. Mopaniehout is ’n gewilde hout om mee te braai en vuur te maak en mense was oorbluf om te verneem dat die kap en gebruik van hierdie hout nou “onwettig” is.

Van die koerant se kant af is die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se provinsiale kantoor in Polokwane genader om uit te vind of daar wel so ’n saak in die hof op Masisi voorgekom het. Mense weet nooit of so ‘n Facebook-plasing dalk net weer ’n vorm van “vals nuus” is nie.

Inderdaad het die NVG se woordvoerder, me. Mashudu Malabi Dzhangi, bevestig dat daar wel so ’n saak aangemeld is, maar het genoem dat die saak nie op die hofrol geplaas is nie en terugverwys is na hulle kantoor op Polokwane.

Ook die provinsiale polisie is genader vir kommentaar oor die saak, maar teen druktyd is nog geen terugvoer gekry wat kon verduidelik hoe die koop van Mopaniehout nou skielik “onwettig” geword het nie. Wat dit betref het die koerant na die jongste lys van beskermende boomspesies in Suid-Afrika gaan kyk. Die lys is in die Staatskoerant van 13 Maart 2024 gepubliseer, en van die 51 beskermde boomspesies wat op die lys verskyn, is die Mopanieboom, oftewel Colophospermum mopane, beslis nie een nie. Derhalwe geniet die Mopanieboom geen beskermingstatus wat ondermeer die afsny, besit, vervoer of verkoop daarvan onwettig maak nie.

So, waar laat dit nou Jan Alleman as hy met hierdie sakkies hout langs die pad betrap word?

Mnr. André Weideman, hoofaanklaer vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Thohoyandou-streek, het meer lig gewerp op die onsekerheid. Veertien landdroskantore in die streek, insluitend Masisi, val onder sy beheer.

Weideman het gesê dat hulle met die probleem van die grootskaalse uitwissing van Mopaniewoude in landelike gebiede noord van die Soutpansberg sit en dat hulle besef het dat iets gedoen moes word om dit stop te sit. Sowat twee weke gelede het hulle as aanklaers met rolspelers, insluitend die polisie, vergader oor hoe die probleem hokgeslaan kan word, aangesien daar wel wetgewing is wat die oes van inheemse hout reguleer. “Ons het vir mekaar gesê ons moet na die wetgewing kyk en optree, maar nie teen die ouens wat langs die pad ’n sakkie koop nie,” het Weideman gesê.

Kort ná hierdie vergadering het die bom op sosiale media gebars oor die arrestasie.

“Ek dink die ouens interpreteer die ding nie heeltemal reg nie en hulle vang die verkeerde ouens. Die ouens wat gevang moet word, is die ouens wat die bome afkap en die ouens wat die hout in trokvragte wegry,” het Weideman gesê.

Weideman het gesê dat hy begrip het vir die verwarring wat tans bestaan oor die kwessie, maar dat die antwoord op die vraag of die oes en verkoop van Mopaniehout wettig is of nie, nie so eenvoudig is nie. “Ek kan nie vir jou sê dit is wettig of onwettig nie. Daar is meer as een wet eintlik van toepassing. Dit is nie net Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (LEDET) se Limpopo Omgewingsbestuurswet (Wet 7 van 2003 ) nie. Daar is ook die Nasionale Wet op Bosse (Wet 84 van 1998),” het Weideman gesê.

Wat dit betref sal hulle binnekort ’n opvolg-vergadering belê. “Daar moet ’n opvolg-vergadering wees tussen al die rolspelers. Dit gaan insluit LEDET, die polisie, die weermag, die Nasionale Vervolgingsgesag en ander … Ons almal wil graag riglyne hê wat verstaanbaar is oor hoe ons die wet moet toepas,” het Weideman gesê.

Weideman het ter afsluiting gesê dat hulle sal kyk na die sake waar mense gearresteer is, soos bogenoemde voorval. “Wat ek gevra het is, indien daar sake is, moet ons kyk na alle sake, sodat ons elke geval individueel beoordeel. Onthou, dit kan gebeur dat ’n persoon in terme van die verkeerde wetgewing aangekla is, wat onregverdig teenoor ’n mens is, want nou sit jy met ’n vorige veroordeling. Hierdie goed moet ons nou op spesiale hersiening stuur,” het Weideman gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1407

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT