ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) op Louis Trichardt se jaarlikse gholfdag het op Saterdag, 21 September, by die Soutpansberg Gholfklub plaasgevind te midde van die bittere koue en nat weer. Die algehele wenners van dié vierbal was die span bestaande uit Flappies Labuschagne, Marius Mostert, Johan Cronjé en Jandré Cronjé met ‘n telling van 110 vierbal-punte. Afgeneem tydens die prysuitdeling is (van links na regs) Flappies, Marius, Johan, Chantel Steyn (plaaslike CMR maatskaplike werker) en die AGS Louis Trichardt se pastoor Evan CorbettJandré was afwesig tydens die neem van die foto. Foto verskaf.

Te midde van koue en min spelers oortref CMR gholfdag verwagtinge

Date: 26 September 2024 By: Andries van Zyl

Die CMR Sentrum van Hoop op Louis Trichardt het op Saterdag, 21 September, ‘n suksesvolle gholfdag aangebied. Te midde van die bittere koue weer - volgens baie die koudste dag van die jaar sover nog - het 16 spelers die elemente getrotseer en met oorgawe gespeel.

 “Wow!” Dit is hoe maatskaplike werker Chantel Steyn die dag beskryf het. “Ek het die uiterste respek vir die spelers, die Remax-personeel en Brendan Halewood, die verteenwoordiger van Buffelsfontein Brandewyn in Polokwane, wat 'Brink se Gat' ondanks die gure weer bestuur het,” het Steyn gesê.

Ondanks die min spelers het Steyn gesê dit was steeds ’n suksesvolle dag gewees. “CMR Louis Trichardt het nie net die verwagte doelwit bereik nie, maar dit selfs oortref. Die fondse wat ingesamel is, word vir die Red ’n Kind-projek, wat in 2000 gestig is, gebruik,” het Steyn gesê.

Volgens Steyn is hulpbronne in Louis Trichardt beperk. “Dit is baie duur om kinders deur professionele mense in die omgewing te laat assesseer. Die fondse wat gewerf is, sal hiervoor aangewend word en materiële ondersteuning aan kwesbare gesinne voorsien. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van Pastoor Evan Corbett (voorsitter van CMR Louis Trichardt se beheerraad), personeel en vrywilligers," het Steyn gesê.

Wat die dag se sukses betref, het die CMR Louis Trichardt hul opregte dank en waardering uitgespreek teenoor elke speler, borg en die gemeenskap in geheel wat hulle ondersteun het en gehelp het om kinders en kwesbare gesinne te help. Hulle het ook die vier maatskappye bedank wat elke ‘n putjie geborg het, naamlik Makhado Beer Distributors, Vhavenda Bricks, Aloe Bricks en Isuzu/Honda. Steyn het ook ’n  spesiale woord van dank gerig aan Johan Cronjé, Arie Steyn, Piet Smit, Pieter Schlesinger, Brink Schlesinger, Pezulu Tree House Lodge en Marius Mostert. “Die veiling was ’n groot sukses en die gholfklub-personeel en die Boer Roer Kombuis het 'n groot bydrae gelewer tot die genotvolle aand,” het Steyn gesê.

Die CMR se visie is om hoop te gee aan mense in nood. Hul fokus is op kinderbeskerming, gesinsbewaring, gemeenskapsontwikkeling en armoedeverligting. Hul missie is om ’n organisasie te wees wat uniek geposisioneer is om markverwante maatskaplike dienste te verskaf en is gefokus op gesinne en gemeenskappe wat hulp benodig. Die publiek word uitgenooi om hulle in hulle visie en missie te ondersteun deur finansieel by te dra. Inbetalings kan gemaak word in die naam van Christelik Maatskaplike Raad, ABSA-tjekrekening met rekeningnommer 1000230029.

“Aan ons spelers, hul gades, kinders en borge - mag God elkeen van julle oorvloedig seën, en mag julle harte oop bly om ons in hierdie belangrike saak te ondersteun. Ons is dankbaar vir elkeen van julle,” het Steyn gesê.

Vir meer inligting oor die CMR Louis Trichardt, skakel Steyn by tel. (082) 644-9296 of stuur ‘n e-pos aan haar na [email protected].

 

 
 
 

Viewed: 339

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT