ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Koud, nat en modderig. Dit, in kort, het Saterdag, 21 September, se SA Rugby Gold Cup-wedstryd tussen Louis Trichardt se eerste rugbyspan en Bloemfontein Polisie opgesom. Louis Trichardt, wat tuisveldvoordeel geniet het, het geskiedenis gemaak om deur te dring na die Top-16 ronde van dié nasionale toernooi deur Bloemfontein Polisie oortuigend 48-23 te klop. Eerskomende Saterdag, 28 September, geniet Louis Trichardt weer tuisveldvoordeel wanneer hulle om 15:00 teen Secunda Rugbyklub uitdraf. Lees meer hieroor op p.2. Afgeneem is Louis Trichardt se agsteman, Ruan Scheepers, op die aanval met die bal teen Bloemfontein Polisie. Agter hom, van links na regs, is Louis Trichardt vaskopstut Werner Denner, linkerflank en Louis Trichardt kaptein Danie Mienie en regterflank Solly Mukhuthu.

Blou Masjien herskryf geskiedenisboeke

Date: 27 September 2024 By: Andries van Zyl

Naweek ná naweek is die Louis Trichardt Rugbyklub se eerste span besig om die geskiedenisboeke te herskryf. Die span het die afgelope naweek nog ’n nuwe hoofstuk in die klub se geskiedenis geskryf toe hulle deurgedring het na die tweede ronde wedstryde van SA Rugby se landswye Gold Cup toernooi.

As onoorwonne provinsiale ligawenners het die dorp se eerstes, ook bekend as die Blou Masjien, vir hulself op meriete ’n plek verseker in die Gold Cup reeks, met hul eerste wedstryd teen Bloemfontein Polisie wat op Saterdag, 21 September, op die klub se tuisveld beslis is.

Saterdag se gure weer en bittere koue het spel moeilik gemaak vir beide die tuisspan en die besoekers. Die weer het ook sy tol geëis op die hoeveelheid toeskouers wat die wedstryd kom bywoon het. Die wat eerder by die huis gebly het, het egter ’n ware skouspel van plaaslike rugby misgeloop.

Bloem Polisie was vroeg in die wedstryd voor op die telbord met ’n verdoelde drie, maar het net hulself te blameer toe hulle met ’n strafdrie teen Louis Trichardt gepenaliseer is. Van daar af het Louis Trichardt in Bloemfontein Polisie se halfgebied geboer en deurlopend druk toegepas. Teen halftyd was die telling 24-16 in Louis Trichardt se guns, maar in die tweede helfte was dit redelik eenrigtingverkeer doellyn toe vir Louis Trichardt, en met die blaas van die eindfluitjie was die telling 48-23 in die Blou Masjien se guns. Die dorp se puntemakers was Rasenge Kubayi, wat twee keer agter Bloem Polisie se doellyn gaan kuier het, terwyl spanmaats Werner Denner, Justin Hugo, Drickus Nel, Louis Fourie en Ali Sefole elk een drie gedruk het. Skopper Louis Fourie was ook suksesvol met die skopskoen en het vier doelskoppe en een strafskop deur die pale gesit.

Louis Trichardt se wen die afgelope naweek het vir ’n paar groter klubspanne in die reeks as ietwat van ’n verrassing gekom. Louis Trichardt vorm nou deel van die Top-16 spanne wat deurdring na die tweede ronde van die reeks en sal eerskomende Saterdag, 28 September, weer tuisveldvoordeel geniet teen Secunda Rugbyklub. * Dit volg nadat Randfontein Woensdagmiddag uit die Gold Cup gediskwalifiseer is. Louis Trichardt sou teen hulle gespeel het.

“Ek dink partykeer kyk hulle die span van Louis Trichardt maar bietjie vlak. Maar ons is nie so vlak nie. Ons sit met baie diepte en goeie afrigting,” het klubvoorsitter Brian du Plooy gesê.

Wat dit betref, het hy gesê hy is ongelooflik trots op al die spelers en die klub se afrigters. “Dit is ’n mylpaal wat ons bereik het. Ons is een van ses spanne van die Limpopo Blou Bulle wat die naweek gaan speel. Dit is werklik ’n prestasie om soveel spanne uit die Carlton-liga teen mekaar te sien speel,” het Du Plooy gesê. Uit die Top-16 oorblywende spanne beklee Louis Trichardt ’n vyfde plek op die punteleer op punteverskil. Die Northam Rhinos is eerste, Centurion Rugbyklub tweede, Naka Bulle derde en Northam Wolves vierde.

Oor die vooruitsigte vir Saterdag se kragmeting (wat Randfontein sou wees) is Du Plooy baie optimisties. “Ons spelers doen bo-gemiddeld baie goed, want ons het lank aan hierdie span gebou, vanaf Covid-tyd. Ons is op ’n hoogtepunt in hierdie stadium en ons wil graag die gemeenskap die naweek daar hê om ons te ondersteun. Ek is seker ons kan onsself nog ’n trappie verder vat in die reeks,” het Du Plooy bygevoeg.

Wat die afgelope naweek se wen oor Bloem Polisie betref, het kaptein Danie Mienie gesê dit was vir hom ’n ongelooflike ervaring. “Vir die span was dit ’n groot oomblik, want ons is besig om geskiedenis te maak. Dit is vir ons ’n eer om deel van só ’n span te wees. Die ouens besef dit en is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle uit die gemeenskap ontvang. Ons waardeer dit baie,” het Mienie gesê.

Volgens Mienie het hulle baie om voor te speel die naweek. “Die ouens van die stad onderskat Louis Trichardt se span. Ons ouens is besig om ‘golwe’ te maak, en as ons hierdie naweek wen, is ons onder die top agt spanne. So, ons het baie om voor te speel,” het Mienie gesê.

Ook Mienie is optimisties oor sy verwagting oor Saterdag se wedstryd. “As ek so na die manne se gesindheid kyk, gaan Saterdag se wedstryd ’n goeie een wees om te kom kyk. Ek glo ons sal hom deurtrek,” het Mienie gesê. Dit, volgens Mienie, kan egter net gebeur met die gemeenskap se ondersteuning. “Ons het al die ondersteuning nodig wat ons kan kry,” het Mienie gesê.

Saterdag, 28 September, se wedstryd teen Secunda Rugbyklub skop om 15:00 af. Toegang by die hek beloop R40 per voertuig of R10 per inloop-toeskouer. Versnaperinge en ’n kontantkroeg sal beskikbaar wees. Almal word hartlik uitgenooi om Louis Trichardt se Blou Masjien te kom ondersteun.

 

 
 
 

Viewed: 367

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT