ADVERTISEMENT:

 

 
 

Erna Prinsloo is Maandag in die ouderdom van 83 jaar oorlede. Foto verskaf.

Legende in onderwys, Erna Prinsloo (83), oorlede.

Date: 14 June 2024 By: Pétria de Vaal

“My kind, jy moet leef en laat leef,” het wyle Erna Prinsloo graag gesê. Erna (née Grobler), is Maandag (10 Junie) in die ouderdom van 83 jaar oorlede. Inwoners sal haar onthou as ‘n onderwyseres in murg en been en sy het veral hulpklasse help vestig en uitbou – om maar een van die “monumente” te noem wat hierdie merkwaardige dame nalaat.

Erna se kleinseun, Jandré van Jaarsveldt, vertel dat sy grootouers jarelange bekendes in die omgewing was. “My ouma het seker vir ongeveer 50 jaar skoolgehou.  Sy is op 9 September 1940 gebore.  As ek reg onthou, het sy tot so vyf jaar gelede steeds kinders gehelp wat hulp nodig gehad het met byvoorbeeld huiswerk. Ouma Erna kom uit ‘n familie met ‘n geskiedenis van rumatiek en kon die laaste ruk nie meer lank sit nie. Haar gesondheid het stelselmatig agteruitgegaan.”

Jan en Erna Prinsloo het in die Levubu-omgewing geboer.  In daardie tyd was Erna ook onderwyseres by Levubu Laerskool. Sy is later na Laerskool Louis Trichardt, toe Jan (oorlede op 24 Januarie 2004), betrokke was by die plaaslike kommando en ook belange in verskeie besighede in die dorp gehad het. Die bekendste hiervan is sekerlik LTT Brake & Clutch.

“Om oor my ouma Erna te praat is moeilik – daar is só baie om te sê. Sy was ‘n besondere dinamiese vrou. Behalwe vir alles wat sy in die onderwys gedoen en bereik het, het sy haar volle gewig ingegooi met kerklike bedrywighede – eers by NG Kerk Soutpansberg en ná my oupa se dood, by die Haantjiekerk. Sy het op ‘n stadium selfs elke tweede Sondag aan gevangenes ‘n boodskap gebring.”

Eertydse kollegas Kobus en Sussa Ehlers was goed met Erna bevriend en het haar onderskeidelik in 1981 en 1983 leer ken. Kobus het in ‘n huldeblyk die volgende geskryf: “Erna was nie net 'n yster nie, sy was van staal. Sy was een van die baanbrekers in die land - nie net in Transvaal nie - wat hulpklasse help vestig het en hulpklaskursusse aangebied het. Sy het soos al die ouer onderwysers net met ‘n drie-jaar diploma begin skoolhou. Sy het haar vierde jaar deeltyds gedoen en daarna die ‘Minimale Breindisfunksie Diploma’. Sy het in alles onderskeidings behaal.”

Kobus vervolg: “Ek onthou toe daar ‘n nuwe inspekteur vir Hulp- en Spesiale klasse aangestel is, het hy vir 'n maand lank by Erna in die klas kom sit. Sy was die een om hom in hulpklasse op te lei.  Sy kon ál die breinfunksies en -dele met hul mediese terme soos 'n dokter uit haar kop aanhaal. Daardie jaar was sy boonop graadleier van Graad 2 en in beheer van die konsert. Die inspekteur kon nie glo hoe sy al die balle in die lug kon hou en met hulle toor nie. Erna was een van die eerste personeellede wat drie merietes gehad het. Sy was ‘n groot voorbeeld vir ons jonges. Ek het haar altyd geterg en gevra of sy nie vir my van haar SALUSA 99 in plaas van SALUSA 45 het nie.”

Erna was vir meer as 10 jaar afrigter en skeidsregter by Verre Noord en SA Netbal. Te midde van haar besige program het Erna eers haar ma en later haar pa tuis versorg en verpleeg. Sy het ‘n Kode 10 swaarvoertuig bestuurslisensie gehad. “Jan, haar man, het my vertel hoe sy die skoolbus vanaf Entabeni na Levubu bestuur het toe sy nog op Levubu skoolgehou het, 'n uiters gevaarlike pad - veral in reënweer. In hulle jonger dae het die egpaar selfs provinsiaal jukskei gespeel. Erna was destyds in Londen (2005) toe die ondergrondse treinbomme ontplof het.  Met dié dat die openbare vervoer toe heeltemal ontwrig was, het Erna nie geskroom om nagenoeg 17km te stap nie. Sy het kort voor hierdie gebeurtenis ‘n knievervanging gehad,” vertel Kobus.

Wat sy ook al gedoen het, het sy voluit en met onderskeiding gedoen. Sy het selfs as vrywilliger by die kommando aangesluit en die “Trauma Ops Medic” kursus gedoen. Skoolvakansies is opgeoffer om by Baragwanath en Sebokeng haar prakties te doen. “Dáár het sy baie mense se lewens gedurende die onlustye gered. Sy was nie bang nie. Tóg was sy iemand wat nie te koop geloop het met wat sy kon doen en al gedoen het nie. Sy was plat op die aarde. Wát 'n voorreg om haar te kon ken. Voorwaar - klein botteltjie, Groot Woema. RUS IN VREDE, Erna, Jy was 'n ster,” sluit Kobus af.

Ten tye van publikasie was begrafnisreëlings nog nie bekend nie.  Erna laat haar twee dogters, Hesta Becker en Mariëtte Hoffmann, agter, asook haar twee kleinseuns, Jandré en Christiaan van Jaarsveldt (Hesta se seuns).

 

 
 
 

Viewed: 1319

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT