ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 70-jarige Coenie Burger en kleinseun Conrad. Conrad was bo-op die wildsleepwa toe sy oupa deur die buffel gegaffel is en het dadelik afgespring om te help. Foto verskaf.

Buffel gaffel bekende sakeman

Date: 07 June 2024 By: Andries van Zyl

Alhoewel hy later sekerlik ‘n goeie kampvuurstorie daaroor sal kan vertel, is die 70-jarige Coenie Burger van Louis Trichardt net dankbaar hy kon redelik ongeskonde wegstap van ‘n buffelaanval wat Vrydagmiddag, 31 Mei, so byna sy lewe geëis het

Coenie-hulle was dié betrokke dag omstreeks 14:00 besig om ‘n vriend in die Malaladrift-omgewing noord van die Soutpansberg te help om buffels van een kamp na ‘n ander te skuif.

Terwyl hulle besig was om van die buffels af te laai, was een koei buitengewoon befoeterd. Sy het nie soos die ander buffels kop eerste van die wildsleepwa afgestap nie, maar agteruit afgestap. In daardie stadium het Coenie aan die voorkant van die sleepwa by die disselboom gestaan.

“Die buffelkoei het net so een snork gegee en toe kom sy vir my!” het Coenie Maandag aan die koerant vertel.

In ‘n poging om uit die aanstormende buffelkoei se pad te kom, het Coenie links oor die sleepwa se disselboom probeer spring. “Gelukkig het ek gedraai, anders het sy my reg van voor gegaffel. Sy het my met haar horing hier onder by my lies tot by my maag gehaak. Toe gooi sy my bo-oor die disselboom,” het Coenie gesê. Hyself weeg digby 130 kg.

In daardie stadium was Coenie se kleinseun, Conrad, bo-op die sleepwa besig om te help om die buffels af te jaag. “Conrad het vir my gesê: ‘Oupa! Toe ek sien, toe kom oupa se voete en bene hier verby my! Toe weet ek hier is moeilikheid’. Dit is toe wat hy afspring om my te help,” het Coenie gesê. Gelukkig het die buffel intussen die hasepad gekies.

Vriende Tappies du Toit en Francois Robberts was ook daar om te help met die buffels. Francois het sommer sy hoed afgeruk en dadelik drukking op die gapende wond begin toepas. Inderhaas is Coenie in ‘n voertuig gesit, met Conrad wat hom deurgejaag het Louis Trichardt toe. Coenie het ook sy seun, CW, geskakel en dié het hulle halfpad ontmoet naby die Baobab Tolplaza. Hier is Coenie oorgelaai in CW se voertuig en gehaas na die Crestcare Zoutpansberg Privaathospitaal op Louis Trichardt, waar medici vir hulle gewag het. Om 20:30 is Coenie in die teater ingestoot.

“Ons dank die liewe Here dat sy niks organe getref het nie! Die spesialis het gesê daar waar die horing in is, kon hy sy hand indruk om te voel wat alles beskadig is. Van die senuwees en spiere kon hy heg,” het Coenie gesê.

Glo dit of nie, maar Coenie is Maandag uit die hospitaal ontslaan en is dadelik weer saam met sy vrou Lenie terug plaas toe. “Ek sit nou nog met ‘n dreineringspyp in my, maar elke keer as ek dink aan wat gebeur het, sê ek net dankie Here!” het Coenie gesê.

Hierdie was nie die eerste keer dat Coenie “koppe gestamp het” met die plaaslike natuurlewe nie. In Januarie 2003 het die Zoutpansberger berig oor Coenie en jagmaat Jan Opperman se onderonsie met ‘n “dooie” koedoebul. Die twee het teen sterk skemer een middag op ‘n plaas naby Bokmakierie ‘n allemintige uitgegroeide koedoebul in digte bosse gewaar. Net die koedoe se kop was sigbaar en Coenie het besluit om sommer die bul in die kop te skiet. 'n Kopskoot sou die minste verlies aan bewerkbare vleis beteken.

Met die knal van die skoot het die koedoebul in sy spore inmekaar gesak. Die twee mans het toe van hul voertuig afgeklim en na die koedoe begin stap - sonder die geweer. By die koedoe het Coenie eers aan een van sy pote gestamp om seker te maak dat hy dood is en geen reaksie gekry nie. Een van die bul se horings het langs hom gelê, maar die horing het gelyk asof dit afgebreek het op die punt waar die patroon by die bul se skedel uit is. Coenie het toe sy mes uitgehaal om die bul keelaf te sny, maar min was hy en Jan egter voorbereid vir wat volgende gebeur het.

Toe Coenie se mespunt deur die bul se nekvel druk, het die koedoe skielik begin regop kom. Tyd vir omdraai en weghardloop was daar nie, en beide Coenie en Jan het die bul vasgegryp – Coenie om die nek en Jan om die boude.

Die bul het regop gesteier, weer inmekaar gesak en toe weer regop gekom. Daarna het hy vir sowat 10 minute lank die wêreld omgeploeg, met Coenie en Jan wat moes klou vir al wat hul werd is. Die koedoe het later weer inmekaar gesak en na 'n rukkie se rus, het Coenie weer probeer om hom keelaf te sny, dié keer met sukses.

Ná die worsteling met die koedoe het Coenie gemerk dat hy nooit die bul se kop raakgeskiet het nie. Die koeël het die bok se een horing getref en hom net tydelik buite aksie geslaan. Beide Coenie en Jan het maar ietwat sleg van die hele petalje afgekom, met heelwat blou kolle oor omtrent hulle hele lyf.

“CW het vir my gesê: ‘Pa, jy moet nou ophou, jou beskermengeltjies raak min!’” het Coenie grappenderwys opgemerk ná Vrydag se noue ontkoming met die buffelkoei. Hy besef dat hy baie gelukkig was om redelik “ongeskonde” van die voorval weg te stap.

“Ek sê vir jou, dit was nie lekker nie! Ek het gevoel hoe gaan daardie horing hier by my maag in, al langs die slagaar en blaas af. Al my ingewande en maag het sy gemis! Dit was absoluut maar net ‘n wonderwerk ... dit was die meeste wat ek in ‘n uur gebid het in my hele lewe! Dank die Vader dit is alles reg,” het Coenie gesê.

Van die koerant se gereelde lesers sal heel moontlik onthou van nog ‘n plaaslike inwoner wat redelik onlangs deur ‘n buffel gegaffel is en dit oorleef het. Op 5 April 2019 is die toe 39-jarige Bossie Mostert van Limpopo Big Game Safaris deur ‘n gekweste buffelbul op ‘n plaas in die Waterpoort-omgewing aangeval. Die buffel is deur ‘n kliënt gekwes en in daardie stadium was Bossie al vier dae op sy spoor. Die buffel het Bossie se regterbeen bokant die knie oopgeruk, asook sy sy deurboor en van sy ribbes na buite gebreek. Te midde van al die skade het die buffel ook in hierdie aanval alle belangrike organe en slagare gemis. Dié betrokke buffelbul is ‘n dag later die finale doodskoot gegee.

“Die spesialis en dr. Fred Badenhorst het vir my gesê hulle weet net van my en Bossie wat sulke buffelaanvalle oorleef het,” het ‘n dankbare Coenie gesê. Wat dit betref het hy mense gewaarsku om nie te gemaklik te raak met buffels nie. “Op die ou einde bly dit ‘n wilde dier. Wat gebeur het, het met ‘n doel gebeur. Ons het ook buffels op ons plaas en mens raak gemaklik met hulle. Jy gooi vir hulle lusern uit en voer hulle. Jy dink nooit oor hoe vinnig hy jou kan gaffel en jou die lug in gooi nie – in sekondes!” het Coenie gesê. Coenie sou ná die tyd hoor dat die buffelkoei wat hom gegaffel het een van twee was wat saam-saam befoeterd van die sleepwa afgeklim het. Die ander een het een van die bakkies se spieëls afgehardloop asook die modderskerm ‘n paar duike gegee voordat sy die bosse in is.

Coenie het sy dank uitgespreek teenoor sy kleinseun Conrad, Tappies, Francois, CW en die personeel van die Crestcare Zoutpansberg Privaathospitaal, asook almal wat vir hom gebid, gebel of boodskappe gestuur het. “Dit word opreg waardeer,” het Coenie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2295

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT